Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Beste dokumentêre te sien op 23ste Encounters-fees
’n Toneel uit Chili se innemende The Mole Agent, wat vanjaar vir ’n Oscar benoem is.

Die dokumentêre fees Encounters, ’n vertoonvenster van die wêreld se beste eietydse dokumentêre rolprente, word vanjaar vir die 23ste keer aangebied. Dit gaan weer ’n aanlyn fees wees, maar die moontlikheid van vertonings op die silwerdoek hetsy in ’n inryteater-opset of in die buitelug, word nog ondersoek.

Dit sal in Kaapstad en Johannesburg aangebied word.

Die fees, wat allerweë beskou word as die topfees van dokumentêre rolprente in Afrika, begin op 10 Junie en duur tot 20 Junie.

Die feesbestuur belowe tien dae van “inspirerende rolprente, web-seminare, debatte, asook vraagsessies met plaaslike en internasionale regisseurs”.

Baie rolprente op vanjaar se program is deur vroue geregisseer.

Hoogtepunte waarna uitgesien kan word is:

• Chili se innemende The Mole Agent is vanjaar vir ’n Oscar benoem. Dit handel oor ’n 83-jarige spioen wat ’n ouetehuis binnedring en so talle geheime ontdek. Dit is beskryf as “die mooiste spioenasierolprent wat nog ooit gemaak is”. Die Chileense regisseur Maite Alberdi fokus die kyker se aandag op ’n onbekende wêreld, maar wys ook hoe ingrypend die verouderingsproses mense raak en hoe die samelewing bejaardes hanteer.

Die dansrolprent Ailey fokus op die Afro-Amerikaanse Alvin Ailey-dansgeselskap, gestig deur die danser en choreograaf.

• Die dansrolprent Ailey laat die kollig val op die Afro-Amerikaanse Alvin Ailey-dansgeselskap, gestig deur die danser en choreograaf Alvin Ailey (1931-1989). Die geselskap het ook in Suid-Afrika opgetree en is veral bekend om die dansstuk Revelations. Dit fokus op Ailey, wat ondanks sy grootwordjare in nederige omstandighede op ’n katoenplantasie in Texas een van die ikone van eietydse dans in die wêreld sou word. Daar is argiefmateriaal en Ailey se stem kan as “verteller” gehoor word danksy ou opnames. Jamila Wignot, se rolprent word as “poëties en meditatief beskryf.”

• Die vlugtelingskrisis wêreldwyd kry priemend aandag in die hoogaangeskrewe Stray van die regisseur Elizabeth Lo. Haar invalshoek is ongewoon, sy volg drie wegloperhonde en juis nie mense nie, in die strate van Istanbul. Die honde en mense se hantering van die vierpotiges word die kyker se spieël gerig op die Turkse samelewing, maar eintlik enige samelewing. Dit word as ’n “aangrypende rolprent” met verskuilde betekenislae beskryf. Deurdat Lo nie ’n eenvoudige storielyn volg nie, skep sy eintlik ’n nuwe genre in die kuns van rolprentvervaardiging. Die rolprent daag die kyker uit om te besin oor sy of haar eie aandeel in dit wat blyk ’n voortslepende humanitêre krisis te wees. Die rolprent het verlede jaar die prys as beste internasionale rolprent op die HotDocs-fees gewen.

Downstream to Kinshasa is die eerste rolprent uit die Demokratiese Republiek van die Kongo wat gekies is om op die Cannes-rolprentfees gewys te word.

• Die vlugtelingkrisis is ook in die kollig in Ousmane Samassekou van Mali se langverwagte The Last Shelter. Dit bied ’n blik op die stad Gao aan die soom van die asemrowende Sabel-woestyn. Dit is hier waar die sogenaamde House of Migrants gesetel is. Gao is al vir dekades bekend as ’n toevlugsoord en ’n tydelike tuiste vir duisende migrante van Afrika. Samassekou gesels met die hoopvolles op pad na ’n nuwe lewe in Europa, maar ook met die wat genoodsaak is om terug te keer uit Europa met hul lewe en drome aan skerwe. Die rolprent is met die topprys vereer op die internasionale dokumentêre rolprentfees in Kopenhagen.

Downstream to Kinshasa is die eerste rolprent uit die Demokratiese Republiek van die Kongo wat gekies is om op die Cannes-rolprentfees vertoon te word. Dit was verlede jaar aanlyn in die amptelike program op die vooraanstaande fees te sien. Die regisseur Dieudo Hamadi belig die lewe van ’n klompie gestremde soldate, wat in die Sesdaagse oorlog van 2000 in die Kongo vermink is op ’n bootvaart na Kinshasa op die Kongorivier. Hulle hoop om in die hoofstad geld van die regering te ontvang as vergoeding vir hul ontberinge en verlies in die oorlog meer as 20 jaar gelede.

Die vlugtelinge-krisis is in die kollig in Ousmane Samassekou van Mali se langverwagte The Last Shelter.

• In King Bansah and his Daughter word die lewe gevolg van Céphas Bansah, ’n werktuigkundige met sy eie motorhawe in die Duitse dorpie Ludwigshafe. Tuis in Ghana, Wes-Afrika, is hy die koning van sowat 200 000 mense, hy regeer hulle sedert 1970 uit Duitsland en besoek sy vaderland verskeie kere per jaar. Sy 38-jarige dogter Katharina se ma is Duits. Sy is gebore en het grootgeword in Ludwigshafen. Sy is ’n feminis, kunstenaar en ’n vrye gees. Duitsland is die enigste tuiste en kultuur wat sy ken, sy wonder of sy haar pa se troonopvolger wil wees. In die rolprent besoek sy haar pa se koninkryk saam met hom. Dit is hier waar sy met nuwe oë na haar pa kyk en die betekenis van haar erfenis besef. Agnes Lisa Wegner is die skrywer en regisseur van die rolprent.

• Besoek die webblad encounters.co.za om te bespreek.

-Saamgestel deur Laetitia Pople met bykomende inligting van Variety, imdb.com en die webblad van HotDocs.

Meer oor:  Kaapstad  |  Johannesburg  |  Encounters  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.