Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Blitsige Sonic nou op grootskerm te sien

Bleeksiele wat in die 1990’s verknog aan videospeletjies was, gaan uiteindelik vir Sonic die krimpvarkie op die grootskerm kan sien.

Die rolprent Sonic the Hedgehog, wat op die wêreldbekende Sega-videospeletjie gegrond is, word vandeesweek saam met nog drie rolprente in Suid-Afrika uitgereik.

Die Amerikaanse regering en Dr. Robotnik (vertolk deur die grapjas Jim Carrey) is in die rolprent op die blou woelwater, Sonic, se spoor nadat hy vanaf sy eie planeet na die aarde reis en ’n massiewe kragonderbreking dwarsoor Noord-Amerika veroorsaak.

Wanneer Sonic (wie se stem deur Ben Schwartz verskaf word) vlug en boonop ook sy bekende goue ringe verloor, nader hy ’n plaaslike sheriff om hom uit die moeilikheid te help.

Brian Lowry skryf op CNN se webwerf die rolprent is redelik “eenvoudig” en dat die teikenmark definitief kinders is, “met die toegevoegde bonus dat dit dalk ook aanklank sal vind by hul ouers wat die byna 30 jaar oue Sega-speletjie goed ken”.

Sonic the Hedgehog word in Suid-Afrika in 2D uitgereik. Ouderdomsbeperking: OL (ouerleiding). Tydsduur: 99 min.

* Die regisseur Greta Gerwig se Oscar-bekroonde rolprent Little Women sal waarskynlik ook vandeesweek heelwat fliekvlooie lok.

Die drama is die soveelste rolprentverwerking van die Amerikaanse romanskrywer Louisa May Alcott se gelyknamige 1868-roman, wat die grootwordjare van die vier March-susters – Jo, Meg, Amy en Beth – tydens die Amerikaanse burgeroorlog vasvang.

Kritici het net lof vir Gerwig se verbeelding van die roman. Mary Sollosi van Entertainment Weekly skryf sy het “die mees vernuftige rolprentweergawe (van die boek) nog” opgelewer.

Wendy Ide van The Guardian vat dit nog ’n stap verder: “Naas Armando Iannucci se speelse David Copperfield, is dit die varsste, mees ligvoetige literêre verwerking van die jaar.”

Die rolprent word in 2D uitgereik. Ouderdomsbeperking: 7-9 OL DGV (ouerleiding, dwelms, geweld, vooroordeel). Tydsduur: 135 min.

* Just Mercy is ook op ’n boek gegrond, dié keer die gelyknamige memoire deur die prokureur en skrywer Bryan Stevenson.

Michael B. Jordan vertolk die rol van Stevenson, wat ’n man verteenwoordig nadat hy onregverdig en verkeerdelik aan moord skuldig bevind word – en in die dodesel op teregstelling wag.

Gehore is versot op dié regsdrama: Hulle het dit met 99% op die webwerf Rotten Tomatoes beloon, hoewel kritici minder beïndruk is en dit net 83% gegee het.

Just Mercy word in 2D uitgereik. Ouderdomsbeperking: 13 GTV (geweld, taal, vooroordeel). Tydsduur: 135 min.

* Hoeveel rolprente kan Hollywood maak oor gruwelpoppe wat Amerikaners die horries gee? Oënskynlik oneindig baie.

Brahms: The Boy II is die opvolg tot die 2016-gruwel The Boy, en vertel (weer) die storie van ’n porseleinpop genaamd Brahms wat ’n gesin se lewe hel maak.

Die rolprent, met die aktrise Katie Holmes in die hoofrol, is glo so goed soos wat dit klink. ’n YouTube-gebruiker het onderaan die lokprent geskerts dat Holmes deurgaans met afgryse vervul is omdat die pop soos haar eksman, Tom Cruise, lyk.

Die gruwelprent word in 2D uitgereik. Ouderdomsbeperking: 13 GG (geweld en gruwel). Tydsduur: 86 min.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Just Mercy  |  Flieks  |  Little Women
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.