Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Allen se ‘A Rainy Day in New York’ is maar so-so
Elle Fanning en Timothée Chamalet in ’n toneel uit A Rainy Day in New York.

A Rainy Day in New York

Liefdesdrama

**

Al die gebruiklike Woody Allen-toebehore is in die veteraan-regisseur se jongste prent.

Verliefde hoofkarakters – die manlike een is ’n ou siel, slordig in voorkoms, skerp in denke en tog, so skreiend anachronisties. Dink tweedbaadjie met leergelapte elmboë en wit seilskoene by áls.

Die vroulike een is naïef en aansteeklik optimisties, later irriterend so. ’n Trippeltoonjies in ’n minirompie. Dan is daar orige ouer mans verlep in jare en gestuit in hul kreatiewe loopbane, gefnuikte liefde, vodsige klavierkroeë, die dun vernislaag van opgetofte partytjies in spogwoonstelle in Fifth Avenue, die ikoniese New Yorkse stadsprofiel as ’n agtergrondskildery en tonele van ander sleutelplekke van Allen se oogappelstad.

Hier is die wêreldstad deurentyd versluier in ’n grys reënvlaag – ja, toegegee, dit is ’n stad soos geen ander. Dalk is die leunstoelreis met die wonderlike jazzklankbaan genoeg rede om die futlose en voorspelbare prent deur te sit.

Daar is oomblikke van skerp humor – ’n glimp van Allen op sy beste, sy flink spel met ironie en woorde. Tog word die pas nie volgehou nie.

Daarbenewens is die prent gebore en steeds omgeef in omstredenheid. Beide die hoofster Timothée Chamalet en Rebecca Hall, wat ’n kameerol in die prent speel, het hul salaris aan liefdadigheid geskenk ná nóg aantygings teen Allen van sy vervreemde dogter Dylan Farrow rugbaar gemaak is.

Die 23-jarige Chamalet het sy besluit om in die prent te speel ook wyd in onderhoude betreur as dié van ’n jongeling. Hall het haar salaris aan die TimesUp-beweging geskenk wat korte mette van seksuele teistering in die bedryf wil maak ná die plettertog van die vervaardiger Harvey Weinstein. Daarby is die uitreikdatum van die prent telkemale uitgestel. Dit tersyde.

Die rykmansseun Gatsby (Chamalet) en Ashleigh (Elle Fanning) arriveer in die groot stad waar Ashleigh ’n onderhoud met ’n kultusrolprentmaker (Liev Schreiber) vir hul universiteitskoerant moet doen. Gatsby wil haar sy lieflingstad, waar hy grootgeword het, wys en het romantiese plannetjies beraam, maar Ashleigh se aandag word opgeëis deur mans wie se kreatiewe essensie drooggeloop het. Ja, jeug as wonderkuur, ou tema by Allen!

Dan kruis Gatsby se paaie met sy eksnooi se jonger suster (Selena Gomez), ’n straatwyse vrou wat hom siedaar op sy plek sit. Dié dansie is al gedans in vele van Allen se prente. Dit pla veral dat Gatsby nie oortuigend van sy eie leeftyd is nie – ken enigeen so ’n millenniër?

Daarby is Ashleigh darem werklik onder ’n “plattelandse” kluit. Ook in die omgewing van die Me­xikaanse hings Diego Luna, wat hier gálop as ’n tipe smeulprins, vermurwe haar karakter tot giggels. Elke karakter is in ’n stereotipiese dwangbuis.

A Rainy Day in New York kan maar wag vir ’n later reënerige dag as jy anderhalfuur het.

13DT. 90 minute.

Meer oor:  Woody Allen  |  Liefdesdrama
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.