Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Charlize spog dalk met goue beeldjies vir ‘Bombshell’
Renée Zellweger in ‘Judy‘ en Charlize Theron in ‘Bombshell’ is twee van die sterkste aanspraakmakers op ’n Golden Globe vir beste aktrise.

Suid-Afrika se goue Hollywood-ster Charlize Theron kan in 2020 moontlik ’n prys of twee kry vir haar spel in Bombshell. Sy is een van drie akteurs wat as die sterkste aanspraakmakers op ’n Golden Globe genoem word.

Theron is in 2004 vir haar uitmuntende spel in Monster met ’n Golden Globe bekroon en kort daarna ook met ’n Oscar.

Vogue berig dat dit nie maklik is om die Golden Globe-wenners te voorspel nie omdat die Hollywood Foreign Press Association van sowat 90 internasionale joernaliste die benoemdes én die wenners kies, teenoor die sowat 9 000 verteenwoordigers wat die Oscar-wenners bepaal.

Volgens Vogue stem die vroeë voorlopers vir ’n Oscar vir beste akteur en aktrise egter ooreen met dié publikasie se keuse wat ook vir die Golden Globe-pryse geld.

Die name wat genoem word, is Renée Zellweger vir haar vertolking van Judy Garland in die fliek Judy, Joaquin Phoenix vir Joker en Theron (Bombshell).

Moontlike Golden Globe-benoemdes vir die beste fliek is Marriage Story van Noah Baumbach, Once Upon a Time in Hollywood van Quentin Tarantino, Little Women van Greta Gerwig en The Irishman van Martin Scorsese.

Aanspraakmakers op ’n prys vir die beste buitelandse fliek is Bong Joon-ho se Parasite en Pedro Almodóvar se Pain and Glory. Die Suid-Afrikaanse fliekresensent Leon van Nierop slaan Pain and Glory so hoog aan dat hy dit tien uit tien gee.

Besonder strawwe kompetisie heers in die TV-kategorieë.

The Crown, Succession en The Morning Show sal na verwagting mekaar die stryd om die beste TV-dramareeks aansê. Fleabag se Emmy-sukses is waarskynlik ’n aanduiding dat dit die Golden Globe vir die beste TV-komediereeks kan kry, hoewel Barry,The Marvelous Mrs. Maisel en The Politician sterk teenstand kan bied.

Die Golden Globe-benoemdes word Maandag bekend gemaak en die pryse op 5 Januarie uitgedeel.

Die geleentheid word in die Hotel Beverly Hilton in Beverly Hills, Kalifornië, aangebied en dit sal die 77ste keer wees dat die pryse aan die uitskieters in die rolprentbedryf oorhandig word. – vogue.co.uk; goldderby.com; ew.com. Saamgestel deur Elretha Britz.

Meer oor:  Benoemings  |  Golden Globes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.