Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Academy’ in LA nooi Slater en Omotoso as lede

Die Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprentregisseur Karin Slater en die Nigeries Suid-Afrikaanse regisseur Akin Omotoso is genooi om lede te word van die Academy of Motion Picture Arts and Sciences, wat jaarliks die Oscars in Los Angeles toeken.

Karin Slater tydens die verfilming van “Sisters of the Wilderness”.

Vanjaar is 819 kunstenaars en rolprentlui van 68 lande genooi om lede te word, luidens oscars.org. As almal hul uitnodigings aanvaar, sal dit die ledetal op 9 412 te staan bring.

“Ek is oorstelp, ek het so pas gehoor, maar weet nog nie wat dit beteken nie. Dit was ’n lang pad en dit is wonderlik dat my werk internasionaal erken word,” het Slater gesê.

Die akademie het die afgelope paar jaar weens die swak verteenwoordiging van mense van kleur en van vroue onder skoot gekom. Nie net in die akademie nie, maar ook onder die benoemdes en die wenners. Dit is as “ ’n akademie van wit mans” beskou.

In 2016 het die akademie onderneem om die ongelykhede reg te stel en teen vanjaar onder meer die lidmaatskap van vroue en mense uit gemeenskappe wat swak verteenwoordig word te verdubbel. Op die lys wat pas bekend gemaak is, is 36% deel van dié gemeenskappe wat swak verteenwoordig word en 45% is vroue.

Akin Omotoso Foto: Witness Media

Akteurs maak 49% van die akademie uit. Die akademie werk voorts aan ’n nuwe diversiteitsprojek vir die volgende vyf jaar, wat as Aperture 2025 bekend staan. Daarvolgens word Hollywood-vervaardigers en ander besluitnemers genoodsaak om standaarde vir inklusiwiteit te volg, anders sal hul flieks nie vir Oscars in aanmerking kom nie.

Slater het bekendheid vir die natuurlewe-rolprente Sisters of the Wilderness en The Meaning of the Buffalo verwerf. Haar flieks is wyd op internasionale rolprentfeeste vertoon. Sisters is op die internasionale rolprentfees in Durban as die beste Suid-Afrikaanse dokkie aangewys. Dit speel af in die iMfolozi-wildernisgebied en volg vyf jong Zoeloevroue, wat ’n tyd in die gebied deurbring en leer om te oorleef. Dit bied insae in die bedreiging van die natuurlewe en fokus ook op vroue se kwesbaarheid in die samelewing.

Omotoso, wat in Nigerië gebore is maar in Suid-Afrika sy studie en eerste rolprente voltooi het, is op sy beurt bekend om prente soos Vaya, en die romantiese komedie Tell Me Sweet Something. Vaya het aan hom die Africa Academy-prys vir regie besorg en is ook wyd oorsee op feeste vertoon. Dit volg die lewe van drie jong Suid-Afrikaners wat in die hoop op ’n beter lewe na Johannesburg reis.

Hy het vroeër vanjaar ’n kontrak met die stromingsdiens Netflix losgeslaan om ’n reeks in Nigerië te verfilm.

Ander Suid-Afrikaanse lede van die akademie is die vervaardigers Anant Singh en Steven Markovitz, asook die talentagent Moonyeenn Lee.

* Die Oscars is weens die Covid-19-pandemie van 28 Februarie volgende jaar tot 25 April uitgestel.

Meer oor:  Akin Omotoso  |  Oscars  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.