Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Bielie van ’n fliekfees wag in Tuinroete
Die pas bekroonde dokkie ‘Influence’ wys op die Griff-rolprentfees wat vanjaar virtueel aangebied word.

Soveel as 90 rolprente, dokkies en kortprente van bekende regisseurs asook opkomende regie-talent wag op fliekvlooie wat virtueel inskakel vir die Garden Route internasionale rolprentfees (Griff).

Volgens die organiseerders van die fees, wat voorheen bekend gestaan het as die Knysna-rolprentfees, wag tradisionele dramas, misdaad, komedie en rillers asook politieke flieks en prente met ’n gemeenskapsbewustheid uit verskillende lande. Benewens plaaslike prente is rolprente van Afrika sterk verteenwoordig asook prente van Noord- en Suid-Amerika, Australië en Europa.

Die fees begin vandag en duur tot 11 Oktober. Boonop neem nege dorpe van die skilderagtige Tuinroete deel aan die inryteater-inisiatief waar rolprente op die outydse manier op ’n grootskerm vertoon word met die gehoor veilig in hul motors. Dié onderneming is begin weens die uitdagings wat die Covid-19-pandemie stel wat gesonde afstand betref.

Die inryteaters is van 25 September oop.

Fliekvlooie wat ook sekere Afrikaanse prente misgeloop het in fliekteaters, kan dit nou aanlyn geniet. Die prente sluit in onder meer Quentin Krog se Ander Mens, drie prente van Christiaan Olwagen - Die Seemeeu, Kanarie en Poppie Nongena

Schalk Bezuidenhout vertolk die hoofrol in die musiekdrama ‘Kanarie’ van die regisseur Christiaan Olwagen.

asook die prent Somerkersfees van die regisseur Jaco Bouwer.

Onder die ander hoogaangeskrewe Suid-Afrikaanse prente is Cut Out Girls van Nicola Hanekom wat oor afspraakverkragting handel, twee eietydse Westerns Flatland van Jenna Bass met ’n vrouerolverdeling en Michael Matthews se grinterige Five Fingers for Marseilles met polisiegeweld as tema, en Jahmil XT Qubeka se boksprent Knuckle City wat handel oor ’n bokser wat weer in die kryt tree ná sy aftrede.

Ook in die plaaslike mengsel is ’n wetenskapfiksieprent Fried Barry oor ’n dwelmverslaafde man wat deur vreemde wesens ontvoer word, die komedie Finn, van ’n kantoorwerker wat sinvol met die kantoor se goudvis kan praat, asook Fruitful Emission, wat handel oor ’n onderdanige vrou wat haar man smeek om ’n kind. Losing Lerato is ’n aksieriller wat fokus op ’n suksesvolle, loopbaangerigte man wat sy dogter ontvoer nadat sy eertydse vrou en die hof hom besoekreg weier.

Die veteraan-akteur Paul Slabolepszy vertolk die hoofrol in die komiese Mr. Johnson, as ’n 76-jarige man wat 50 jaar in ’n koma was en sy nuwe lewe met oorgawe aanpak wat sy geliefdes geskok laat. Vir diegene met meer hare op hul tande wag Rage, ’n riller oor ’n klomp tieners wat dink die vakansie van hul lewe wag op hulle met hul aankoms op ’n klein verlate kusdorpie.

Kagiso Modupe vertolk die hoofrol en is die vervaardiger van die trefferprent ‘Losing Lerato’ wat talle oorsese pryse losgeslaan het.

Onder talle sterk dokumentêre rolprente op die program is versamel;

• Influence, die dokkie wat pas aangewys is as die beste plaaslike dokumentêr op die internasionale rolprentfees in Durban. Dit handel oor die Bell Pottinger-reklamemaatskappy van die ontslape Tim Bell en die rol wat dit gespeel het in onder meer in staatskaping in Suid-Afrika.

• Die volgende generasie is aan die woord in die plaaslike dokkie Good Hope waarin hulle wys hoe hulle die grootste uitdagings wat op hulle wag, gaan takel.

• Die wildlewe-dokkie Beyond the Fence van Suid-Afrika, toon hoe drie vroue hul gemeenskap inspireer om vir die natuur en dierelewe te veg.

United we Sing is ’n Amerikaanse prent oor twee kore, een van Amerika en een van Kenia wat saamsing en so groot veranderinge in hul gemeenskappe bring.

Vollengte rolprente van onder meer Italië, België, Amerika, Rusland, Brittanje, Griekeland en Spanje wag. Van die hoogtepunte is:

• Die Britse regisseur Simon Bird se komedie Days of the Bagnold Summer, wat handel oor ’n tiener met oorfone vasgeplak op sy kop. As hy nie na heavy metal-musiek luister nie, probeer hy oor die weg kom met sy ma wat as bibliotekaresse werk.

• Kroasië se F20, ’n hoogaangeskrewe sielkundige riller oor ’n jong vrou se nuwe verhouding wat in ’n nagmerrie ontaard. Die regisseur is Arsen Anton Otojic.

Jenna Bums the Loveseat is ’n komedie van die regisseurs Carter Adkins en Bill Badi. Dit handel oor ’n vrou wat ná ’n teleurstelling haar lewe en loopbaan weer op koers probeer kry. Sy bly by haar broer, van wie sy vervreemd is, wat haar help om haar voete te vind.

• Spanje se Lone Wolves, ’n donker tronkdrama wat die lewe van verskeie karakters volg en hoe hulle agter tralies beland het.

Besoek die webblad www.gardenrouteinternationalfilmfestival.com vir kaartjies.

Griff word ondersteun deur die Nasionale Rolprent- en Videostigting (NFVF), WESGRO, Media Film Services, Fitch & Leeds en Value Film Fleet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.