Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Bekroonde ‘Flee’ kom na Labia en The Bioscope
’n Toneel uit die geanimeerde dokkie ‘Flee’ van die regisseur Jonas Poher Rasmussen.

’n Dokumentêre rolprent wat die vlugtelingkrisis in die wêreld vanuit ’n ander hoek belig en wyd erkenning gekry en vereer is, is binnekort op die 23ste Encounters-fees te sien.

Net drie vertonings van die Deense rolprentmaker Jonas Poher Rasmussenby se bekroonde Flee kon by die Labia-teater in Kaapstad beding word.

Dié besonderse animasieprent is in Januarie vanjaar op die Sundance-rolprentfees met die Grand Jury-prys vereer.

Dit volg die ware vlugtogte van Amin Nawabi (skuilnaam) as jong kind en later tiener na verskeie lande. Amin staan op trou met sy aanstaande man, en het daarom besluit om vir die eerste keer oor sy verlede te praat. Die dokkie, wat ’n tydperk van 20 jaar dek, kan as sy sielkundige reis na genesing en selfontdekking beskryf word.

Die memoir begin toe hy as jong seun uit Kaboel, Afganistan, gevlug het na Moskou en van daar verder tot in Denemarke. Dit karteer sy vele ontberinge en hoe hy uitgelewer was aan smokkelaars en misdadigers.

In Denemarke het hy as tiener vir Rasmussen leer ken toe hulle in dieselfde hoërskool was.

Die twee mans is al meer as 25 jaar vriende. Rasmussen vertel in ’n onderhoud dat sy vriend nooit oor sy kinderjare wou praat nie. Hy het egter geweet dat daar ’n storie is.

Flee word geloof vir die herskep van Afganistan en Moskou in die 1980’s. Verskillende soorte animasie word benut, argiefmateriaal kleur die stemming van die plofbare tyd in en die klankbaan bestaan deels uit popmusiek van daardie tyd. Dit het 100% op die rolprentwebwerf Rotten Tomatoes verwerf.

• Ander prente wat intussen toegevoeg is tot die program, is die Mexikaans-Ethiopiese regisseur Jessica Beshir se Faya Dayi. Dit handel oor die blaar khat, wat gekou word vir religieuse meditasie in Ethiopië.

The Golden Wolf of Balolé speel af in Ouagadougou, Burkina Faso, in ’n steengroef waar sowat 2 500 volwassenes en kinders in haglike omstandighede werk. Die prent handel oor hoe hulle saamstaan om te beding vir beter lone.

• Benjamin Rost se prent A Portrait on the Search for Happiness speel in die Noord-Kaap af en fokus op die lewe van ’n jong, hawelose pa wat eens op ’n tyd vir diamante geduik het.

Net sekere prente word in Johannesburg by The Bioscope en in Kaapstad by die Labia vertoon. Die res van die prente kan aanlyn gekyk word by www.encounters.co.za Die fees duur van 10 tot 20 Junie. Kaartjies kos R60 vir aanlyn vertonings. ’n Feespas kos R500 en bied toegang tot al die prente. Kortprente kan verniet gekyk word.

Meer oor:  Kaapstad  |  Labia  |  Encounters  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.