Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Afrika se oudste fliekfees is 40

Vanjaar vier Afrika se oudste rolprentfees, die internasionale rolprentfees in Durban (DIFF), sy 40ste verjaardag.

Die fees, wat van 18 tot 28 Julie duur, word jaarliks deur die Universiteit van KwaZulu-Natal se Centre for Creative Arts aangebied.

’n Toneel uit Maynard Kraak se Bhai’s Corner Cafe, wat die fees op 27 Julie afsluit.

Lliane Loots, die waarnemende direkteur van die sentrum, het dié mylpaal-verjaarsdag as ’n bewys van die krag van die rolprentkuns as “die gewete van nasies” beskryf.

In haar inleiding tot die feesboekie skryf sy dat vanjaar se fokus van die fees op “dekolonisering” is, dat dít wat plaaslik is op die fees vereer gaan word en dat die DIFF “ ’n plek is wat die Nigeriese skrywer Ngugi wa Thiong’o ’n kulturele bom noem – daar waar rolprente wat krities is oor die samelewing gevier word as ’n wapen teen vergeet”.

Die fees open op 18 Julie met die rolprentmaker Jahmil X.T. Qubeka se boksprent Knuckle City, wat afspeel in die Mdantsane-township naby Oos-Londen. Dit handel oor Dudu, ’n vuisvoos-bokser, wat al sy kragte saamsnoer vir ’n geveg wat hy glo sy gesin weer sal saamtrek.

Hy roep die hulp in van sy rampokker-broer, wat weldra blyk die verkeerde besluit te wees. Albei broers word geteister deur herinneringe aan hul vader – dit word gou duidelik dat die geveg in die kryt niks is in vergelyking met wat Dudu nou moet trotseer nie. Die prent is in Xhosa met Engelse byskrifte. Qubeka se noir-riller Of Good Report is in 2013 deur die regering op die fees verban “weens suggestiewe inhoud” en die verbod is later opgehef.

Die fees word op 27 Julie afgesluit met Bhai’s Corner Cafe. Die prent handel oor die Suid-Afrikaanse verskynsel van die hoekkafee – in dié geval ’n kafee wat vir meer as 40 jaar in Wynberg sake gedoen het. Magan Patel is die kafee-eienaar wat kragte meet met ’n eiendomsontwikkelaar wie se aanbod ’n hele gemeenskap uitmekaar kan laat spat. Dan moet Magan ’n besluit neem. Dié prent deur die regisseur Maynard Kraak verbind verskeie Suid-Afrikaanse kulture om ’n verhaal te vertel wat die hart laat smelt, beloof die feesorganiseerders.

Vier Suid-Afrikaanse prente ding in ’n kompetisie mee saam met die jongste prente uit lande soos Frankryk, Kanada, Switserland, Brasilië, Italië en China.

Moneoa Moshesh en Richard Lukunku vertolk die hoofrolle in Back of the Moon.

Die prente wedywer vir pryse vir onder meer beste rolprent, regie en draaiboek asook akteur en aktrise.

Die prente is Back of the Moon van Angus Gibson, ’n prent wat afspeel in 1958 in Sophiatown net voordat dit deur die regering gesloop is; die liefdesdramaLove Runs Out van Roger Young, wat wentel om drie Kaapse vriende in ’n verwikkelde verhouding; die boksprent Knuckle City van Qubeka; en Letters of Hopevan Vusi Africa, wat handel oor die 16-jarige Jeremiah wat ná sy pa se dood agterkom sy posman-pa het ’n dubbele lewe gelei in apartheid-Suid-Afrika.

Onder die dokkies in die kompetisie tel Suid-Afrika se Buddha in Africa van Nicole Schafer, Jeremiah Mosese van Lesotho se Mother, I Am Suffocating en The Sound of Masksvan Sara CF Gouveia. Dié drie ding mee met prente uit onder meer die VSA, Swede en Denemarke.

Die Durban Filmmart, wat saam met DIFF, die Durban Film Office en die eThekwini-munisipaliteit aangebied word, vier vanjaar ook ’n mylpaal. Die tiende mark duur van 19 tot 22 Julie en het ten doel om die plaaslike bedryf te ontwikkel met unieke Afrika-inhoud, asook om ’n ruimte te skep om bande te smee. Paneelbesprekings asook slypskole deur plaaslike en internasionale rolprentlui is in die vooruitsig.

Voorts word die 12de Talents Durban aangebied. Dit bestaan uit ’n vyfdaagse ontwikkelingsprogram van slypskole en meesterklasse vir opkomende jong rolprentmakers van Afrika. Daar is vanjaar 15 deelnemers van oor die vasteland.

Meer oor:  Durban  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.