Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Boosheid in ‘goeie families’ lok Kapp na ‘Griekwastad’
Arnold Vosloo in die rol van kol. Dick de Waal in die rolprent Griekwastad.

Dat boosheid in die mees vooraanstaande families skuil, is maar een van die temas wat die draaiboekskrywer Tertius Kapp gelok het om die verhaal van Don Steenkamp te vertel. Hy het op die vooraand van die eerste vertoning van die rolprent vandeesweek by die kyknet Silwerskermfees meer oor die draaiboek verklap.

Die dramatiese verloop van die grusame gebeure wat op Goeie Vrydag 2012 op die plaas Naauwhoek in die Noord-Kaap afgespeel het, is die gegewe van ’n nuwe rolprent van die regisseur Jozua Malherbe.

Die tienerseun Don Steenkamp is kort voor sy 18de verjaardag vir 20 jaar tronk toe gestuur vir die moord op sy pa, Deon Steenkamp, sy ma, Christel, en sy 14-jarige suster, Marthella. Hy het haar ook verkrag. Don was 15 toe hy die moorde gepleeg het.

“Dis ’n storie met baie vleis, verskoon die metafoor. Temas van seks, geweld en manlikheid in ’n gewelddadige land soos Suid-Afrika. Een van die aspekte van die storie wat interessant is, is die gedagte ‘evil lurks within’; dat daar in die mees vooraanstaande families soms verskriklike goed wegkruip,” sê Tertius Kapp, die draaiboekskrywer van die rolprent Griekwastad wat later vandeesweek op die kykNET Silwerskermfees vir die eerste keer vertoon word.

Hy het toevallig in dié tyd die Amerikaanse skrywer Lionel Shriver se roman We need to talk about Kevin gelees, wat ook verfilm is. Dit handel oor ’n tienerseun wat twee van sy familielede asook van sy skoolmaats vermoor het.

“Beide het tot my gespreek omdat dit taboe temas is waaroor mense eerder wil swyg, maar tog graag oor wil lees. Ek vind die gehoor se fassinasie fassinerend. As jy kyk na die stories in ons gesinstydskrifte is dit óf Gert van Rooyen óf ’n televisie-aanbieder se wittebrood. Daai spanning is vir my regtig vreemd.”

“Dit ondersoek die sielkundige aspekte van massamoorde in skole in Amerika. Dit sien ons darem nog nie soveel hier nie, maar in my navorsing het ek heelwat interessante parallelle tussen Amerikaners en Afrikaners gevind – dalk het dit iets met die frontier-mentaliteit te doen. En ja, we need to talk about Don (en Henri van Breda, en . . .).

Die bron van sy draaiboek was die ondersoekende joernalis Jacques Steenkamp se boek The Griekwastad Murders – The Crime That Shook South Africa wat in 2014 verskyn het.

“Ons fokus eintlik op ’n kort deel in die sage. Die tydperk voor die hofsaak sou begin. Die meerderheid van die inligting wat ek gebruik, kom uit Steenkamp se navorsing.”

Kapp het Griekwastad besoek en vind dit ’n baie interessante ruimte.

“As jy teruggaan na die geskiedenis van die Griekwa-republieke, voel dit soos ’n dorp wat gebore is in geweld, as ’n mens byvoorbeeld lees oor die gewelddadige straf wat uitgedeel is by die slangkuil en die galgboom. Dis asof mens nog iets daarvan kan aanvoel op die dorp.”

Hy is seker dat die mense wat van daar kom, van hom sal verskil.

“Ek het as’t ware met dié storie, van Don Steenkamp, in my gedagtes op die dorp aangekom.”

Hy het met baie mense gepraat, en dié gesprekke het bygedra tot die draaiboek – maar hy gaan nie name noem nie.

“Die insiggewendste gesprekke was met die hoofondersoekbeampte, kolonel (nou brigadier) Dick de Waal. ’n Kliniese, presiese polisieman wat nie konformeer tot stereotipes of media-uitbeeldings van polisiemanne nie.” Die karakter word deur Arnold Vosloo, ’n Suid-Afrikaans gebore akteur wat nou al meer as drie dekades in Hollywood werk, in die prent vertolk.

