Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Charlize-fliek herskryf Netflix se rekordboeke

Die aksierolprent The Old Guard, waarin Charlize Theron die hoofrol vertolk, het in net agt dae amptelik een van die tien gewildste rolprente op Netflix geword.

Die stromingsdiens het dié nuus Saterdag in ’n twiet bevestig en gesê dat die rolprent, wat wêreldwyd op 10 Julie uitgereik is, na raming teen 7 Augustus deur sowat 74 miljoen huishoudings gekyk sal word.

The Old Guard se plek in die top-10 is vir nog ’n rede besonders: Gina Prince-Bythewood, die rolprent se regisseur, is amptelik die eerste swart vroueregisseur op dié ranglys.

Die nuus volg kort op die hakke van Netflix wat vir die eerste keer bevestig het wat sy tien gewildste rolprente is en hoeveel huishoudings wêreldwyd dit binne die eerste vier weke ná die rolprent se uitreiking gekyk het – syfers wat die stromingsdiens nie bekend maak nie.

Volgens The Independent is die top-10 (wat nog nie The Old Guard se syfers toon nie):

  • 1. Extraction – 99 miljoen
  • 2. Bird Box – 89 miljoen
  • 3. Spenser Confidential – 85 miljoen
  • 4. 6 Underground – 83 miljoen
  • 5. Murder Mystery – 83 miljoen
  • 6. The Irishman – 64 miljoen
  • 7. Triple Frontier – 63 miljoen
  • 8. The Wrong Missy – 59 miljoen
  • 9. The Platform – 56 miljoen
  • 10. The Perfect Date – 55 miljoen

As The Old Guard op 7 Augustus die geskatte 74 miljoen kykers lok, sal dit die romantiese komedie The Perfect Date uit die top-10 boender en die sesde plek inneem – voor Martin Scorsese se Oscar-benoemde The Irishman, maar agter onder meer die Chris Hemsworth-aksierolprent Extraction en die rolprent Bird Box met Sandra Bullock in die hoofrol.

Theron het op Twitter net met drie emotikons op dié goeie nuus gereageer, maar intussen elders bevestig dat nog een van haar gewilde aksierolprente ’n opvolg kry.

Volgens die vermaakwebwerf Screen Rant het Theron in ’n onderhoud gesê Atomic Blonde 2 word ontwikkel – en dat die opvolg moontlik ook op Netflix uitgereik kan word.

Die rolprent volg op die 2017-treffer Atomic Blonde, waarin Theron die rol van ’n spioen vertolk. Hoewel kritici dit op Rotten Tomatoes net 78% gegee het, was hulle vol lof vir Theron se spel, veral haar asembenemende vernuf in gevegstonele.

Die rolprent het eindelik volgens die webwerf Box Office Mojo sowat $100 miljoen wêreldwyd by die loket verdien.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Meer oor:  Charlize Theron  |  Netflix  |  Atomic Blonde  |  The Old Guard  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.