Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Dié rykes laat jou alle sorge vergeet

Crazy Rich Asiansmet Henry Golding en Constance Wu.

Regisseur: Jon M. Chu.

13 DTP ***

Die kuns van romantiese komedies is om vir ou stories nuwe klere aan te trek. En in hierdie fliek, ’n onverwagse loketsensasie in Amerika en Asië, het twee draaiboekskrywers Kevin Kwan se blitsverkoper-roman geneem (daar is nog twee opvolge) en dit sodanig opgetert dat die meeste mense daarvan behoort te hou.

Die resultaat is verfrissend.

Ander romkoms soos Pretty Woman en Ghost en die ernstige The Notebook het bevestig dat ware liefde geen grense ken nie. Of Aspoestertjie nou ’n prostituut is, en of die prins in ’n spook verander, of die heldin haar romantiese verlede vergeet het, die karakters oorkom die heining tussen geliefdes al laggend of met bittere trane, en probeer die liefde weer woema gee.

Crazy Rich Asians se varsheid lê ook in die stad Singapoer waarin dit afspeel, en die onbekendheid van die meeste van sy akteurs. Onthou, ons het die storie al vantevore gesien soos in Meet the Par­ents en sy vervolge. Maar anders as in die grootste gros romkoms, speel ’n stad, nog redelik onbekend in rolprente, ’n hoofrol in die storie. Singapoer word ’n spoggerige hoofkarakter met ’n prentjiemooi agtergrond waarin alles werk en daar geen agterbuurte is nie.

Die bos waarin Rooikappie verdwaal, het nou psigedeliese liggies, paddastoelvormige geboue en spuitfonteinligte wat simbolies oorkook. Alles gebeur in die naam van liefde, en die kulture wat bots en mekaar uiteindelik leer verstaan en aanvaar is belangrike temas.

Die heldin Rachel Wu, gespeel deur die sprankelende Constance Wu wat nog nie enige selfbewuste supersterbagasie saamdra nie, is ’n Amerikaans-Chinese professor. In ’n jaar waarin die vrou meer prominent na vore tree en haar rol belangriker as die man s’n word in flieks, is sy pragtig, gesaghebbend, romanties, onafhanklik en vreesloos.

Sy raak verlief op Nick Young, gespeel deur Henry Golding, ’n onbedorwe nuweling vir wie die karakter belangriker is as sy getal volgelinge op Twitter. In ’n slim storielyn vra hy Rachel om hom na Singapoer te vergesel waar ’n vriend trou. Sy kan dan sommer sy familie ontmoet. Sover so romkom, so voorspelbaar.

Maar wanneer sy op die vliegtuig klim waar hulle hul eie private suite het, begin Rachel besef dat hierdie prins se koninkryk bestaan uit die rykste familie in Singapoer. En dit is waar die romantiese kinkels begin vasknoop.

Michelle Yeoh (as Nick se ma, Eleanor) wat met die trek van ’n gespanne nekspier meer sê as met woorde, skep die regte atmos­feer vir die rolprent.

Natuurlik hou sy nie van Rachel se Amerikaanse invloed nie, al voer sy self ’n soort Amerikaanse luukse lewe waar sy net die beste sal duld; haar seun is veronderstel om nie onder sy stand te trou nie, en dan verkieslik met ’n meisie van Singapoer.

Met yskoue blikke wat die Kaapse bergpieke sal laat tril, dwaal haar oë oor Rachel. Maar Nick neutraliseer die spanning tot op ’n punt wanneer die jaloerse verhewendheid van die aanstaande skoonma dreig om die paleis­like huis se pilare te laat verkrummel. En dan is daar ’n oordadige troue waar die bruid letterlik op en deur water loop, en Rachel besef waarin sy haar begewe het.

Die redigering is flink en vinnig met ’n stewige Amerikaanse glans­invloed. Dit is veral ’n kosmaaktoneel, gejukstaponeer met ander komiese tonele, wat die rolprent soos gouestroop oor die gehoor se fliekkliere laat vloei.

Voeg daarby Singapoer se prentjiefraai geboue, die see waar ontwerper-rotse die agtergrond vir ’n broederlike gesprek vorm, en jy kry ’n verteerbare komedie wat ander Asiese draaie as die Amerikaanse romkoms gooi.

Ja-nee. Dit is lekker om na stinkryk mense te kyk wat ook maar in hondeslagysters trap . . .

Al klink die titel verdag, en al herken jy dalk net vir Michelle
Yeoh van Crouching Tiger, Hidden Dragon-faam, is hierdie een van die min komedies waarop ’n mens R70 met ’n geruste hart kan uitgee.

Dit laat jou vergeet van die wrede buitewêreld wat al dieper in ons land en na jou eie persoonlike lewe toe kruip.

Dit is snaaks, opwindend en so helder soos fonteinwater.

Gaan gee jou oor!

Nuwe flieks:

Hotel Transylvania 3: Summer Vacation ***

Almal ken hierdie herontwerpte Dracula as ’n bleeksiel wie se slagtande eerder bewe as byt. Sy kaartmannetjiehouding is sy beste bate.

Dié slag gaan hy met vakansie. Maar op die skip is daar kreature wat kinders sal laat giggel. Het jy kon dink dat kinders (met ’n waarskuwing oor strokiesgeweld) Dracula se kasteel en boot sal mag besoek? Dit gee ook ’n oogknip na volwassenes toe. Hulle sal die geskiedenis van die karakter ken wanneer hulle vir sy manewales lag. Dit is oordadiger as ’n nar op ’n kinderpartytjie, net spitsvondiger. En die jelliepoedings is histeries.

The First Purge **

Wees gewaarsku. Dié rolprent dra die hoogste ouderdomsperk as gevolg van ekstreme geweld: 18. Soos in die vorige weergawes word Amerika ’n nag, 12 uur, lank aan wetteloosheid onderwerp wanneer boosdoeners oorneem om van hul “aggressie” ontslae te raak. In ons land is geweld alledaags, maar om dit so verglans en koelte sien, is vreesaanjaend. In ons geweldbesmette samelewing, wil jy betaal om daarna te kyk?

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.