Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Bekendes onthou toe inry nog uitkom was

Terwyl rolprentteaters op vlak 3 van die staat van inperking steeds toe is, herleef die inryteater oorsee. Daar is nou ook planne om in Kaapstad en al langs die Tuinroete inryteaters op te rig. ’n Paar mense deel hul herinneringe aan eertydse inryteaters met AJ Opperman. 

Inry-teatres
Inry-teaters hou baie herinneringe vir verskeie mense in.

Kan jy onthou watter fliek jy die eerste keer in die inry gesien het? Waar was dit en hoe oud was jy?

Inry
Vinette Ebrahim Foto: Elizabeth Sejake

Vinette Ebrahim, aktrise

Ek dink ek was so tien of 11 jaar oud toe ons The Sound of Music gaan kyk het. Ek was baie opgewonde.

Ek dink dit was die Sunset-inryteater wat naby Strandfontein was. Dit was ’n fantastiese ervaring!

Jy sit in die kar en jy kry die speakertjie en jy wonder of dit werk.

En later, in die 1970’s, het ons die fliek Springbok gaan kyk. My broer Vincent het daarin verskyn.

Regardt van den Bergh

Regardt van den Bergh, akteur en regisseur

Ons het in Linden (in Johannesburg) gebly naby die Veldskoen. Daar was ’n Hillfox en daar was die Sterlig. En ’n ander paar.

Toe ek jonk was, het ons selfs hierheen geloop om Clint Eastwood se Spaghetti Westerns te gaan kyk.

Ons vat ons komberse en dan gaan lê ons by die speakers. En dan loop ons terug huis toe – ’n hengse ent.

Leon van Nierop

Leon van Nierop, skrywer en rolprentresensent

Dit was die fliek The Chalk Garden wat ek saam met my ouma gaan kyk het.

Die eerste fliek wat ek in my eie motor gaan kyk het, was Sleuth.

Ek het grootgeword in Brakpan, wat die grootste inry gehad het. Dit kon ’n 1 000 karre akkommodeer. Ek onthou die baie karre en hoe lekker dit vir my was om daar te wees.

Ek was die enigste kind. Ek het doodstil gebly. Daar was nooit rusie in die motor nie.

Ek het wel soms bang geraak wanneer ’n voorprent van Edgar Allen Poe-flieks (gegrond op dié skrywer se werk) vertoon word.

Carike Keuzenkamp

Carike Keuzenkamp, sangeres

Ek kan nie aan ’n spesifieke fliek dink wat ek in die inry gesien het nie.

My ouers het ons nooit soontoe geneem nie omdat daar nie so iets in Nederland was nie (waar sy gebore is).

Ek het saam met vriende gegaan. Ons het in Alberton gewoon. Hulle was ’n gesin met drie kinders. En dan was ek die vierde kind.

Daardie tyd het voertuie voor ook ’n lang sitplek gehad en almal kon in die motor pas. Jy het die luidspreker gehaak aan die kar en soms werk dit nie behoorlik nie.

Ek en Olaus (van Zyl, haar man) het ook later – in die 1970’s – ons kinders na die inry geneem, maar ons nie het nie juis daar geboer nie.

"Jy het jou kar so geparkeer dat jou kinders op die enjinkap kon sit en movie kyk. Mense het op hul komberse op die grasperk gesit."

David Kramer, sanger en liedjieskrywer

Ek kan nie onthou watter fliek nie. Ek was miskien 17 of 18 jaar oud toe ons die inry op Worcester gekry het. Ek kan nie onthou dat ek saam met my ouers gegaan het nie.

Ek het my rybewys in die middel van matriek gekry. Ek het my pa se motor, ’n Austin Cambridge, gebruik en na die Worcester-inry gegaan.

Dana Snyman, skrywer en joernalis

Dalk Jamie Uys se (fliek) Dirkie, omdat dit so ’n intense, amper traumatiese ervaring was. Dirkie wat in die Namib-woestyn verdwaal en om en om in die rondte stap, en s?: “My pa het my lief, hy sal my nie los nie . . .” terwyl jy iewers in die veld buite Naboomspruit in jou Valiant Regal sit, in die inry, en jy jou verbeel jy hoor ’n hiëna in die donker . . .

Die inry se naam was die TV-inry. Ek onthou hoe paniekerig oom Thys Cornelius, die eienaar, geraak het wanneer daar iets met die projektor verkeerd gegaan het en die skerm skielik swart geword het. Dikwels het hy in Engels oor die luidsprekerstelsel begin praat: “Ladies and gentleman, sorry for this short interruption. I’m working on it . . .” Terwyl daar nie ’n enkele Engelse mens in die inry was nie.

Katinka Heyns, regisseur en aktrise

Die eerste uitstappie was 'n storie. Ek was vyf jaar oud en in graad een. Ek en my boetie Wilhelm was skoongeskrop in ons nagklere, my ouma Kat, die storieverteller, het 'n hoed opgehad, en my oupa Frans sy onderbaadjie. Ons was soos sardientjies ingepak in my oupa se Chevrolet. Ons was 'n paar uur voor die tyd al daar en teen die tyd dat die "bioskoop" begin het, was al die gekookte eiers, die toebroodjies en frikadelle opge-eet en ek en my oupa vas aan die slaap. Ons het dwarsdeur die fliek geslaap en ek het die volgende oggend eers wakker geword. Nodeloos om te sê het ek my foos gehuil en was baie kwaad vir my ma dat sy my nie wakker gemaak het nie. ( Ek het met die eerste vertoning van (Heyns se fliek) Paljas in Los Angeles ook aan die slaap geraak ná 'n lang vlug en min slaap en is wakker gelag deur die gehoor! Vol sirkel.)

