Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm:
Beleef: Dis ’n ramp sonder storie

Pitch Perfect 3 met Rebel Wilson en Anna Kendrick.

Regisseur: Trish Sie

*

Pitch Perfect 1 het gehore met die krag van ’n yster-parfuumwalm getref. ’n Groep meisies stig ’n a capella-koor waardeur hulle persoonlike vooroordele, jongmeisie-probleme en venynigheid kafdraf. Die boodskap was: Moenie wees wat ander wil hê jy moet wees nie – wees jouself en leer om in te pas en steeds jou individualiteit te behou. Eendrag maak mag! Een paar hoëhakskoene en genoeg lipstiek om ’n Van Gogh mee oor te verf gee jou bestaansreg!

Nommer 2 het in hierdie treffer se pikante skoentjies gevolg en was nog gewilder. Dit het supersterre van Rebel Wilson en Anna Kendrick gemaak en het bewys: Plomp kan ook byderwets en koel wees.

Aan die einde van daardie fliek was die storie egter klaar vertel. Om die waarheid te sê, die plot was so uitgedroog soos ’n paar gimsokkies wat jy met die hand gewas en daarna moedeloos in die asblik gegooi het.

Natuurlik, in hierdie dae dat rolprente hulle voordoen as televisiereekse, moes daar ’n derde aflewering opdaag om die laaste laventeldruppel uit ’n leë bottel te tap, want dit is hoe Pitch Perfect voel – asof ’n kleuter haar ma se lekkerruikgoed beetgekry het en elke molekule daaruit probeer wurg om soos ’n grootmens te probeer voel.

Dié fliek is ’n ramp, want daar is geen storie oor nie. Die vervaardigers het die gewildste karakters gevat en stereotipes van hulle gemaak in ’n poging om lewe in ’n skeef getrapte dansskoen te plaas. Die gevolg? Een van die swakste vervolge van die jaar.

En was daar nog maar mooi musiek! Maar die liedjies is so eenselwig, dit klink of iemand agterstevoor uit die FAK sing.

Prikkelende karakters het pas in ’n lekkende boot beland, en hulle kan nie die water vinnig genoeg uitskep voordat dit sink nie.

Probeer nou sin kry uit hierdie storie: Die Bellas hou om geen rede nie ’n reünie en wil vir ’n laaste keer wen. ’n Heks met ’n militaristiese haarstyl wat lyk na Liewe Heksie se oumagrootjie wat ’n ontrimpelingsproses ondergaan het, plus haar vriendinne, wil natuurlik ook wen.

Die fliek ontaard in ’n kompetisie tussen die twee groepe wat so onoortuigend is, jy wil die draaiboekskrywer terugstuur draaiboekskool toe. Skielik mis ’n mens die instrumente wanneer die Bellas die een eentonige deuntjie ná die ander uitbasuin asof hulle vir Trump twiet.

Geen ander vrouekarakter behalwe Wilson en Kendrick kry kans om te registreer nie, want die kompetisie-element tussen die meisies het verdwyn. Die ander karakters lyk soos varings wat in ’n blommerangskikking agter sonneblomme ingesteek is: hulle dien bloot as agtergrond in die oorlog van die ego’s.

Waar vroue gewoonlik kla dat hulle geobjektiveer word in rolprente, is mans dié slag net lekkergoed vir die oë. Hulle kom en gaan met die spoed van wit lig. Hulle kry darem genoeg kans om ’n kuiltjieglimlag te gee of sjarmant te glimlag wanneer die stotterende Beca (Anna Kendrick) ’n gesprek probeer voer. Maar van persoonlikhede is daar geen sprake nie. Een sweep in Fifty Shades of Grey het meer persoonlikheid as al die mans saamgevoeg.

En ná Daddy’s Home 2 het John Lithgow nou die kroon gesteel as die daddy-for-hire. Sodra ’n draaiboek vereis dat ’n karakter ’n lomp pa moet hê wat hom of haar in die skande steek, word hierdie vermaarde akteur nader gehark. ’n Mens kan eintlik sien hoe Lithgow bloedrooi bloos oor die banale dialoog wat hy moet kwytraak, om nie te praat van sy sangtoneel nie. As ek hy was, het ek die vervaardigers gedagvaar vir die misbruik van sy talent.

Wanneer die Bellas later ontvoer word (sonder dat daardie glanslippies hoegenaamd hul fleur verloor) raak die storie korter as hul rokkies en wil ’n mens huil van teleurstelling.

Prikkelende karakters het pas in ’n lekkende boot beland, en hulle kan nie die water vinnig genoeg uitskep voordat dit sink nie.

As jy in ’n laaglê-bui is en jy wil net springmielies in jou mond prop terwyl jy aan niks dink nie, is hierdie nie die soort fliek om te kies nie.

Dit is so vervelig, allerhande probleme en nare gedagtes (is die vakansie alweer halfpad verby?) maal deur jou kop.

Een van die jaar se swakste en mees onnodige rolprente.

Nuwe flieks

Wonder Wheel **

Woody Allen-foendies sal hul 82-jarige fliekprofeet bly aanhang, selfs al verfilm hy die telefoongids. Maar hierdie stroewe, onoortuigende drama met lomp, donker komiese ondertone sal selfs eise aan bewonderaars se geduld stel. Dit is eintlik ’n Eugene O’Neill-drama as wanskapige komedie. ’n Neurotiese vrou (’n ongemaklike Kate Winslet) knoop in die 1950’s ’n verhouding met ’n menseredder (Justin Timber­lake) aan. Maar oppas waarvoor jy wens! ’n Moeilike, swak gekonstrueerde komediedrama wat suur oor jou Kersdadels sal drup. Dalk het Allen se fliekfonteintjie nou opgedroog?

Ferdinand ***

Kleingoed sal dalk die allegorie in hierdie dramatiese animasieprent miskyk, maar ouers sal gou verstaan wat eintlik agter die storie lê. ’n Vriendelike bul word aangesien as ’n moorddadige gevaar en word misbruik as ’n woeste vegter wat heeltemal teen sy aard gaan. Hy wil eintlik maar net die madeliefies besnuffel. Toeganklik vir kinders danksy dansende animasie­karakters en liedjies, maar volwassenes sal dieper kyk en die subteks waardeer.

Meer oor:  Leon Van Nierop
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.