Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Silwerskerm:
Breinlose fliek met verlepte zombies

Zombieland: Double Tapmet Woody Harrelson en Jesse Eisenberg.

Regisseur: Ruben Fleischer. **

Hierdie doller-as-kopaf-fliek is soos Pac-Man wat jou breinselletjies een vir een verorber. Vir 100 minute lank voel jy hoe jou intelligensie voos gekou en onderskat word. En so min as wat ek van die fliek gehou het, so treffend is dit vir zombie-bewonderaars.

As jy The Walking Dead op televisie gevraatkyk het, sal hierdie bloeddorstigheid die fliek-kannibaal in jou bevredig sonder tamatiesous.

George A. Romero het zombies in die 1960’s eintlik gewild en koel gemaak met klassieke donker komedies soos Night of the Living Dead en 1978 se Dawn of the Dead. My eerste kennismaking met Romero was in die 1980’s in ’n New Yorkse vlooipaleis waar ons op die vloer in ’n agterstraat moes sit, en banger was vir die rotte wat daar rondgeskarrel het as die dooies!

Dié slag moet die lewendes uit ’n vervalle Withuis ontsnap en heelhuids deur Amerika vlug. Nie van Trump nie, maar van zombies! Op pad ontmoet hulle ’n paar verdwaalde siele wat saampiekel. Die fliek raak dan ’n groepswoeps van geweld, bloedige oordaad en skuins grappe, en uiteindelik ’n orgie van moorddadige komedie.

Die probleem is om ’n mens se aandag ’n hele fliek lank te hou met jafels wat met stywe arms en vrot gesigte rondsteier. As hulle jou byt, neem jy self die tweespoorpaadjie hel toe met oë wat oor jou wangbene hang en tande wat oor dik lippe peul. Jy lag vir lewende dooies wat nie weet hulle is dood nie.

Nuwe flieks

A Rainy Day in New York ***

Hier verwens ons El Niño droëbek, terwyl dit sous in New York. Maar dit reën ook oor twee verliefdes se deurweekte liefdeslandskap wanneer ’n neurotiese bleeksiel, ’n tipiese Woody Allen-kloon (Timothée Chalamet), en sy geliefde, gespeel deur die verkwiklike Elle Fanning, vir ’n naweek New York toe gaan. Kwinkslae, wat ’n mens soms eers ná jou tweede handvol sjokoladebobbels snap, en pragtige New Yorkse strate versier hierdie swart komedie met sy muurpapierdialoog. Allen ondersteun darem die dialoog met uitstekende regie. In die kol as jy lank laas in jou latté geproes het.

Escape Plan: The Extractors *

O wee! ’n Akteur moet weet wanneer om die tuig neer te lê, en arme Sylvester Stallone foeter steeds voort. In dié gewelddadige en onwaarskynlike nabootsing van miljuisende ander soortgelyke stories, moet slagoffers, wat wreedaardig ontvoer is, uit ’n soort tronk bevry word. Talle mense sterf glansryk vir ons vermaak, behalwe natuurlik die Italian Stallion. Net as jy diep in jou springmielieboks vir harde mieliepitte grawe en kort-kort na jou selfoon loer.

Natuurlik word niks ernstig opgeneem in hierdie zombie­kaperjolle nie. Bekende akteurs soos Woody Harrelson en Emma Stone geniet hulle gate uit en neem ’n blaaskans van ernstige rolle. Met nonchalante vermetelheid moet hulle twee keer skiet om die dooies te herinner hulle is dood, vandaar die “double tap”-titel. Bloedige humor word tot die uiterste gevoer wanneer selfs die dame met die lamp (Columbia Films se logo) lewende dooies met haar lamp omklits nog voor die fliek begin het!

Natuurlik is alles oordadig en die humor is so pynlik soos ’n tandarts wat ’n senuwee raakboor. Jy giggel van skone senuweeagtigheid en lag met ’n oop keelgat vir dooie voëlverskrikkers wat kortstondig lewe kry. Nou moet ’n bisarre groep anti-helde probeer om grillergeeste te oorwin deur hulle in ’n lokval te lei.

Natuurlik oorspeel die akteurs met uitpeuloë en wydgesperde monde groter as die gat in Kimberley, en met humor droër as ons verskroeide land. Een van die enigste toneelspel-ligpunte is ’n kamp Zoey Deutch as ’n dowwe Dolla wat nie ’n ooglid verroer wanneer die dooies haar teister nie. Haar snedige humorsin bied genoeg beskerming om selfs die dooies af te skrik. Sy is regtig koddig, en in ’n pienk mondering wat die koninginne van The Adventures of Priscilla, Queen of the Desert jaloers sou maak, wankel sy van ’n yskas na die Withuis voor lewende dooies uit. Sy is skreeusnaaks.

Die talentvolle Abigail Breslin van Little Miss Sunshine-faam, asook Rosario Dawson se talente word egter met die drein afgespoel, want nie een van die twee lewer ’n noemenswaardige bydrae tot die absurde gebeure nie.

Soos die ouderdomsperk waarsku, is die humor en geweld eks­plisiet en dodelik. Dis soos om by jou beste maatjie oor te slaap, skelm te rook en ’n bier te drink terwyl jy na ’n verbode fliek kyk. Alles waarteen jou ouers (en die destydse sensors) jou gewaarsku het, gebeur hier in oormaat en jy moet lag vir al die snert!

Die breinlose fliek met sy bloedige, moedswillige sjarme is ’n laataand-laaglê-fliek wat jou breinselle laat uitspan en jou lagspiere met ’n treksaag bykom. Jy sal nie glo waarvoor jy lag nie. Dit het die IK van ’n verlepte slaaiblaar op die Karoovlaktes. En die tergendste vraag is nie of die groepie geweldenaars van die zombies sal kan ontsnap nie, maar hoe Woody Harrelson in daardie stywe broek inpas. Dit, en dié raaisel: Waarom het hulle ’n vervolg op die eerste fliek gemaak indien dieselfde grappe herhaal word?

Daar is nou iets om jou brein mee besig te hou!

  • Niemand onder 18 as gevolg van dwelmmisbruik, geweld, taal en erge gruwels.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.