Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Daar is ’n Masha in elkeen van ons’
Cintaine Schutte as Masha in Christaan Olwagen se Die seemeeu.

Vergeet vir altyd die muwwe verhoogweergawes van Tsjechof met karakters wat verveeld ronddool en mekaar met beleefde niksseggendhede aanspreek.

Christiaan Olwagen se rolprenthantering van die Russiese dramaturg se Die seemeeu is so eietyds soos nou. Die fliek – ’n stylode aan sy inspirasie, die Spaanse regisseur Pedro Almodóvar, is Donderdagaand vir die eerste keer in Suid-Afrika op die agtste Silwerskermfees in Kampsbaai vertoon. Dit het sy première vroeër vanjaar heel gepas in Moskou gehad.

Al die karakters – vertolk deur ’n swaargewigspan akteurs – worstel met dieselfde dilemma: Hulle doen heeldag niks, leef afgesonderd en is op mekaar aangewese. Dit sorg vir ’n helse eksistensiële wrywing. Hulle is nou al lankal goed “keelvol” vir mekaar se hebbelikhede en dingetjies. Soos Sartre geskryf het: “Die hel is ander mense”.

Cintaine Schutte vertolk die rol van Masha. Sy is altyd in swart geklee en lyk soos ’n aanhanger van ’n goth-groep, met groot donker oë en ’n sigaret wat bewe tussen die vingers.

Dit is die tragiese trek om die mond wat jou aan die hart gryp. Sy is verlief op Konstant (Albert Pretorius) wat verlief is op iemand anders. Dit is ’n tendens hier – die hunkering na ander mense, altyd ander mense. Daarmee saam kom die dieper dors. Soos Sandra Prinsloo se karakter sê, hulle almal benodig “mindfulness”.

Schutte vertel sy het twee jaar tussen die opvoering van die toneelstuk gehad en verfilming. Haar vertolking op die planke het reeds die aandag getrek, maar in die rolprent is Masha nog meer beleë en naatloos ingespeel. Soos Schutte self sê, daar is ’n Masha in elk van ons.

“Sy neem haarself só verskriklik ernstig op.

“Ek het gedink ek hét Masha ná al die opvoerings. Toe nie. Soveel het in my lewe verander, ek moes haar opnuut vind omdat dinge by my verskuif het, omdat ek ouer was. Ek moes weer terug na die teks gaan.”

'n Toneel uit Die seemeeu.

Elke karakter van Tsjechof is op sy eie reis, vertel sy.

“Hy wys waartoe ’n lewe in intense stilte ’n mens kan dryf, asof hy ’n vergrootglas plaas op elke klein lewetjie: wat gesê word en wat nie. Elkeen hier soek liefde en aanvaarding – en hulle kry dit nie.”

Schutte vertel van die ongelooflike ondersteuning van die span – Sandra Prinsloo, Marius Weyers, Rolanda Marais en Deon Lotz, om net ’n paar te noem – en die veilige omgewing wat Olwagen skep vir sy akteurs.

Die verfilming het in die Hermanus-omgewing langs die meer plaasgevind.

“Die omgewing, die stilte het ’n groot rol gespeel om die wêreld te skep en te help visualiseer – om in die oomblik te wees.”

Sy vertel dat haar ma die omgewing gereeld as kind besoek het en ook later as tiener, so dit was vir haar ook lekker om daar te wees op die plekke waar haar ma jonk was.

Schutte glo daaraan om perspektief te behou en om jou voete op die grond te hou.

“Akteurs is nie besig met hartoorplantings of om oorloë te veg nie. Ons verantwoordelikheid is om die storie reg te vertel.”

Sy het eers onlangs in televisie (Fynskrif) en rolprente begin werk, maar die teater bly haar eerste liefde.

“Jy kan altyd weer probeer in teater. Rolprente en televisie nie. Als is so vinnig met flieks, jy kan nie foute maak nie.”

Sy is al sewe jaar saam met haar akteursvriend Carel Nel, ’n welbekende gesig wat ook op die Silwerskermfees in Dominee Tienie te sien is. Sy speel ook teenoor hom in die televisiereeks Fynskrif.

“Dit is lekker om so ’n ondersteuner te hê. Hy gee perspektief. Hy gee my net ’n kyk op stel, dan weet ek ek moet meer gee. Ek is ’n groot fan van sy werk. Hy werk so ongelooflik hard.”

Ná die Silwerskermfees gaan sy terug planke toe. Sy speel in en vervaardig Huishou vir die Aardklop-kunstefees.

*Die seemeeu word later vanjaar in teaters uitgereik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.