Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Critics’ Choice: ‘Nomadland’ is onstuitbaar

Die drama Nomadland het sy opmars na die Oscars voortgesit nadat dit Sondag op die Critics’ Choice-pryse ook as beste rolprent bekroon is.

Die rolprent, wat handel oor ’n vrou wat weens die resessie in 2008 haar werk kwyt is en gedwing word om ’n nomadiese leefstyl aan te neem, is twee weke gelede ook op die Golden Globes as beste rolprent bekroon – en het nou reeds meer as 80 gesogte rolprentpryse gewen.

Chloé Zhao, die regisseur, is op die Critics’ Choice as beste regisseur bekroon en het ook die prys vir beste verwerkte draaiboek ontvang. Sy sal in alle waarskynlikheid ook op 25 April die Oscar vir beste regisseur lig – slegs die tweede vrou om dit te vermag.

Kathryn Bigelow het in 2009 vir haar regie van The Hurt Locker die eerste vroueregisseur geword om ’n Oscar vir beste regisseur te wen. Sy het haar eksman, James Cameron, om dié prys geklop.

Benewens die prys vir beste rolprent en Zhao se twee pryse het Joshua James Richards ook ’n prys vir Nomadland se kinematografie gewen.

Frances McDormand, wat die hoofrol in die rolprent vertolk, moes egter die knie voor Carey Mulligan buig, wat vir haar hoofrol in Promising Young Woman die prys vir beste aktrise gewen het.

Chloé Zhao, die regisseur van ‘Nomadland’, gaan in alle waarskynlikheid op 25 April die tweede vrou wees om die Oscar vir beste regisseur te wen. Foto: Getty Images

Emerald Fennell, wat ook vir haar regie van dié rolprent ’n kans staan om ’n benoeming vir beste regisseur by die Oscars te kry, het die prys vir beste oorspronklike draaiboek gewen.

Die enigste ander rolprente wat met meer as een prys huis toe is, is Ma Rainey’s Black Bottom (beste akteur aan die ontslape Chadwick Boseman, beste kostuumontwerp en beste hare en grimering), Minari (beste jong akteur aan Alan Kim en beste rolprent in ’n taal buiten Engels) en The Trial of the Chicago 7 (beste ensemble en beste redigering).

In die TV-kategorie het die Netflix-reeks The Crown net soos op die Golden Globes koning gekraai en vier pryse gewen: beste dramareeks, beste akteur (Josh O’Connor), beste aktrise (Emma Corrin) en beste byspeler in ’n dramareeks (Gillian Anderson).

Die Apple TV+-reeks Ted Lasso kon drie pryse in die sak steek – beste komediereeks, beste akteur (Jason Sudeikis) en beste byspeler in ’n komediereeks (Hannah Waddingham) – terwyl die komediereeks Schitt’s Creek en die Netflix-minireeks The Queen’s Gambit elk twee pryse in die sak kon steek.

Die Critics’ Choice-pryse is vir die 26ste keer aangebied, maar het vanjaar weens die Covid-19-pandemie virtueel plaasgevind. Die akteur Taye Diggs was die seremoniemeester.

Besoek www.criticschoice.com/2021/03/winners-at-the-26th-annual-critics-choice-awards/ vir ’n volledige lys van wenners.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.