Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Dié prente het oog op die Oscar-resies
Robert Redford in The Old Man & the Gun.

Dit is nog nie te vroeg om raak voorspellings te waag vir die komende applousseisoen in Hollywood nie. Die rooi tapyte word binnekort uitgerol vir die akteurs om in hul glans en glorie te verskyn, met die hoogtepunt steeds die Oscars in Februarie aanstaande jaar.

Netwerk 24 voorspel watter rolprente in aanmerking gaan kom vir die Oscar-resies, prente wat reeds op rolprentfeeste aandag getrek het.

Boonop is daar die omstrede kategorie vir die beste gewilde rolprent wat die speelveld nog groter maak.

Die prente wat aandag trek, is:

*Die biografiese prent First Man van Damien Chazelle oor die maanlanding van 1969 met Ryan Gosling as Neil Armstrong.

Viola Davis in Widows.

*Bradley Cooper se debuutprent as regisseur, A Star is Born, met Lady Gaga en Cooper wat ’n sterk kans staan om akteursbenoemings te kry, sowel as die klankbaan.

*Joel Edgerton se drama Boy Erased, gegrond op ’n memoir van ’n gay seun wat deur sy ouers gestuur word om “korrektiewe behandeling” te kry. Lucas Hedges word geloof vir sy vertolking daarin.

*Alfonso Cuarón se swart-en-wit prent Roma oor twee huiswerkers wat ’n vrou met haar vier kinders help terwyl haar man uitstedig is. Die prent is op die Venesiese rolprentfees met die gesogte Goue Leeu-prys as beste rolprent bekroon. Dit is in swart-en-wit verfilm en is vir Netflix gemaak, wat dalk die kanse bemoeilik omdat die rolprentakademie wat die Oscars toeken, nog nie voorsiening maak vir ’n stromingsdiens om in aanmerking te kom nie.

*Robert Redford, veteraanrolprentmaker en Hollywood-liefling, se komiese misdaaddrama The Old Man & the Gun. Dit is die ware verhaal van Forrest Tucker (Redford) wat ses keer uit die San Quentin-gevangenis ontsnap het en op ’n hoë ouderdom steeds banke roof en flankeer. Danny Glover en Tom Waits is ook te sien as twee van sy driemanskap. Redford sê dit is sy allerlaaste prent.

Lucas Hedges in Boy Erased.

*Die Oscar-bekroonde regisseur Steve McQueen (12 Years a Slave) se jongste prent, Widows, met Viola Davis handel oor die vrou van ’n bankrower wat ná sy dood self banke begin beroof. Davis oorrompel in die prent en dit blyk ’n benoeming is haar dalk beskore.

*Die regisseur Barry Jenkins – bekend om die Oscar-bekroonde Moonlight van 2016 – se jongste prent is ’n verwerking van die skrywer James Baldwin se If Beale Street Could Talk, ’n tragiese liefdesverhaal wat afspeel in Harlem in die 1970’s. Dit handel oor Trish en Fonny wie se lewe ontspoor as Fonny verkeerdelik van verkragting aangekla word en in die tronk gestop word.

*Nog ’n biografiese rolprent wat in die kompetisie hoort, is Jason Reitman se The Front Runner, wat handel oor die Amerikaanse presidentskandidaat Gary Hart wat aan die 1988-veldtog onttrek het weens gerugte van ’n buite-egtelike verhouding. Hugh Jackman vertolk die rol van Hart. Die prent belig dringende vraagstukke, veral met die #MeToo-veldtog nou in volle gang in Hollywood.

Die gewilde superheldprent Black Panther, wat behoorlik die loket verower het, het ook ’n oog op die resies. Die vraag is of dit vir ’n uitstekende gewilde prent, danksy die prestasie as ’n lokettreffer oor die wêreld heen, of vir beste prent gaan wees?

Die seisoen begin op 4 November met die Hollywood-pryse. Ander hoogtepunte is onder meer die People’s Choice-pryse op 11 November, die Golden Globes op 6 Januarie, die Critics’ Choice-pryse op 13 Januarie, die Oscar-benoemings op 22 Januarie, en die Oscar-geleentheid op 24 Februarie in Los Angeles.

Meer oor:  Oscars  |  Seisoen  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.