Die eerste fliek wat ek regtig gesien het, was Lassie, met voorprente van Zorro en al.

Ek was gelukkig om as kind elke Vrydagaand fliek te kyk in die klubhuis se saal op Chloorkop, vir 'n ronde sikspens! Die twee flieks wat my betower het was Gigi en The Wizard of Oz.

Ek onthou wel die aand toe ek en my eerste kêrel Martin na 'n inryteater in Pretoria is - in sy suster Olga se mini. Ek dink nie ek het iets gesien nie en kan niks van die fliek onthou nie. (Ek onthou die soentoneel is uit die fliek Debbie gesny deur die sensuurraad van die tyd omdat Debbie ná daardie vurige soen, swanger geraak het! ) Inryteaters moes dus liefs vermy word.

Katinka Heyns
Katinka Heyns

Het julle net in die motor gebly? Het kinders of mense rondgeloop? Hoe was die atmosfeer?

Vinette Ebrahim

Toe ons in Windhoek gaan woon het, het ek die kinders gereeld geneem. Dit was nou vir jou ’n ervaring. Almal het hul komberse en ’n braaier gevat.

Voor die tyd was dit ’n hele makietie. Die kinders het saam gespeel. Jy het jou kar so geparkeer dat jou kinders op die enjinkap kon sit en movie kyk. Mense het op hul komberse op die grasperk gesit.

Regardt van den Bergh

Ek onthou een ervaring by die Veldskoen. Dit was die opening van Stropers van die Laeveld.

Ek het ’n klein rolletjie daarin gehad. In een skoot het ek gehardloop en iemand iets gesê. Ek kan nie eens presies onthou wat dit was nie.

Die wêreld het vol karre gestaan. En ons het voor by die kiosk gaan staan en praat op die mikrofoon.

My pa (die akteur Gert van den Bergh) het een van die groot rolle vertolk. Hy en Willie van Rensburg was daarin. Ek het ook iets oor die mikrofoon gesê. Ek onthou hoe die mense hul ligte geflikker het en die toeters geblaas het.

En toe wys die fliek en ek dink nie ek was in my lewe so opgewonde om ’n fliek te sien nie. Dit het ’n ongelooflike gevoel in my lewe opgewek.

Ná die tyd het die mense nog getoet en die ligte geflikker.

My ervaring van die inry was besonders. Dit was ook familiesamesyn.

Inry
David Kramer Foto: Jesse Kramer

David Kramer

Ek onthou die luidsprekers was sulke metaalgoed wat jy aan die venster gehang het en die klank was nie baie goed nie. Daar was ’n treinspoor agter die inry en daar was ook ’n grondpad agter die treinspoor.

Ons het daarvan gehou om daar stil te hou. Dan kon ons die flieks sien, maar nie hoor wat die akteurs sê nie. Jy kon net die beeld sien. Maar dit was ’n goeie verskoning om ’n bietjie daar saam met jou meisie te gaan sit.

Inry
Dana Snyman Foto: Adrian de Kock

Dana Snyman

In die TV-inry is baie gesels en gedoen. Ons het dikwels ’n matras saamgeneem, dan sit ons jonges op die matras voor die kar. Daar was ’n skoppelmaai en ’n glyplank op die oopte voor die skerm waar ons “pouse” gaan speel het. Tydens pouse sou jy ook hier en daar ’n man of twee by ’n motor se kattebak sien staan, effe gebukkend, besig om ’n vinnige brandewyn in ’n plastiekglas te skink. En as iets fout gegaan het, het party ouens die kar se ligte geflits, selfs die toeter geblaas.

Ek het al ’n hele toonleer van emosies in ’n motor in ’n inry beleef, van die naakte vrees vir die hiëna’s wat agter Dirkie aan is, tot die uitasem-katoolsheid wat jou beetgepak het wanneer jy as jong, opkomende vryer jou hand onder Ronel Smit se trui inglip en haar naaktheid bevoel terwyl Bud Spencer ’n skurk op die skerm met een magtige vuishou platslaat.

Katinka Heyns

My inry-storie is dat ons met die première van Fiela se Kind in Upington waar Shaleen (Surtie-Richards, wat die hoofrol vertolk het) grootgeword het, met Ster Kinekor se hulp, moes aandring dat die eienaar van die inry die "apartheidsmuur" voor die motors afbreek. Sharleen het geweier om die mense toe te spreek as die muur, waar sy dikwels aan die verkeerde kant moes sit terwyl jong seuns hulle met koeldrankblikke  bestook, nie afgebreek word nie.. Die muur is op die laaste nippertjie platgeslaan en die eienaar was woedend. (1988 ) Dit was vir ons 'n oorwinning.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.