Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Aksie, avontuur oor Paasnaweek op fliekspyskaart

Fliekgangers wat graag oor die Paasnaweek ’n draai by rolprentteaters wil maak, hoef nie bekommerd te wees dat hulle voor dooiemansdeur sal staan nie: Drie rolprente word Vrydag landwyd uitgereik.

• Kykers wat van die werklikheid wil ontsnap, kan Come Away aanpak, ’n fantasie-avontuur wat die wêrelde in Peter Pan en Alice in Wonderland saamsnoer.

Die rolprent vertel die verhaal van twee jong sibbe, Peter en Alice, wat hul ouers (vertolk deur David Oyelowo en Angelina Jolie) in ’n tyd van persoonlike tragedie en finansiële nood probeer steun. Peter en Alice reis na Londen om een van hul gesin se byna onskatbare versamelstukke te verkwansel en wend hulle ná hul tuiskoms tot onderskeidelik Neverland en Wonderland om van hul omstandighede te ontsnap.

Kritici was nie in hul noppies met die regisseur Brenda Chapman se eindproduk nie – dit het slegs ’n punt van 29% op die graderingswebwerf Rotten Tomatoes gekry – maar dit word beslis vir die hele gesin aanbeveel.

Die rolprent duur 94 minute. Ouderdomsbeperking: 7-9 OL GV.

• Die animasierolprent Extinct is nog ’n rolprent vir die hele gesin en beloof om veral die jongspan te vermaak.

In dié avontuur vind twee donserige gediertetjies, bekend as Flummels, uit dat hul spesie in die toekoms uitgewis gaan word. Hulle reis dan terug in tyd om te kyk of hulle gebeure so kan beïnvloed dat hul spesie in die toekoms kan voortbestaan.

Kritici het nog nie kans gehad om dit onder oë te kry nie omdat die rolprent se uitreiking talle kere weens die Covid-19-pandemie uitgestel is.

Met die grapjasse Adam Devine, Rachel Bloom en Ken Jeong in die rolverdeling, beloof die eindproduk wel om vet pret te wees.

Die rolprent duur 84 minute. Ouderdomsbeperking: OL.

• Die enigste nuwe uitreiking wat nie vir die kleinspan aanbeveel word nie, is die aksie-riller Nobody.

Bob Odenkirk vertolk die rol van Hutch “Nobody” Mansell, ’n doodgewone man wat ’n vrou op ’n bus help, maar in die proses die oog van ’n dwelmbaas vang. Nobody beland weens sy heldedaad in die sop, maar wanneer die dwelmbaas se trawante op hom en sy gesin toesak, baklei Nobody verrassend terug.

Die rolprent is onder andere vervaardig deur David Leitch, wat rolprente soos John Wick en Atomic Blonde (met Charlize Theron) op sy kerfstok het. Fliekgangers kan dus iets in dieselfde trant verwag.

Kritici op Rotten Tomatoes is heel verras met die eindproduk en het ’n punt van 80% daaraan toegeken – gehore was nog meer beïndruk en het dit 95% gegee.

Benjamin Lee gee dit in The Guardian vier uit vyf sterre en meen dat dit selfs beter as die John Wick-trilogie kan wees.

“Dit is niks wat ons nie reeds gesien het nie, maar daar is iets oneindig bevredigend aan ’n rolprent wat min doen en dít goed doen,” skryf Lee.

Die rolprent duur 92 minute. Ouderdomsbeperking: 16 DGT.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.