Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Cyril wens ‘Octopus Teacher’ sterkte toe met Oscars

Pres. Cyril Ramaphosa het die vervaardigers en regisseurs van die dokumentêr My Octopus Teacher sterkte toegewens met die Oscars, wat Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) uitgedeel word.

Die dokumentêr, wat handel oor die rolprentmaker Craig Foster se sonderlinge vriendskap met ’n seekat in Simonstad se ysige water, is in die kategorie vir beste vollengte dokumentêr benoem.

In ’n brief wat Ramaphosa aan onder andere Foster en die regisseur Pippa Ehrlich gerig het, sê hy hulle kan “tereg trots wees, net soos ons is, dat My Octopus Teacher vanjaar by die Academy Awards in die kategorie vir beste vollengte dokumentêr benoem is – ’n eerste vir ’n Suid-Afrikaanse dokumentêr”.

“Die bewaring van ons natuur, veral ons oseane, is ’n nasionale prioriteit vir Suid-Afrika. Dit bevorder ook die 14de doelwit vir volhoubare ontwikkeling (SDG), wat lui dat ‘oseane, seë en seehulpbronne vir volhoubare ontwikkeling bewaar moet word’,” skryf hy.

“Dit is prysenswaardig dat hierdie dokumentêr (fliekgangers) ’n blik op die natuurskoon en diversiteit van Suid-Afrika se oseane en ekosisteme in die see gegee het. Dit is belangrik om te benadruk dat die dokumentêr ’n groter waardering vir die bewaring van ons oseane aanspoor, in ’n tyd waar die agteruitgang van ons oseane wêreldwyd ’n probleem is wat toeneem.”

Ramaphosa sê hy hoop die dokumentêr word na talle Suid-Afrikaanse tale vertaal – ook dat dit veral in skole vertoon sal word.

“As julle die Oscar huis toe bring, sal dit inderdaad ’n reuseprestasie vir die produksiespan én die land wees.”

As julle die Oscar huis toe bring, sal dit inderdaad ’n reuseprestasie vir die produksiespan én die land wees.
Pres. Cyril Ramaphosa

Beroepswedders glo Suid-Afrikaners kan maar hul sjampanje naby hou: Talle kenners het reeds vir onder meer Variety, Deadline, Metacritic, Rotten Tomatoes en rogerebert.com gesê My Octopus Teacher sal die dokumentêre Collective, Crip Camp, The Mole Agent en Time ore aansit – en daarmee vermoedelik die eerste dokumentêr vanuit Afrika word wat die goue beeldjie lig.

Kenners stem meestal slegs oor dié kategorie saam – weens strawwe kompetisie is dit moeilik om te peil wie in die ander kategorieë koning(in) gaan kraai.

Die Chinese regisseur Chloé Zhao gaan in alle waarskynlik ’n droomaand beleef: As vervaardiger, regisseur, draaiboekskrywer en redigeerder van die drama Nomadland, maak sy aanspraak op vier Oscars. Beroepswedders sit hul kop op ’n blok dat sy naas Kathryn Bigelow in 2009 vir The Hurt Locker slegs die tweede vrou in Oscar-geskiedenis sal word wat die Oscar vir beste regisseur wen.

Fliekvrate is ook oortuig dat die ontslape akteur Chadwick Boseman vir sy trefferspel in Ma Rainey’s Black Bottom bekroon sal word.

In die kategorie beste aktrise kan enige van die vyf benoemdes – Frances McDormand (Nomadland), Viola Davis (Ma Rainey’s Black Bottom), Carey Mulligan (Promising Young Woman), Vanessa Kirby (Pieces of a Woman) en Andra Day (The United States vs. Billie Holliday) – die prys wen. Beroepswedders meen McDormand sal as vervaardiger van Nomadland die prys vir beste rolprent in haar sak steek en dat sy daarom die prys vir beste aktrise aan Davis of Mulligan sal moet afstaan.

Youn Yuh-jung (Minari), Daniel Kaluuya (Judas and the Black Messiah) en Emerald Fennell (Promising Young Woman) is die sterkste aanspraakmakers in onderskeidelik die kategorieë vir beste byspeelster, byspeler, en oorspronklike draaiboek.

– Saamgestel deur Christiaan Boonzaier

Kyk die Oscars hier!

M-Net het Vrydag aangekondig dat hy die Oscars se toekenningsplegtigheid Maandagoggend van 00:30 tot 05:00 op DStv-kanaal 104 sal uitsaai. Dit sal op dieselfde dag om 22:30 op DStv-kanaal 101 herhaal word.

Netwerk24 sal die prysuitdeling ook regstreeks blog.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.