Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Dié is vir die kwaai man met die snor

The Hitman’s Bodyguardmet ­Ryan Reynolds en Samuel L. Jackson. Regisseur: Patrick Hughes. ***

‘Kyk, pella,” betig 'n man my toe hy my op straat inhaal, “wat my so die hel in maak van julle resensensente (sic), is omdat julle so diep in 'n fliek ingaan, dit voel of ek 'n graad in pretensie nodig het om te verstaan wat julle sê, laat staan nog of ek R70 daarop moet uitgee. Praat vir 'n verandering reguit en sê vir my of ek en my pelle om 'n vuurtjie met 'n tjoppie oor die moewie kan praat.”

Hierdie resensie is vir daardie kwaai man met die weglêsnor. The Hitman’s Bodyguard is die soort rolprent wat jy saam met jou braaivleis- en rugbymaters gaan kyk. Dis koel, byderwets, lekker macho en gaan oor bromance (broemanse). Ekskuus, swaer, broemanse beteken twee manne hou van mekaar sonder om oor die verkeerde tou te trap. Dis soos 'n rugbybeerdruk korter as twee sekondes.

In hierdie gatskopfliek ontmoet ons Michael Bryce (Ryan Reynolds), die beste lyfwag sedert die wêreld se grootste diktator sy eie lyfkneg aangestel het. ’n Mens kan sommer sien hy weet wat hy doen, want sy ken is so vierkantig soos 'n vragmotor se enjinkap, sy stoppels dik genoeg vir 'n skaap om in te wei en sy oë sê: “My pel. Ek ken my frieken storie.”

Totdat hy 'n sluipskutter moet oppas en lewend by die hof uitkry sodat hy teen een of ander despoot kan getuig.

Nie dat Bryce al ooit enige probleme gehad het om iemand op te pas nie (behalwe in die fliek se openingstoneel). Maar dan ontmoet hy Darius Kincaid (Samuel L. Jackson). Nou kyk, al waarvoor dié jafel bang is, is slange op 'n vliegtuig. (Onthou jy nog die afgryslike Snakes on a Plane?)

Die rolprent gaan oor hoe die twee broeders-met-die-bierasems mekaar met woorde looi, want die kwinkslae vlieg soos rugbyballe tussen hulle rond.

So tussen die worsie op die ­kole en die derde Kasteel sal jy en jou pelle 'n paar van die beste grappe uit die fliek aanhaal en luidkeels daaroor lag.

Dis ook net Jackson wat sulke dialoog kan uitdink, want 'n mens vermoed dat hy baie van sy dialoog geïmproviseer het. Hy is mos die meester van koel improvisasie waar sy woorde so lekker afgaan soos sout en asyn oor lekker nat slaptjips.

Reynolds is natuurlik die perfekte teenvoeter, want sy dialoog is korter en dikwels meer gevat. Hy sê meer met minder en is nie bang om Jackson te takel en die woordeoorlog te probeer wen nie.

En dan is daar die gevegte. Daar word darem nie so baie mense doodgemaak soos in die John Wick-sages nie, en daar is nie sexy blondines wat die Basic Instinct-kruissit naboots in ontkleeklubs nie, die noodsaaklike vereiste vir ooglekkergoed in sulke broemanse-komedies.

Maar karre wat rol, die bande wat skreeu, die swetsery en gekorswel terwyl daar gejaag word en die voetgangers wat uit die pad hol, gee genoeg waarde vir jou geld.

Sit 'n mens egter jou resensentehoed op, bied die rolprent niks wat The Nice Guys en Lethal ­Weapon nie gedoen het nie. Twee vriende wat dit haat om van mekaar te hou, wat dieselfde doel voor oë het en dan hard probeer om mekaar met die woord te pootjie voordat hulle hul doel bereik, is al so oud soos die moderne aksiedrama self.

Jy kan nie na hierdie soort gemiddelde verstrooiingsvermaak kyk (wat eintlik net twee sterre werd is) sonder springmielies wat tussen jou vingers uitpeul, jou beste pel langs jou en 'n koel brunet wat skuins voor jou sit en af en toe omkyk nie. Dis daardie soort vermaak waar jy nie heeltyd na die doek hoef te kyk nie.

Daar is geen vernuwing nie en niks meer opwindends as tientalle motors wat afgeskryf word nie. Maar as 'n man 'n fliek soek om 'n Saterdagmiddag mee te verwyl voor die game en die kuier om die vuur, is hierdie rolprent so lekker soos 'n skaapribbetjie uit die High Karoo. Moet miskien nie vir vroulief saamvat nie.

Of dalk waardeer sy Reynolds se spiere . . .

Nuwe flieks

Annabelle: Creation ***

Annabelle is 'n pop met 'n grilleriger storie as Chucky destyds in Child’s Play, en daar is geen keer aan daardie oë met die duisend-treë-kyk nie. In hierdie voorganger van al die Annabelle- en Conjuring-rolprente ontmoet ons Annabelle toe sy gemaak is. ’n Poppemaker skep haar, maar 'n tragedie vernietig sy lewe. Wanneer 'n groep weeskinders 12 jaar later in sy huis kom woon, soek sy dooie dogtertjie na 'n siel beter as 'n stokstywe pop om weer die lewe te smaak. Die regie is soms net te doelbewus en manipulerend, maar tog het dit lekker skrikmaak-oomblikke.

Detroit ****

Ná die onlangse rassevoorvalle in Charlottesville is hierdie terugblik op die rasse-onluste in Detroit in 1967 tydig. 'n Groep rassistiese polisiemanne het drie swart mans doodgeskiet omdat hulle vermoed het hulle bied skuiling aan 'n “sluipskutter”.

Met 'n kille woede en genadelose en nugter oopvlekking van wat gebeur het, word die afskuwelike gesig van rassisme en vooroordeel blootgelê. Jy moet sterk senuwees hê. Die uittartings- en marteltonele is realisties en taai. 'n Stroewe, maar aangrypende oopvlekking van 'n misdaad wat skaamteloos toegesmeer is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.