Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Cannes gaan weer groot in Europese somer
Adam Driver en Marion Cotillard is die sterre van die musiekprent Annette, waarmee die fees geopen word. Die regisseur is die Fransman Leos Carax.

Die Amerikaanse rolprentmakers Sean Penn en Wes Anderson is onder die groot name wie se flieks vanjaar om die topprys by die Cannes-rolprentfees meeding.

Die organiseerders van die wêreld se grootste en glansrykste fees sê hulle is vol vertroue dat daar vanjaar groot dinees asook vertonings op die strand aangebied sal kan word wanneer die Covid-19-beperkinge op 30 Junie in Frankryk verslap word.

Die fees en gepaardgaande rolprentmark, wat gewoonlik jaarliks in Mei aangebied word, is verlede jaar weens die pandemie gekanselleer en word later vanjaar van 6 tot 17 Julie in die kusdorp aangebied.

Daar sal “geen gesoenery aan die bopunt van die rooi tapyt wees nie”, maar die beperkinge is verslap, het die feesdirekterur Thierry Frémaux volgens Reuters gesê. Vertoningslokale mag 100% vol wees. Die dra van maskers sal steeds verpligtend wees.

“Die epidemie is nog nie verslaan nie, so dit is belangrik dat ons wys ons is verantwoordelik, redelik en opgewonde,” het hy aan Deadline gesê.

Waar die program in 2019 swaar gelaai was met Amerikaanse rolprente, is daar vanjaar minder groot Amerikaanse name.

Onder die flieks wat in die kompetisie vir die gesogte Goue Palm oftewel die Palme d’Or meeding, is flieks met sterk Covid-19-temas waarin karakters met maskers optree.

“Die rolprentkuns is ook deur die pandemie geraak en dit word in die rolprente weerspieël,” het Fremaux op ’n nuuskonferensie gesê.

Catherine Corsini se La Fracture speel in ’n hedendaagse hospitaal af.

Onder dié rolprente tel die Franse regisseur Catherine Corsini se La Fracture wat in ’n hedendaagse hospitaal midde-in protesaksie afspeel.

Onder die flieks wat in die kompetisie meeding, is The French Dispatch van Wes Anderson, bekend om, onder meer, The Royal Tenenbaums en The Grand Budapest Hotel. Sy jongste fliek speel af in die kantoor van ’n fiktiewe Amerikaanse koerant. Bill Murray en Tilda Swinton vertolk die hoofrolle.

Dan is daar ook Sean Penn se Flag Day. Dit handel oor die dogter van ’n swendelaar wat haar probeer versoen met haar pa se verlede. Penn speel daarin teenoor sy dogter Dylan Penn.

Vanjaar se beoordelaarspaneel word deur die Amerikaanse rolprentmaker Spike Lee gelei. Die Amerikaanse aktrise en regisseur Jodie Foster gaan ’n ere-Palme d’Or van die fees ontvang. Sy is ook ’n eregas by die openingseremonie op 6 Julie. Sy het die fees vir die eerste keer op 13-jarige ouderdom in 1976 bygewoon as deel van die rolverdeling van Martin Scorsese se Taxi Driver.

Italië se Nanni Moretti, wat die Palm d’ Or in 2001 gewen het, se nuwe rolprent Tre Piani, wys op die fees, asook die Nederlandse rolprentmaker Paul Verhoeven se rolprent Benedetta, wat beskryf word as ’n liefdesverhaal in ’n klooster.

Adam Driver en Marion Cotillard is die sterre van die romantiese musiekprent Annette, waarmee die fees open. Die regisseur is Leos Carax en dit is sy eerste Engelstalige rolprent.

“Elke Leos Carax-prent is ’n gebeurtenis. Annette is ’n geskenk vir die liefhebbers van rolprente, musiek en kultuur, dit waarna ons die afgelope jaar gesmag het,” sê Pierre Lescure, president van die Festival de Cannes.

Die Franse regisseurs Francois Ozon en Jacques Audiard bied hul jongste flieks aan, asook Asghar Farhadi van Iran, Rusland se Kirill Serebrennikof en Thailand se Apichatpong Weerasethakul, wat die Palme d’Or in 2010 gewen het.

Oliver Stone se herwerkte rilprent JFK wys buite kompetisie, hy het nuwe materiaal bygevoeg tot die prent wat in 1991 uitgereik is. Bronne: Reuters en Deadline.

Meer oor:  Oliver Stone  |  Sean Penn  |  Flieks  |  Jodie Foster  |  Cannes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.