Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Boks en avontuur op fliekspyskaart

Drama, avontuur en opwinding wag vandeesweek in die fliekteaters op fliekvlooie.

Die Suid-Afrikaanse rolprent Knuckle City, wat vanjaar in die kategorie buitelandse rolprente vir die Oscar-resies voorgelê is, begin Vrydag landwyd wys.

Dit is ’n boksfliek met die gebruiklike temas van dié genre – ontgogeling en verlossing. ’n Bokser, wie se glorieryke dae iets van die verlede is, probeer vir oulaas om terug in die kryt te klim. Sy broer staan hom by, maar dit blyk dié het ’n ander agenda. Die fliek delf in toksiese manlikheid en belig die mishandeling van vroue deur mans.

Die misdaaddrama het verlede jaar die Durbanse rolprentfees geopen en op die fees is Bongile Mantsai as beste akteur vir sy vertolking van die hoofrol vereer. Dit is ook op die internasionale rolprentfees in Toronto vertoon. Die regisseur is Jahmil X.T. Qubeka en die ouderdomsbeperking is 18DTNSG.

* ’n Vrou se verbete pogings om van haar man wat haar mishandel te ontsnap, is die gegewe van die riller The Invisible Man. Niemand glo haar nie, nie haar vriende, die polisie of haar sielkundige nie – en die probleem is haar man is dood. Sy glo egter dat hy daarop uit is om haar te vermoor. Dit is ’n eietydse verwerking van H.G. Wells se The Invisible Man van 1897.

Die hoofspeler is Elisabeth Moss (The Handmaid’s Tale). Die regisseur en draaiboekskrywer is Leigh Whannell. Die fliek word ook in IMAX-teaters in Suid-Afrika uitgereik.

* ’n Gerehabiliteerde tronkvoël is die hoofkarakter in die Britse aksiedrama The Informer. Pete Koslow (vertolk deur Joel Kinnaman) word deur ’n korrupte faksie van die Amerikaanse FBI genader om die Poolse mafia in New York binne te dring. Hy het vele kontakte in die tronk opgebou, meen hulle. Hulle stuur hom terug tronk toe en bewimpel slinkse planne om die mafia aan die pen te laat ry, al beteken dit dat Pete en sy gesin se lewe in die gedrang sal kom. Die regisseur is Andrea Di Stefano.

* Harrison Ford keer terug na die silwerdoek in die avontuurdrama The Call of the Wild. Die kyker word in die geskiedenis teruggeneem na die goudstormloop in Amerika en ontmoet John Thornton (Ford) en die goedhartige hond, Buck, wat vele avonture in die wildernis meemaak voordat Buck hom by ’n trop wolwe aansluit om as ’n wilde dier te leef. Dit is ’n storie oor pioniers, goudjagters en die lojaliteit wat ’n dier vir sy mense koester. Die regisseur is Chris Sanders. Dit is gegrond op die geliefde roman deur Jack London.

– Saamgestel deur Laetitia Pople

Meer oor:  The Informer  |  The Invisible Man  |  Knuckle City  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.