Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Bekroonde prent oor verlore violis op Showmax
Luke Doyle as die jong violis Dovidl Rapoport in ‘The Song of Names’.

The Song of Names, ’n bekroonde prent oor ’n violis wat as ’n wonderkind bestempel is en later verdwyn het, is hoog op Showmax se lys van topprente.

Tim Roth en Clive Owen is te sien as die violis en sy beste vriend in hul volwasse jare, maar soos te wagte is dit die jong akteurs wat kykers na hul snesies laat gryp.

Die fliek is gegrond op die gelyknamige roman van Norman Lebrecht en handel oor Dovidl Rapoport, wat op negejarige ouderdom groot belofte as violis toon en aan ’n gesin in Warskou toevertrou word om hom teen die dreigende Nazi-inval van Pole, kort voor die Tweede Wêreldoorlog, te beskerm.

Martin, die gesin se seun wat ook nege is, en Dovidl raak ná ’n wankelrige begin boesemvriende. Hoewel Dovidl nooit weer van sy eie gesin gehoor het nie en die ergste vermoed, hoop hy tog hy sal hulle weer sien.

Dovidl se vioolspel ontwikkel sodanig dat hy in 1951 sy debuut in Londen sou maak. Die konsert is met fanfare aangekondig, maar daardie aand daag Dovidl nie by die teater op nie en verdwyn daarna spoorloos.

Martin (Tim Roth), wat intussen ’n musiekeksaminator geword het, sien op ’n dag ’n leerling wie se strykstokhantering hom sterk aan Dovidl herinner. Hy vermoed sy aangenome broer is destyds terug Pole toe, maar sy soektog in hul land van herkoms lewer niks op nie. Hy kry wel ’n wenk dat hy in New York moet gaan soek.

Die jong Dovidl word vertolk deur Luke Doyle, wat ’n bekwame violis is. Dit was egter nie so maklik vir Clive Owen, wat die volwasse Dovidl se skoene moes volstaan nie. Hy het lang en deeglike onderrig ontvang om soos ’n regte virtuoos te vertoon. Die violis wat egter al die vioolspel in die prent behartig het, is die Australiese Taiwannees Ray Chen.

Hoewel somber momente in so ’n verhaal onvermydelik is, gaan dit hoofsaaklik oor liefde, vergifnis, aanvaarding en verlossing.

Die sukses van die prent word grotendeels toegeskryf aan die regisseur Francois Girard wat bekend is vir flieks met musiek as tema. Hy was ook aan die stuur met die Oscar-bekroonde The Red Violin, Boychoir van 2014 en Thirty Two Short Films About Glenn Gould (1993). Die komponis Howard Shore, wat die musiek vir The Lord of the Rings: The Fellowship of the Ring gekomponeer het, is ook die skepper van die musiek vir The Song of Names. Die titel verwys na ’n lied oor die name van mense wat in Treblinka in die Tweede Wêreldoorlog gesterf het.

Die prent het verlede jaar op die Toronto-rolprentfees gedebuteer en is vir nege Kanadese Rolprentpryse benoem, waarvan hy met vyf bekroon is, onder meer vir Shore se komposisies en die beste oorspronklike lied, “The Song of Names”. – Saamgestel deur Elretha Britz uit latimes.com, IMDb.com en Wikipedia.com

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.