Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Cruise so vol van homself, karakter ly

American Made met Tom Cruise en Domhnall Gleeson. Regisseur: Doug Liman. ***

Oja! 'n Mens lag wel in hierdie rolprent, wat losweg op die waarheid gegrond is. Dit is soos Leonardo DiCaprio se Catch Me If You Can – 'n astrante ware verhaal oor 'n skurk so ongelooflik dat jy na verskeie webwerwe toe moet gaan om seker te maak dit is wel op ware gebeurtenisse gegrond, en is nie soos The Blair Witch Project 'n illusie wat as die werklikheid voorgehou word nie.

In die middel-1980’s het 'n vlieë­nier, kapt. Barry Seal, die kans gekry om dwelms te smokkel terwyl hy ook vir die CIA as 'n soort spioen gewerk het. Hy het albei hierdie opdragte met 'n glimlag so breed soos die swaai wat 'n taxi voor jou maak uitgevoer, en was ewe suksesvol in albei loopbane.

'n Mens grinnik dus ongemaklik oor 'n raar-maar-waar-storie: dat iemand die vermetelheid gehad het om hiermee weg te kom.

As hy in Suid-Afrika gewoon het, sou sy storie nie eens bl. 7 van 'n koerant gehaal het nie. Maar in hierdie geval het sy ervarings die aandag van die regisseur Doug Liman (Edge of Tomorrow) en Tom Cruise getrek, wat deur Liman in dieselfde rolprent gebruik is. Die probleem is: 'n Mens grinnik so ongemaklik soos 'n tannie wat in die kerk sluk aan ’n sooibrand van te veel roereier vanoggend, en sy durf nie die gemeente ontstig met 'n gehikkery nie. Want almal om jou gaap Tom Cruise aan asof hy die engel Gabriël is, terwyl jy skater van die lag – maar om die verkeerde redes.

En dit is die probleem. Cruise en sy sterbeeld kom in die pad van nie net die karakter nie, maar ook die rolprent. ’n Mens aanvaar die blinkgesig- en selfbewuste Cruise nie as die slinkse Seal soos jy Tom Hanks kon glo as kapt. Sullenberger in Sully nie. Cruise is doodeenvoudig te narsisties verlief op sy eie beeld, sodat jy na 'n filmster kyk met ’n wawyd-oop Colgate-glimlag. Wanneer hy eers daardie glimlag uitstal, roep jy uit: “Top Gun rides again!” of “The Mummy het weer herrys!”

Van oortuigende karakterisering of genuanseerde spel is daar nie ’n teken nie. Dit is die ene Hollywoodglans. So min as wat Cruise in ’n kort rokkie in The Last Samurai gewerk het, net so min werk hy in hierdie rolprent. Nie dat die fliek so sleg is nie. Die baldadige streke van die kaptein en die bollemakiesies wat hy tussen die CIA en die dwelmbaronne moes slaan om albei gelukkig te hou, is so vergesog dat dit vermaaklik raak, maar, verseker die rolprentmakers ons, die rolprent is waar.

Daar is 'n mengsel van donker galgehumor, Minora-lemmetjie-glimlagte en tuimelende aksie wat Top Gun na The Boss Baby sal laat lyk. In daardie opsig vrolik die rolprent ’n vervelige Sondagmiddag op.

Maar wees gewaarsku: Dit is nie die soort Tom Cruise-aksierolprent wat jy verwag nie.

Hy sorg natuurlik dat hy sy hemp uittrek om met sy opgepompte 55-jarige spiere te spog, en sy oë blink met die soort selfbeheptheid wat net 'n Hollywoodse superster kan hê wat weet sy bewonderaars sal hom ondersteun al lees hy die instruksies vir 'n trapmeul hardop voor.

Maar sy sterretjie is aan’t taan, aangesien sy jongste rolprente nie sulke lokettreffers was soos sy voriges nie.

Dit was dus nie net die gerondspringery op Oprah Winfrey se bank wat sy beeld skade aangedoen het nie, maar sy “spel” wat so eensydig en eentonig is as daardie vervelige versie wat jy in die skool moes opsê in die voordragklas.

Vir Cruise gaan dit om sy glimlag, sy superheldbeeld en sy sterbelaaide persoonlikheid, nie om die karakter nie. Iemand soos Hanks of selfs Ryan Gosling of ­Jake Gyllenhaal sou maalvleis van die rol gemaak het. Maar Cruise woerts daardeur soos 'n kalorie deur jou bloedstroom ná 'n sondige roomys.

Korrupsie en kansvattery het deel van ons lewe in Suid-Afrika geword. Maar om te sien met hoe ’n breë glimlag Cruise dit as Barry Seal in Amerika verbloem het en vir 'n ruk daarmee weggekom het, laat jou na ’n Rennie soek.

Nuwe flieks

Sleight ***
Korrupsie en dwelmsmokkelary is aan die orde in dié week se nuwe uitreikings. ? Jong seun (die uitstekende Jacob Latimore) voer ? bestaan uit kulkunsies op straat. Maar wanneer hy in ? dwelmbaron se sake inmeng, word sy en sy gesin se lewe bedreig. Daar is min nuut in die storie. Die regie is sonder eks­ploitasie of storieslenters, en dis die unieke karakter en sy slim metodes om te oorleef wat die aandag trek. Hierdie donker fliek is vol geweld en dwelmlus, en dien as ? tydige waarskuwing teen dwelmmisbruik. Dit is Boyz n the Hood sonder die subteks. 


Fun Mom Dinner **
Ja, jy het die storie al baie gesien. ’n Groep vroue, onder wie Kate (Toni Collette), laat hul mans, kinders en kêrels tuis en gaan uit vir ? aandjie saam met die meisies. In die proses leer hulle nie net mekaar beter ken nie, maar word nuwe vriendskappe gesmee en word een van die meisies in die versoeking gelei om sake verder te voer as net ? laaste loopdop. Die spel is oordadig en raak soms te groot, en die humor is nie heeltemal so snaaks soos ander soortgelyke flieks nie. Maar as jy saam met ? klomp vriendinne wil gaan tjil, is hierdie gemiddelde lag-ekstravaganza moontlik vir jou. 

Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Silwerskerm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.