Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm:
Beleef: Lank lewe ‘Star Wars’ – en jou oë vol trane

Star Wars: The Last Jedi 

****Met Daisy Ridley en John Boyega.

Regisseur: Rian Johnson

Hierdie, die agtste hoofstuk in die Star Wars-sage, is soos om al jou Kerspresente op een slag te kry, en met die oopmaak van elke pakkie ritteltit jy van ekstase. Dit laat jou weer in die fliek-Kersvader glo sodat jy Hollywood vergewe vir al die snert (soos Pitch Perfect 3) waardeur hulle ons laat worstel het. Die agtste hoofstuk is die mees gedissiplineerde en vermaaklike in die reeks. Dit is soos om jou dieet te verbreek deur elke soetigheid in jou mond te stop sonder om ’n ekstra kilogram op te tel.

Twee dinge maak hoofstuk agt spesiaal: die een is dat dit presies 40 jaar ná die oorspronklike rolprent uitgereik word. Dit is dan ook een van die eerste rolprente wat ek professioneel geresenseer het vier dekades gelede met ’n mond wat wyd oopgehang het en ’n resensie wat gewemel het van veilige clichés. En tweedens is dit die laaste rolprent waarin Carrie Fisher prinses Leia gespeel het voor haar dood.

Dit bring al die trefferelemente kundig bymekaar en laat jou toe om saam met jou gunstelingkarakters deur die ruimte te tuimel waar geen ander mens nog ’n voet gesit het nie – karakters soos Rey (Daisy Ridley), die vreeslose Poe (Oscar Isaac is skitterend), asook Andy Serkis as die mislike Snoke. Wat die rolprent nog merkwaardiger maak, is die toonaangewende rol wat vroue speel.

Hierdie is, naas episode 4, my gunsteling-episode. Dit is knap gekonstrueer, logies uitgedink en spog met ’n storie wat jou flieksenuwees nuwe woema gee.

Nie alleen dryf prinses Leia die storie nie, maar Laura Dern as Amilyn Holdo en Kelly Marie Tran as Rose Tico se rolle is ook sterk omlyn. Maar dit is Mark
Hamill se verweerde gesig as ’n deurwinterde Luke Skywalker wat die nostalgie werklik laat herlewe. Dit wys hoe hierdie laaste Jedi probeer om vir Rey, ook met humor en ligswaarde, op te lei, en lag vir Domhnall Gleeson met sy hare wat lyk of ’n koei dit in ’n trog plat gelek het, en wat met sy stywe dialoog en warmpatatta-manier van praat die draak steek met sy karakter.

Nog ’n sterk punt is die genuanseerde en onderspeelde vertolking deur Adam Driver as Kylo Ren wat huiwer tussen die ligte en die donker kante van menswees. Met nabyskote, ’n letsel dieper as ’n slaggat in Sandton, en dreigende oë hipnotiseer hy die kyker en sy slagoffers. Só onderspeel ’n akteur mos! Daar was lanklaas so ’n stewige teenwoordigheid wat jou aandag selfs van die spesiale effekte aftrek. ’n Uitstekende keuse vir dié rol.

Maar dan bring die legendariese John Williams-tema, die agtste wat hy vir die reeks geskryf het, trane na jou oë toe. Dit bly nou maar eenmaal een van die herkenbaarste en kragtigste temas in rolprentgeskiedenis. Die musiek beweeg saam met die beelde, kleur dit in, swiep jou op en laat jou op wieke van musiek deur die ruimte sweef. Sit vir ’n oomblik stil en luister na die invloed van Williams se majestueuse klanke. Dit verander ’n ruimte-sepie in ’n ruimte-opera.

Voeg daarby die verbysterende spesiale effekte wat dit laat voel of die regisseur Rian Johnson jou regtig ruimte toe neem, en jy het die oortuigendste rolprentstel sedert Stanley Kubrick die ruimte toeganklik gemaak het in 2001: A Space Odyssey in 1968, wat George Lucas geïnspireer het om Star Wars uit te dink.

Daar is interessante feite oor die rolprent. Daar word beweer dat prins Harry en prins William kameeverskynings maak as twee stormtroepe. (Kan jy hulle uitken?) en dat Hamill stewige inspraak gehad het in wat met sy karakter gebeur, terwyl Fisher die draaiboek gedokter het voor haar dood.

Die stryd tussen die Republiek en die donker magte word hier op die spits gedryf wanneer ’n nuwe geslag Jedi’s hulle gereed maak om by die laaste Jedi oor te neem. Die kreature wat hulle na hul oorwinningspad lei, soos psigedeliese jakkalse, stormende beeste en reuse-robbe, sal jou ademloos laat. Maar jy moet hulle in Imax sien, al is die kaartjies duur.

Hierdie is, naas episode 4, my gunsteling-episode. Dit is knap gekonstrueer, logies uitgedink en spog met ’n storie wat jou flieksenuwees nuwe woema gee.

Lank lewe Star Wars!

Nuwe flieks

The Man Who Invented Christmas ***

In aansluiting by A Christmas Car­ol hier langsaan, dramatiseer hierdie kunsrolprent die feitlik onoorkombare probleme wat Charles Dickens ervaar het toe hy A Christmas Carol geskryf het. Persoonlike demone, skuldgevoelens teenoor sy pa, huislike probleme, skrywersblok en die lotgevalle van veral sy karakter Tiny Tim het hom byna tot vernietiging gedryf. Die skrywersproses word uitmuntend uitgebeeld. Dan Stevens pas perfek in die rol van Dickens, maar dis die vernuftige regie wat die rolprent eintlik laat werk. Aanbeveel.

The Foreigner **

As jy of jou tieners Jackie Chan se naam op die plakkaat sien, beteken dit nie jy gaan die gewone skiet-skop-en-doodbloei-komedie kry nie. Hierdie is ’n swaarwigtige, donker drama oor ’n man wat sy dogter in ’n bomaanval verloor, en dan deur middel van ’n kontak met die IRL (Pierce Brosnan) probeer uitvind wie daaragter sit. Dit is nie hoogskop Kersvakansievermaak nie, maar die soort fliek wat liefs reguit DVD toe moes gegaan het. Teleurstellend en misleidend.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.