Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Avengers groet toe sonder ’n oerknal
Tony Stark in die ruimte, besig om sy pad aarde toe te vind.Foto: Disney/Marvel

Avengers: Endgame

**

Met hoop in hul harte strompel die oorblywende Avengers voort. Hul strewe is dalk om die mensdom te red, maar David Engelbrecht is ontnugter deur Avengers: Endgame, die allerlaaste hoofstuk van die avontuurreeks.

Vir amper ’n jaar al wag aanhangers van die Avengers-handelsmerk vir die senutergende einde van die fliekreeks. Oral hoor jy hoe slapies afgetel word en sien jy mense hul ore toedruk en sosiale media word selfs vermy sodat niks van die allerlaaste fliek uitlek nie.

Dis erger as ’n kultus.

Maar vir dié resensent was hierdie swanesang beslis ’n ontnugtering. Om te dink dit bou al ’n dekade lank op en sake is in 22 rolprente uitgespook, wat flieks soos Captain Marvel, Black Panther en Guardians of the Galaxy insluit. Helaas troef dié fliek nie die vorige aflewerings nie.

Die superhelde wat nie deur Thanos uitgewis is nie, moet almal in die nuwe aflewering behoorlik kop bymekaar sit om ’n plan teen Thanos te beraam.Foto: Disney/Marvel

Avengers: Endgame volg op Avengers: Infinity War. Nadat die magtige Thanos (Josh Brolin) die heelal se bobaas-superhelde verwoes het, skraap ’n handjievol oorlewendes moed bymekaar en piekel voort. Thanos het in die vorige aflewering sy meesterplan uitgevoer: om die helfte van die mensdom met die magtige Infinity-stene en net die klap van sy vingers uit te wis.

Tony Stark/Iron Man (Robert Downey Jr.) is nog saam met Nebula (Karen Gillan) in die ruimte vasgekeer, maar die twee se tyd raak min.

Op aarde probeer Black Widow (Scarlett Johansson), Captain America (Chris Evans), die Hulk (Mark Ruffalo), Thor (Chris Hemsworth) en hul makkers om die verwoesting van Thanos te stuit. Tog lyk dit asof hy nie meer die gedugte teenstander van voorheen is nie – of is hy?

Ná maande se gissinge oor hoe Captain Marvel by die superhelde gaan aansluit, is haar koms ’n groot antiklimaks.

Verwag ook heelwat kostuum-veranderinge in Avengers: Endgame. Hawkeye (regs - vertolk deur Jeremy Renner) en War Machine (links - gespeel deur Don Cheadle) gee hier ’n voorsmakie na wat kykers kan verwag.Foto: Disney/Marvel

Hierna versnel dinge vyf jaar die toekoms in. Almal sukkel met berou – die helfte van die mensdom is immers in hul peetjie. Die Avengers raak nogal filosofies en die kyker begin ook wonder, maar veral oor waar die aksie dan nou heen is?

Ant-Man, wat intussen nog vasgekeer is in die kwantum-heelal ná Ant-Man and the Wasp, maak vriende met ’n rot wat per ongeluk net reg dans op sy rekenaar se toetsbord. Ant-Man (Paul Rudd) besef gou die paar minute wat hy beleef het, was inderwaarheid ’n paar jaar gelede: As hy tyd só kan bemeester, kan die superhelde mos vir Thanos uitoorlê?

Met hoop in hul harte, strompel die oorlewende Avengers weer voort met die nuwe kennis en ’n ander plan. Dit is hul allerlaaste kans. Werklikwaar.

Die grootbase van Disney en Marvel stel die kyker teleur. Die fliek val rond en rek die verkeerde storielyne en tonele uit. Jy sit nie eens op die punt van jou stoel nie. Al wat die fliek regkry, is om deurentyd afwagting te skep, maar as slotaflewering misluk dit. Hier is baie kragtige bestanddele, maar vir ’n lokettreffer moet dit beslis beter aangewend word.

Die laaste superheld wat die Avengers verwag het om by hul voordeur te sou sien. Ant-Man (Paul Rudd) se karakter bring ’n interessante wending na die storielyn. Foto: Disney/Marvel

Gesoute aanhangers, gaan kyk gerus. Gun jouself die afsluiting, maar moenie te veel verwag nie. ’n Paar ou gesigte kom maak weer hul verskyning. Hulle, en van die karige aksietonele, sorg vir behoorlike vermaak, terwyl die ligte humor die donker storielyn volmaak balanseer.

Indien jy nie ’n gesoute aanhanger is nie: Hou verby. Sit oorfone in as mense by jou neul – moenie jouself só straf nie.

Tydsduur: 180 minute. Met onder andere Robert Downey jr., Chris Evans, Scarlett Johansson en Mark Ruffalo.

Meer oor:  Fliek  |  The Avengers  |  Endgame
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.