Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Annette Engelbrecht vier 50 jaar van avontuur
Annette Engelbrecht in die rolprent Dominee Tienie.

Die rolprent Dominee Tienie is in meer as een opsig spesiaal vir die aktrise Annette Engelbrecht. Daarmee vier sy 50 jaar in die bedryf en ná ’n kwarteeu speel sy weer saam met Frank Opperman - haar medester in Orkney snork nie.

Die kunstefeestreffer gegrond op Dana Snyman se toneelstuk is deur Sallas de Jager verfilm en is op die agtste kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad, te sien.

Haar rol in Dominee Tienie is die van ’n Afrikaanse ouma wat haar gay kleinseun bystaan met sy troue.

“Hy is deur geweldige trauma as gevolg van sy seksuele identiteit en haar hartewens is om te sien dat hy ook gelukkig as mens en as man is. Sy tree namens hom in by die kerkraad sodat hy kan trou met die man wat hy liefhet. Dit is ’n morele, godsdienstige kwessie, maar vir haar gaan dit oor die menslikheid en geluk van hierdie man.”

Sy noem dit “’n groot genade” om ná ongeveer 25 jaar weer saam met Frank Opperman te werk. Sy was Maggie van Tonder, Ouboet in Orkney snork Nie, se ma.

Dit is vir haar wonderlik om te sien hoe ’n akteur as mens en kunstenaar gegroei het.

“Frank het ten spyte van Ouboet ’n volwassenheid in sy spel bereik wat bewys dat hy diep geestelike- en emosionele karakters met groot begrip en meelewing kan vertolk.”

Vir haar was dit goed om in sy oë te kyk en tonele teenoor hom te speel en “voor my was ’n dominee in krisis. Dit was nie ’n ma teenoor haar seun nie. Net twee mense wat diep begrip bymekaar kom soek.”

5 dekades in die bedryf:

Sy kyk terug met groot dankbaarheid op ’n loopbaan gevul met groot sukses, baie trane, harde werk en ook vele teleurstellings. “Dit is ’n lewensavontuur wat voor my oopgekap is wat ryk was aan diep geestelike- en intellektuele groei.”

Hoogtepunte

Hoogtepunte sonder sy nie maklik uit nie. Dit is ook nie altyd gekoppel aan die groot kommersiële sukses van ’n Mattewis en Meraai of Orkney Snork Nie, nie, sê sy. “Dit ook. Dit is die rolle wat die grootste uitdagings aan jou as kunstenaar gestel het wat uitstaan wanneer jy terugkyk. Rolle soos die bediende, wat nie ’n woord sê nie in ’n Lang dagreis na die nag van Eugene O’Neill. Die rol van Kietie in Kanna Hy Kô Hystoe van Adam Small, van Hester in Hello and Goodbye van Athol Fugard wat ek in Engeland gespeel het of die rol van Sheila Cussons in Heilige Modder. En dan die rol van Joan Didion in die Afrikaanse weergawe van The Year of Magical Thinking. Om in Othello te kon speel, Hedda Gabler en Die Drie Susters van Tsjechof.”

Hoogtepunte kan ook wees die regisseurs wat in haar geglo het, meen sy.

Uitdagings wat wag:

As sy lees van die sukses van groot aktrises - van hulle in hul 80’s - meen sy daar wag dalk ook op haar sulke uitdagings. “Stukke soos Three Tall Women van Edward Albee, King Lear van Shakespeare, Blithe Spirit van Noël Coward wat deesdae groot sukses op die West End en Broadway opgevoer word.

“Om ’n Shakespeare-rol te kan speel met groot sukses op ’n hoë ouderdom is nogal ’n groot uitdaging.”

’n Deel van die rolverdeling van Dominee Tienie. Regardt van den Bergh, Piet de Jager, Sallas de Jager, Frank Opperman en Gerrit Schoonhoven. Voor is Paul Eilers.

Plaaslike bedryf

Die wêreld vir die jong mense in die bedryf het baie groot geword, asook die uitdagings om beter tekste, beter spel en tegniese vaardighede aan te leer.

“Dít maak my opgewonde oor die toekoms van die plaaslike bedryf. Die visie en moontlikhede is onbeperk.

Sy is sedert 1995 betrokke by die opleiding van studente hier en in Engeland. Sy gee privaat toneelopleiding aan kinders en het tot twee jaar gelede klas gegee vir hoërskoolleerlinge by Uplands College.

“Dit het my in aanraking gebring met die internasionale kurrikulums en opleiding nasionaal en internasionaal. Al hoe meer van ons jong mense kry geleenthede om oorsee te studeer by rolprent- en teaterskole en selfs oorsee te werk.”

Dit bly verrassend en is steeds vir haar ’n geweldige eer as kinders, jong mense en bejaardes nog steeds na Mattewis en Meraai en Orkney Snork Nie kyk en dit geniet. “Soms vang dit my op ’n onverwagse oomblik as ek besef dat hierdie werk soveel plesier aan soveel mense oor die jare verskaf het.”

In haar 70’s is sy geseënd met “’n baie gesonde liggaam, verstand en gees en die lewe is my inspirasie”.

As sy nie toneelspeel nie, studeer sy. “Ek leer graag nuwe tale, speel klavier, lees, doen handwerk en geniet die liefde van my kinders en kleinkinders. Maar die kampioen van al die lekkertes van die lewe is om te reis en nuwe kulture en letterkunde te ontdek.”

Sy is getroud met die akteur Will Roberts en dankbaar dat hulle nog vele avonture saam aandurf. “Ek is in die bevoorregte posisie om ’n lewensmaat te hê wat alles met my deel en nie omgee om op nuwe avonture te gaan nie. En ja, uiteindelik is dit die liefde wat alles onderstreep.”

Dominee Tienie word in Januarie uitgereik.

Meer oor:  Silwerskermfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.