Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Afspraakverkragting kom onder die loep

Nicola Hanekom vang jou altyd onkant. Haar teaterproduksies is soos sprokies, maar altyd met ’n voet stewig in die werklikheid.

Kevin begin Liegh (Meghan Oberholzer) in die klub verlei.

Haar verbeelding is verstommend. Net sy kan jou verras met ’n groot swart perd wat oor ’n verlate vlakte verskyn, ’n toneelstuk in ’n begraafplaas, ’n ander een in ’n swembad, in ’n bus en in die binnekring van ’n paartjie wat met onvrugbaarheid worstel. Soms is daar bloed, ’n suggestie van geweld en jou eie ontstellende nabetragting.

Haar eerste rolprent (skrywer en regisseur) Cut-Out Girls, staan met sy voete stewig in die werklikheid.

Die prooi is ses vroue. Die jagters is twee jong, aantreklike en sportiewe mans. Hulle speel saam tennis maar dit bly nie daarby nie.

Kevin (Cody Mountain) betrek sy spanmaat Mike (Joel Rosenblatt) by ’n heel ander spel. Hulle identifiseer vroue, bedwelm hulle en dan volg die grootste wandaad van alles. Albei is in gevestigde verhoudings met aantreklike, intelligente vroue. Kevin se Jenna (Keziah Gabriel) studeer regte en Mike se Gilly (Chloe Papademetriou) is ’n sielkundige.

Kevin (Codie Mountain) en Mike (Joel Rosenblatt) op die strand.

Hanekom vertel dat die rolprent gevolg het uit wat as verhoogstuk, Girls just Wanna have Fun, gespruit het. Dieselfde akteurs in die toneelstuk vertolk die rolle in die rolprent. Hulle was haar studente by Act Cape Town waar akteurs opgelei word vir rolprentwerk.

“Ek het besluit om nie te veel (geweld) te wys nie. Dit gaan vir my veral oor hoe die trauma die vroue beïnvloed en almal betrokke se lewe verander. Miskien sou ’n man die storie anders vertel het, ek weet nie. Dis ook so dat mans en vroue anders na die gebeure kyk.”

Tog is daar geen oomblik se twyfel oor presies hoe die vroue verneder en ontmagtig word nie.

Volgens haar man, Grant Swanby, wat ook die vervaardiger is, het hulle van afspraakverkragting in ’n plaaslike koerant gelees.

“Dis ontstellend om te weet dat dit sommer hier in die voorstedelike woongebiede soos Bloubergstrand en Table View gebeur,” sê hy.

Clea (Ashleigh van der Hoven) se lewe verander dramaties.

Interessant genoeg was die verfilming al klaar nog voordat die Harvey Weinstein-skandaal ontbloot is.

“Die rolprent is nou meer as ooit relevant,” meen Hanekom.

“Ons het reeds met die verhoogstuk soveel terugvoer gekry van vroue wat deur dieselfde nagmerrie is. Hulle het eenvoudig hul stories laat uitborrel.”

Hulle het die rolprent met die minimum geld en met skarefinansiering gemaak.

Die titel van die rolprent dui op die poppie wat uit gevoude papier geknip word en wanneer dit oopgemaak word staan ’n hele ry poppies hand aan hand.

Dit wys op die saamstaan in krag van vroue wat besluit het om nie slagoffers te wees nie.

*Die rolprent se première is vanaand om 20:30 as deel van die Kaapstadse internasionale rolprentfees in ’n Cinema Nouveau-teater in die Waterfront. Dit word ook op 17 Oktober om 18:30 in ’n Nu Metro-teater in die Waterfront vertoon.

Kyk die lokprent by https://www.cutoutgirls.co.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.