Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Die stropers’ sê min oor Afrikaner se identiteit
Alex van Dyk en Brent Vermeulen.

Die regisseur Etienne Kallos is in Kaapstad gebore. In 2009 is sy kortfliek Eersgeborene op die Venesiese filmfees bekroon en daarna het hy internasionale lof vir ’n tweede kortfliek Doorman ontvang. Die draaiboek van Die stropers is met behulp van die Sundance-Instituut ontwikkel.

Die stropers speel in die landelike gebied van die Oos-Vrystaat, in die omgewing van Bethlehem, af. Die fliek open met skote van die plaaslewe. Die kyker maak kennis met Janno (Brent Vermeulen), wat sy daaglikse verpligtinge op die plaas moet nakom. Die tonele is visueel pragtig danksy ’n liriese uitbeelding van die landskappe en ’n keurige raming van skote. Daar is ’n sterk fokus op visuele storievertelling.

Janno word groot in ’n konserwatiewe omgewing waar geloof ’n groot rol speel. Ongelukkig is die karakter nie werklik driedimensioneel nie. Teen die einde van die fliek weet die kyker maar min van sy innerlike lewe, sy begeertes en lewensuitkyk.

Die rede waarom die gesin ’n tiener in die huishouding inneem, is ook nie sterk gemotiveer nie. Die jong man kom uit ’n gebroke familie en daar word aangevoer dat God hom gestuur het en dat Afrikaners na mekaar moet kyk. Pieter (Alex van Dyk) vertolk die rol van ’n katalisator wat Janno se lewe moet versteur. Maar daar is weinig konflik. Hy het nagmerries en onttrekkingsimptome weens sy dwelmafhanklikheid, wat die gesin se nagrus versteur, maar waar die Eugene Marais-karakter in Ross Devenish se The Guest werklik konflik in die konserwatiewe gesinsopset geskep het, reageer die gesin in Die stropers net om te bid vir Pieter. Janno se pa verstaan nie werklik Pieter se gedrag nie, maar gaan maar aan met sy daaglikse aktiwiteite op die plaas. Sy verhouding met Janno is funksioneel. Die kyker het weinig blootstelling aan ’n komplekse pa-seun-verhouding en dit is die probleem. Die karakters is onderontwikkel. Verhoudinge is nie kompleks nie en as gevolg daarvan is die fliek ’n onbevredigende uitbeelding van Afrikaner- en ander identiteite. Vergelyk ’n mens dit met die komplekse beeld van die Afrikaners in die werk van Manie van Rensburg soos Verspeelde lente en The Fourth Reich, of Jans Rautenbach se Die kandidaat, stel Die stropers teleur.

Enige moontlikheid om meer as ’n platoniese verhouding tussen Janno en Pieter te ontgin, word ook in ’n enkele toneel ongedaan gemaak. Pieter blyk ’n vorige sekswerker te wees of sy opmerking oor hom as “wit vleis” verwys daarna. Die kyker is nie seker nie. ’n Mens moet maar self die gapings invul. Op die ou einde is sy teenwoordigheid in Janno se lewe van weinig waarde, veral wat groei in Janno se karakter betref.

Die stropers is visueel pragtig. Die gebruik van kamerakomposisies, die uitbeelding van die landskappe, die stemmingsvolle beligting en uitstekende klankontwerp is prysenswaardig, maar onder die beeldskone oppervlak is daar ’n gebrek aan volronde karakters en as gevolg daarvan, ’n onbevredigende uitbeelding van Afrikaneridentiteit.

* Martin Botha doseer filmkunde aan die Universiteit van Kaapstad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.