Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Diff kies 120 prente wat gesprek uitlok
’n Toneel uit die ‘La Vallée des Aigles’ (‘The Eagle’s Nest’), ’n debuutprent geskryf en geregisseer deur die Britse regisseur Oliver Assoua, wat in Kameroen gebore is. Die prent open die internasionale rolprentfees in Durban.

Die 42ste internasionale rolprentfees in Durban (Diff) gaan – soos verlede jaar – virtueel aangebied word. Al die aanlyn vertonings is gratis. Die fees duur van 22 Julie tot 1 Augustus.

Uit 3 000 voorleggings van die jongste rolprente wêreldwyd is 120 prente gekies, waarvan 43 debuutprente is. Die prente is gekies om in te pas by die fees se raamwerk van Framing the Future, Cinema Unleashed.

Vanjaar het die organiseerders in die samestelling van die rolprentprogram gefokus op “innoverende rolprentstemme wat rolprentgangers se lewensuitkyk sal verbreed en help om kritiese gesprekke te stimuleer”, aldus Chipo Zhou, Diff se programsamesteller.

Die fees open met die aksieriller La Vallée des Aigles (The Eagle’s Nest), ’n debuutprent geskryf en geregisseer deur die Britse regisseur Oliver Assoua, wat in Kameroen gebore is. Die prent lig belangrike vraagstukke uit, soos die reuse-emigrasie van jong mense uit Afrika, asook die voortgesette armoede op die vasteland. Dit belig ook moderne slawehandel in Afrika en fokus op twee moderne vroue wat uit ’n verdrukkende patriargie wil ontsnap.

Assoua het ná 15 jaar teruggekeer na sy geboorteland om die prent vir nagenoeg R90 000 te maak. Hy wou veral fokus op die migrantekrisis, het hy aan The British Blacklist (TBB) gesê. “Nagenoeg 18 000 mense het sedert 2014 in die bootreise oor die Mediterreense See hul lewe verloor. Jong, swart Afrikane word in 2020 in Libië as slawe verkoop. Jong vroue, baie mans en seuns word verkrag en beleef seksuele trauma tydens die migrasies. Dit is onaanvaarbaar.”

Die kosdokkie ‘The Recipe for Balance’, deur Óscar Bernàcer, handel oor die Spaanse bobaassjef Ricard Camarena.

In die onderhoud met TBB sê hy “regerings van die Weste het die vaardighede om leiers van Afrika verantwoordbaar te maak – die slawerny en seksuele aanvalle op vroue en jong seuns moet ophou”.

Die fees sluit af met die outobiografiese dokumentêr Limiar (Threshold) van die Brasiliaanse regisseur Coraci Ruiz. Ruiz volg hier die gender-verandering van haar eie adolessente dogter na ’n seun. Dit bestaan onder meer uit onderhoude wat sy van 2016 tot 2019 met hom gevoer het, waarin hy openhartig praat oor sy soeke na identiteit. Die prent handel ook oor haar struikelblokke in die aanpassing by die nuwe lewensituasie en die veranderinge in haar kind. Die regisseur is die verteller van die prent.

Onder die kortprente staan ’n animasieprent uit wat die lewensverhaal van die Zoeloe-koning Tsjaka uitbeeld.

Shaka iNkosi YamaKhosi is geregisseer deur Manzini Zungu en Nick Cloete, en dien as ’n ode aan die monarg wat die Zoeloes se militêre leër opgebou het tot ’n onstuitbare mag.

Die effek van die inperking op jong mense word uitgebeeld in die kortprent van Dewun Owusu getiteld Lockdown Lunch Club. Dit is in Langa in Kaapstad verfilm.

Rolprentgangers kan ook uitsien na onder meer vertonings van Peeter Rebane van Estland se Firebird, ’n liefdesverhaal wat in die Koue Oorlog afspeel, Spanje se bonatuurlike gruwelprent Red Moon Tide van die regisseur Lois Patiño en Binti van Seko Shamte van Tanzanië, wat fokus op vier vroue se lewe in die moderne Dar es Salaam.

Onder die dokumentêre tel die Mzansi in the Time of Covid-19-projek, wat bestaan uit vier dokkies oor die impak van Covid-19 op Suid-Afrikaners; Dieudo Hamadi van die Demokratiese Republiek die Kongo se Downstream to Kinshasa, oor oorlogsveterane op soek na vergoeding vir hul ontberinge; die kosdokkie The Recipe for Balance deur Óscar Bernàcer, wat handel oor die bobaassjef Ricard Camarena; en Postcard van die Marokkaanse rolprentmaker Asmae El Moudir, wat fokus op haar ma se verlede en keuse om die dorpie waar sy grootgeword het te verlaat.

Programme vir skole en gemeenskappe in Durban en omringende gebiede is nog in die vooruitsig danksy die Isiphethu-program.

Nog rolprenttitels sal mettertyd bekend gemaak word. Die program is binnekort beskikbaar by www.durbanfilmfest.com. Die prente kan ook van 22 Julie op die webblad gekyk word. Die fees word georganiseer deur die Universiteit van KwaZulu-Natal se Sentrum vir die Kreatiewe Kunste. – Saamgestel deur Laetitia Pople met bykomende bronne BBC.com, The British Blacklist en imdb.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.