Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Baie, mooi papier om dieselfde geskenk

Aladdinmet Mena Massoud en Will Smith.

Regisseur: Guy Ritchie. ***

Guy Ritchie het, ná loket-bomme soos King Arthur: Legend of the Sword en The Man from U.N.C.L.E., nie noodwendig na die beste keuse gelyk om Disney se animasietreffer Aladdin te verfilm nie.

Tog het hy erken dat die storie aanklank gevind het by die straatkind in homself. Want Aladdin het op straat grootgeword. Nie so rof soos in die realistiese Capernaum nie, maar in glansryke Disney-styl vol fliek-lipstiek met Ritchie wat elke versoeter wat bestaan, bygooi om veral kinders te vermaak. Enige heuningby wat naby hierdie nagebootste soetigheid verbyvlieg, sal in ’n koma verval.

Maak geen fout nie – dit gaan ’n reuse-treffer wees, ook te oordeel na die gille en lagbuie van ’n voorvertoningsgehoor, maar dit beteken nie die rolprent is beter as sy animasie-voorganger nie.

Dit herinner aan ’n kinderpartytjie – en Ritchie het erken dat hy die fliek ook vir sy kinders gemaak het. Hy huur ’n hanswors wat enige denkbare maltrap-toertjie uitvoer. Hy berus hom ook op sy mees geslaagde tegnieke uit sy vorige rolprente soos die weggooi-kwinkslae wat by kinders sal verbygaan, maar wat volwassenes sal laat reageer.

Verder leen Ritchie skaamteloos by Snatch en RocknRolla se jaagtonele, want daar is meer agtervolgingstonele as wat een rolprent kan hanteer. Aladdin spring, rol en klouter oor net soveel versperrings as John Wick. Hy vermoor net nie enige mense nie!

In die aantreklike vorm van Mena Massoud draf die toonbeeld van onskuld enige rots of skelm kaf. Ritchie se kamera jaag, tuimel, swiep en rondomtalie om nie net kinders te boei nie, maar ook aan te pas by die styl van die animasierolprent.

En ja, “A Whole New World” weerklink op die regte oomblik oor die woestyn en minaret-stede.

Dit is versoeter-vermaak vir die massas in die oortreffende trap, en slaag in daardie opsig in sy doel. Moet net nie te diep grawe nie . . .

Dit is tegnies goed, maar sy hart klop kunsmatig. Die hanswors probeer te hard om sy gehoor te bevredig. En wanneer aanvanklike tuimelspronge en slim sêgoed boemerang, word Will Smith as die gees nader gehark om daardie leemtes te vul.

En ja, Smith is snaaks en oordadig – hy oorspeel natuurlik in die oortreffende trap om lagbuie te ontlok, maar selfs dit kan nie die vreemde saai eentonigheid in die rolprent besweer nie.

Kyk jy verby die blink papier om die Aladdin-geskenk, moet jy deur lae geskenkpapier worstel om by die geskenk uit te kom.

Dan besef jy dit is dieselfde geskenk wat jy al dikwels tevore gekry het, maar daar is niks nuuts by nie. Nou lag jy maar, al is dit omdat dit van jou verwag word.

Halsoorkop-waaghals-manewales vergoed nie altyd vir ’n gebrek aan warmte nie, want hierdie mikrogolfoond is op medium gestel. Dit ontgin nie altyd die potensiaal van die wonder-storie ten volle nie.

Jy kyk tegnies hierna, weet watter grappe en jaagtogte gaan volg, sien die bedreiging in die vorm van Jafar myle ver aankom (boosheid teenoor onskuld), maar sit geduldig daardeur.

Ritchie is nie hier op sy beste nie, maar hy doen sy bes.

Wat wel vernuwend is, is die feit dat Jasmine (die pragtige Naomi Scott) nou die sultan wil word. In daardie opsig slaan dit ’n lekker slag vir vroueregte.

Kinders sal die fliek geniet. Smith se hansworsery maak die prys van ’n toegangskaartjie die moeite werd. En die towertapyt­rit oor die stad (veral in 4DX, Scene Xtreme en Imax) kan jou op wieke van jou verbeelding laat vlieg, ook in 3D. Tog gee Ritchie nie die aflosstok tussen animasie en lewende aksie altyd suksesvol aan nie.

Jy moet jou breinselle afskakel en jou volkome oorgee aan ’n fliek waarna ’n mens lankal reikhalsend uitsien. Dalk was die verwagting te groot. Min rolprente kan die vooraf trompetgeskal van hierdie Aladdin oortref. Dit is ’n uitbundige en kleurvolle maar opgewarmde fliek waarvan die hart lou is.

Dit beteken nie dat fliekgangers nie jubelend met soutbesmeerde monde uit die teater sal strompel en opgewonde praat oor wat gebeur het nie.

Dit is versoeter-vermaak vir die massas in die oortreffende trap, en slaag in daardie opsig in sy doel. Moet net nie te diep grawe nie . . .

  • Kinders van sewe tot nege moet deur volwassenes vergesel word weens tonele van ligte geweld.
Nuwe flieks:
Red Joan *

Praat van Russiese geheimhouding oor Tsjernobil! In hierdie trae en dikwels vae herskepping van ’n skandaal wat Joan Stanley getref het, word ’n oumatjie, gespeel deur Judi Dench, in hegtenis geneem omdat sy ’n Russiese spioen sou wees. Die oninteressante en langdradige rolprent oorverduidelik hoe ’n doodgewone Britse meisie by kommuniste betrokke geraak het. Selfs die bekwame Dench lyk verward oor wat sy in die rolprent soek. 

Long Shot ***

Seth Rogen lewer ’n kolskoot-vertolking as ’n oud-joernalis wat gehuur word om toesprake te skryf vir die minister van binnelandse sake, gespeel deur Charlize Theron. Sy wil haar verkiesbaar stel as die volgende Amerikaanse president en raak verlief op Rogen. Dié guitige komedie slaan ver onder die gordel en ’n mens wil die karakters se monde met seep uitwas! Wees gewaarsku: dit is vulgêr en jou kop moet wawyd oop wees vir die dikwels kwetsende komedie. Vir lesers wat wil grinnik oor wat agter die skerms in die vroom Amerikaanse politiek gebeur. Die romanse word lekker aangedik en die dialoog is oordadig. 

    Meer oor:  Aladdin  |  Mena Massoud
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.