Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Beste uit 12 lande kom draai in plaaslike fliekteaters
Victor Polster (links) as Lara in die Vlaamse prent ‘Girl’.

Fliekvlooie in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad moet nou al tien dae vanaf einde November opsy sit. Waarsku ook sommer jou vriende en familie dat jy hulle gaan saamsleep om ook die wonder van Europese pryswenner-rolprente te beleef.

Die beste flieks uit 12 lande word vertoon en volgens die feeskurator, Peter Rorvik, is die goue draad in al die prente ’n soeke na eiewaarde en betekenis in ’n wêreld waar stelsels rondom ons ten gronde gaan.

Frankryk se Les Misérables open die fees, maar voordat jy jou neus optrek: Dit is nie Victor Hugo se bekende musiekspel wat ná die studente-opstande in 1968 in Parys vervaardig is nie. Dié Misérables spruit weliswaar ook uit opstande in Parys, maar dié in 2005 wat die regisseur Ladj Ly eerstehands ervaar het.

Die prent gaan oor drie lede van die teenmisdaad-brigade wat gestuit word wanneer hulle inhegtenisnemings wil uitvoer. Les Misérables het vanjaar die jurieprys op die Cannes-rolprentfees ontvang en is Frankryk se inskrywing vir die Oscars se buitelandse kategorie vir 2020.

Sarah Greene vertolk die besorgde ma in ‘Rosie’.

Spanje se Oscar-bekroonde Pedro Almodóvar span in sy 21ste prent weer saam met die bekende Antonio Banderas en Penelope Cruz wat hom twee pryse in Cannes besorg het. Pain and Glory is ’n semi-outobiografiese verhaal oor ’n regisseur wie se gesondheid agteruitgaan, en sy soeke na betekenis en hoop in die lewe.

Cold War gaan oor ’n passievolle liefdesverhaal tussen ’n musiekregisseur en sanger wat mekaar tussen die ruïnes van die naoorlogse Pole ontmoet en die verhouding dan in Berlyn, Parys en die destydse Joegoslawië voortsit. Die Poolse regisseur Pawel Pawlikowski het op vanjaar se Cannes-fees die prys vir beste regie vir dié swart-en-wit meesterstuk ontvang. Nog vyf Europese pryse het gevolg.

Die hoofkarakter in System Crasher, Duitsland se keuse vir die Oscars, is die negejarige Benni wie se buie tussen dierbaarheid en aggressie wissel. Sy dryf almal om haar tot wanhoop en waansin, ook die maatskaplike werkers wat na haar uitreik.

Suid-Afrika se Gavin Hood is die regisseur van Brittanje se feesfliek, Official Secrets, wat op ’n ware gebeurtenis gegrond is. Katharine Gun (Keira Knightley) is ’n Britse intelligensie-agent wat ’n memorandum na die VSA laat uitlek sodat hulle uiteindelik ten gunste van ’n inval in Irak sal stem.

Sonny van Utteren (links) en Josephine Arendsen is die jong akteurs in die Nederlandse prent ‘My Extraordinary Summer with Tess’.

Uit Oostenryk kom Styx, ’n “hoogs intelligente prent en ’n topklas-riller” oor ’n vroue-seiljagvaarder wat vlugtelinge te hulp snel nadat hulle op die oop see in die moeilikheid beland.

Die Vlaamse prent Girl vertel die verhaal van die 15-jarige Lara wie se droom dit is om ’n ballerina te word, maar in ’n seun se liggaam vasgevang is. Haar fisieke en sielkundige stryd as mens en danser in die voorbereidingsproses vir ’n geslagsveranderingsoperasie word uitgebeeld.

Die krag en liefde van ’n gesin in tyd van nood word in die Ierse prent Rosie weerspieël. Rosie is ’n ma wat tot elke prys die gesin beskerm en hul waardigheid behou wanneer sy en haar geliefdes hul huis verloor.

Vrouekrag is ook die fokus in The Vice of Hope, ’n drama oor armoede, immigrasie uit Afrika, mensehandel en sake in dorpe rondom Napels in die suide van Italië. Daar is egter uitkoms vir die protagonis Maria, wat ’n skakel na haar verlede en toekoms vind.

My Extraordinary Summer with Tess is ’n sensitiewe Nederlandse prent oor ’n seun en meisie se pad van selfontdekking wanneer hulle die drempel van kindwees na adolessensie oorsteek, en die besef kry van hoe belangrik familie is.

Portugal se bydrae is die verregaande romantiese en satiriese wetenskapsfiksie Diamantino oor ’n ster-sokkerspeler wat die regering vir sy kloningsplan in die visier het.

Aktiviste sal hou van die Sweedse prent Push waarin Leilani Farha namens die VN oor die wêreld heen reis om vas te stel waarom sommige mense uit hul stadshuise gedryf word, en ander nie. Geld is die wortel van dié kwaad.

Die fees word aangebied in samewerking met die Europese Unie se afvaardiging in Suid-Afrika en 12 Europese lidstate se kultuuragentskappe of ambassades.

* 29 November tot 8 Desember in Cinema Nouveau-teaters in Johannesburg, Pretoria en Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.