Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Betower deur hul eie liefdesverhaal op grootskerm
Sampie en Irma de Klerk Donderdagaand by die première van die rolprent Vir die voëls, wat op hul eie liefdesverhaal gegrond is.

Vir Irma en Sampie de Klerk was die geleentheid om hul liefdesverhaal op die grootskerm te sien, ’n onvergeetlike ervaring.

“Om op die rooitapyt te stap was vir ons uit ’n ander wêreld. Ons het nooit gedink so iets sal met ons gebeur nie. Die groot sterre wat op die rooitapyt was en almal anders het ons ongelooflik behandel,” sê Irma.

Hul verhaal is verwerk tot die rolprent Vir die voëls as deel van Huisgenoot se viering van sy 100ste verjaardag.

Henriëtte Loubser, redakteur van Huisgenoot, sê lesers is gevra om hul liefdesverhaal vir ’n kompetisie in te skryf.

Irma, van Newcastle, se verhaal oor die hobbelrige liefdespad van haar en haar man, Sampie, het gewen.

Die première van die rolprent was Donderdagaand in Johannesburg.

Vir die Voëls, wat in die laat 1970’s afspeel, vertel hoe Irma Humpel daarvan oortuig was dat onafhanklikheid die enigste vorm van vryheid is, maar toe het Sampie de Klerk haar oortuigings op verskillende maniere kom uitdaag.

“My pa was ’n streng man en het baie gedrink. Ons het in ’n moeilike huis groot geword en daarom het ek besluit ek gaan nooit trou nie,” sê sy.

“Ek ken Sampie al van jongs af en hy het altyd vir my gesê hy gaan eendag met my trou. Ek het my nooit daaraan gesteur nie, maar hy het aangehou. ’n Vriendin het eendag vir my gesê die enigste rede waarom ’n man jou jaag, is wanneer jy hom ignoreer en dat hy sal ophou as jy met hom praat.”

Irma het ’n plan uitgedink en het besluit as sy vir Sampie vra om te trou, sal hy haar uitlos, maar dit het nooit gebeur nie.

“Toe hy terugkom van die grensoorlog af, het ek hom gevra om met my te trou. Ek het gedink hy gaan nee sê, maar toe sê hy ja. Ek het groot geskrik, dit was die eerste keer in my lewe dat een van my planne nie uitgewerk het nie. Ons huwelik was maar eintlik ’n plan wat skeef geloop het,” skerts sy.

Francois Jacobs en Simoné Nortmann is in die nuwe Afrikaanse rolprent Vir die voëls te sien.

Die paartjie, wat op Kersaand getrou het, sal vanjaar hul 33ste huweliksherdenking vier.

“So baie goed het opgekom in die fliek, baie van die goed het ons al vergeet. Dit het ons aan goeie en slegte herinneringe laat dink, maar die terugflitse was lekker. Ek het ek die meisie gekry wat ek wou gehad het. Ek was toe baie verlief op haar en ek voel steeds dieselfde oor haar,” sê Sampie.

Simoné Nortmann, wat die rol van Irma vertolk, sê dit was haar eerste rolprent en dit voel steeds onwerklik.

“Wanneer jy ’n karakter speel, is daar geen bande nie en kan jy die karakter se persoonlikheid van die begin af skep volgens jou interpretasie van die draaiboek, maar wanneer jy ’n regte persoon speel, moet jy seker maak dat jy getrou bly aan die persoon,” sê sy.

Francois Jacobs, wat die manlike hoofrol van Sampie de Klerk vertolk, sê dit is ’n fliek vir oud en jonk.

“Mense wat in daardie tyd grootgeword het, sal dit kan herbeleef en die jonges kan sien hoe dinge toe gedoen is.”

Die fliek begin op 25 November landwyd in teaters draai.

Kyk hier na die lokprent: https://www.youtube.com/watch?v=o5uGD5mfsBM

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.