Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Beleef die ‘vloek’ van kreatiwiteit

Final Portrait

Drama

***

’n Toneel uit die rolprent Final Portrait. Armie Hammer vertolk die rol van die bekende skrywer James Lord, terwyl die legendariese Geoffrey Rush die rol van die kunstenaar Alberto Giacometti met hope deernis lewer.Foto: VERSKAF

Hoe gaan ’n wêreldberoemde kunstenaar te werk om ’n meesterstuk te skep?

Final Portrait illustreer die antwoord aan die kyker.

Met min moeite word jy aan die hand geneem en saam loop jy deur die intrige van die wêreldberoemde skilder en beeldhouer Alberto Giacometti.

Geoffrey Rush vertolk die wyse waarop Giacometti met ’n kunstenaarstemperament en perfeksionisme die een meesterstuk ná die ander skep.

Die rolprent speel hom af in 1964 in Parys. Giacometti nader die skrywer James Lord (Armie Hammer) om vir ’n portret te poseer.

Kykers besef gou dat Lord nie net gou-gou gaan inloer nie. Dit betrek jou op ’n objektiewe wyse om as buitestander die interaksie tussen hierdie twee liefhebbers van die kunste meer te geniet.

Reeds tydens hul eerste sitting besef jy hoe rou ’n kunstenaar se emosies eintlik maar is.

As iets hom pla, ervaar jy dit ook – van hoe sy ritme versteur word tot hoe hy homself regruk om die kwas op die blok te sit en die kontoere van sy onderwerp te begin vaslê.

Giacometti neem eksentrisiteit tot ’n hele nuwe vlak.

Hy deel heelwat kwinkslae met sy broer (ook ’n bekende beeldhouer), sy vrou en selfs sy minnares – voordat hy vir Lord ’n plekkie in sy baie rustieke, deurmekaar ateljee vind om vir meer as 21 dae te laat sit.

Rush is die perfekte akteur vir ’n komplekse karakter soos Giacometti. Hy dra elke sin en gesigsuitdrukking onberispelik oor.

Lord, wat ’n betreklik sterk en stil figuur in die rolprent is, bied die kyker soveel meer insig in Giacometti se lewe – van waar hy sekere klein gebeure raaksien tot die gevolgtrekkings wat hy maak.

Al is jy nie ’n liefhebber van cinema nouveau nie, kan jy hierdie een met gemoedsrus gaan kyk.

Hammer, wat bekend is vir sy keuse van rolle soos hierdie, stel glad nie teleur nie.

In plaas van die tipiese biografiese rolprent breek Final Portrait die stereotipe wyd oop en laat kykers toe om deur die oë van een kunstenaar na ’n ander te kyk.

Rush en Hammer pas volkome in die skoene van hierdie ingewikkelde karakters en kry dit op ’n sinvolle manier reg om jou by die storie in te laat.

Waar rolprente van hierdie aard swaar op die kyker steun om dieper tussen die lyne te delf, laat dié twee talentvolle karakters jou toe om agteroor te sit sodat jy die storie agter die aspek van kreatiwiteit veel meer kan geniet.

Selfs teen die middel van die ellelange poging om vir Lord op doek vas te lê, begin jy lekker te lag vir sy frustrasie en beslissing dat hy maar liewer al sy planne moet uitstel en die knie te buig voor ’n groot gees wat na perfeksie streef.

Al is jy nie ’n liefhebber van cinema nouveau nie, kan jy hierdie een met gemoedsrus gaan kyk.

Die talentvolle rolverdeling, puik regie en hartroerende storie speel ’n groot rol om die rolprent ’n sukses te maak en die kyker “gevoed” en met meer deernis by die teater te laat uitloop.

Jy sal nie weer na ’n skildery op dieselfde manier kyk nie; dit kan hierdie resensent jou waarborg.

* Met Armie Hammer, Geoffrey Rush, Clémence Poésy, Tony Shalhoub en James Faulkner. Tydsduur: 90 minute, Ouderdomsperk 16.

Meer oor:  Fliek  |  Drama  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.