Tertius Kapp

“Toe ek De Waal ontmoet, het ek geweet hy is die hoofkarakter in die prent, se Kapp. “Die prent kan eintlik opgesom word met Dick se stelling aan die begin van sy getuienis: ‘Ek het deur ’n sielewroeging gegaan. Ek kon my nie indink of dit oor my hart kry dat ’n 15-jarige seun by die moorde van sulke geliefde steunpilare in die gemeenskap betrokke was nie . . . Maar daar was uiteindelik net een verklaring.’ ”

Steenkamp is reeds skuldig bevind aan die moorde en vir 20 jaar tronk toe gestuur; die fliekganger weet reeds wat die uiteinde van die verhaal is.

Hoe het hy as draaiboekskrywer die “voldonge feite” hanteer?

“Tot ’n mate werk dit nie teen jou nie. Elke ding kry ’n dubbele betekenis omdat ons reeds weet wat kom – ons moet net uitwerk hoe dit inskakel by die laaste stuk van die legkaart, wat ons reeds in ons hand hou. Don en Marthella wat perdry, Don en sy pa wat stry . . . alles is gelaai. Dit skep ’n natuurlike spanning as jy reg daarmee werk.”

Die groter uitdaging is om te werk met al die feite wat beskikbaar is. “Dit kan oorweldigend raak, en dat jy heeltyd moet gaan nagaan en weer nagaan wat die waarheid was.”

As draaiboekskrywer het hy self inderwaarheid ’n speurder geword. “Daar was heeltyd vrae soos: ‘Was die skuur se ligte op daai stadium aan of af? Hoeveel skote voor die tyd, hoeveel ná die tyd? Hoeveel patrone is daar in ’n .357, hoe groot is die magasyn van die .22? Hoe lank neem bloed om te stol?’ En so aan.”

Noukeurige detail is uiters belangrik in die opweeg van getuienis, meen hy. “Dis egter eenvoudig te veel vir ’n gehoor om binne 100 minute te verteer.”

Hy het sowat agt rowwe weergawes van die draaiboek geskryf voordat die regisseur Jozua Malherbe aan boord gekom het en hulle saam verstellings gemaak het. Malherbe is as regisseur bekend vir die televisiereekse Bloedbroers en Fluiters.

Dit is die tweede ware storie waarby Kapp betrokke is ná hy die draaiboek van die prent Dis ek, Anna geskryf het. Anna is gegrond op die skrywer Anchien Troskie, onder die skuilnaam Elbie Lötter, se vertelling van die jarelange verkragting van Anna deur haar stiefpa.

Ná al die ware verhale is hy nou eers reg vir ’n bietjie fiksie, meen die Hertzogprys-bekroonde dramaturg.

“Dis nogal uitputtend, die verantwoordelikheid om so te werk met stories van mense wat jy weet nog lewe, en dit heel moontlik gaan kyk. Ek het onlangs ook The President’s Keepers (van Jacques Pauw) verwerk vir ’n reeks, en later is jou kop so vol van ander mense se lewens dat jy nie meer plek het vir jou eie nie.”

Sowel Griekwastad as Dis ek, Anna is vir hom aangebied.

“Beide het tot my gespreek omdat dit taboe temas is waaroor mense eerder wil swyg, maar tog graag oor wil lees. Ek vind die gehoor se fassinasie fassinerend. As jy kyk na die stories in ons gesinstydskrifte is dit óf Gert van Rooyen óf ’n televisie-aanbieder se wittebrood. Daai spanning is vir my regtig vreemd.”

Volgende op sy doenlysie is sy belastingopgawe en, skerts hy, moet hy by ’n sielkundige uitkom.

“Volgens die Facebook-kritici van Die Spreeus moet ek dringend ’n sielkundige gaan sien. Ek werk aan ’n paar goed, maar kan nie te veel praat daaroor nie, netnou jinx ek dit.”

* Kapp is ook die draaiboekskrywer van die bonatuurlike rillerreeks Die Spreeus op kykNET. As dramaturg is hy bekend vir die toneelstukke Liewer, Rooiland en Oorsee.

* Griekwastad wys op 22 Augustus om 19:45 in die The Bay Hotel in Kampsbaai as deel van die kykNET Silwerskermfees. Dit word in Maart volgende jaar nasionaal uitgereik.

Meer oor:  Silwerskerm19  |  Griewkwastad  |  Rolprent
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.