Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Bad Boys’ terug in fliekteaters
Charlize Theron en Nicole Kidman as onderskeidelik Megyn Kelly en Gretchen Carlson in die rolprent ‘Bombshell’.

In die sleurstroom van die #MeToo-beweging in Hollywood kom die rolprent Bombshell.

Dié dramatiese rolprent handel oor die saak van seksuele teistering wat in 2016 teen Roger Ailes, grootbaas en medestigter van die uitsaaier Fox News, deur sy vrouekollegas aanhangig gemaak is.

Die Suid-Afrikaanse aktrise Charlize Theron is groot lof vir haar vertolking toegeswaai en sy is selfs vir ’n Oscar benoem. Sy vertolk die rol van die aanbieder Megyn Kelly, een van die vroue wat die sekspes, vertolk deur John Lithgow, onttroon. Die joernalis en aanbieder Gretchen Carlson (Nicole Kidman) sit die bal aan die rol met ’n hofsaak nadat sy afgedank word.

Kayla Pospisil (Margot Robbie) is ’n fiktiewe karakter, ’n jong joernalis wat by Fox News begin en met haar blonde hare gou ’n teiken word.

Robbie is saam met Theron in die afgelope Hollywood-skouerklopseisoen vir haar skittervertolking benoem.

Die rolprent, wat deur Jay Roach geregisseer is, word deur Variety as ’n “kragtige rolprent oor die verkoop van seks, ’n politieke kandidaat, jouself en die waarheid” beskryf.

Dit fokus dan op hoe alles byeengebring word met Kelly se onderhoud met die presidensiële kandidaat Donald Trump.

Dit duur net onder twee uur en die ouderdomsperk is 16 vir taal, geweld, vooroordeel en seks.

* In die derde aflewering van die Bad Boys-aksiekomediereeks, Bad Boys for Life, maak die speurders Marcus (Martin Lawrence) en Mike (Will Smith) amok in die Miami-polisiedepartement. Dit is net blink motors, sonbrille en uitrustings vir dié twee. Daarby praat hulle vinnig en loop hulle oor van grappies terwyl hulle eintlik ernstig moet wees oor die misdaad wat hul stad in ’n wurggreep het. Tussendeur laat hulle darem ook mense aan die pen ry vir hul misdade. Die keer wil Marcus die tuig neerlê, maar Mike oorreed hom om vir oulaas saam met hom te werk om ’n dwelmbaas agter tralies te kry. Die fliek het dadelik die nr. 1-plek in Amerika ingeneem.

Vir die derde rolprent het Adil El Arbi en Bilall Fallah die regie by Michael Bay oorgeneem, wat die eerste twee flieks geregisseer het.

Die ouderdomsbeperking is 16 vir taal, geweld, seks en dwelms. Die fliek word ook in IMAX uitgereik.

* Die animasierolprent Arctic Justice handel oor ’n dapper vos wat ’n groot nyweraar die stryd aansê toe hy hoor dat dié ’n reusegat in die Arktiese sirkel wil boor om gas te ontgin. Hy roep die hulp van sy maats, ’n skaam ysbeer, albatros en twee voortvarende otters, in om die gulsige walrus se plan in die wiele te ry en so die kwesbare omgewing te red. Die regisseur is Aaron Woodley. Die stemkunstenaars sluit Alec Baldwin, Anjelica Huston en James Franco.

Dit het geen ouderdomsbeperking nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.