Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
'Dis blote pornografie', hoor hof
’n Skermgreep van ’n toneel uit Inxeba. Foto: Facebook

Die Rolprent- en Publiekasieraad (RPR) het Woensdag voor die hooggeregshof in Pretoria aangevoer dat die opspraakwekkende rolprent Inxeba (The Wound) pornografies is.

Adv. Viwe Notshe SC sê die RPR vind veral aanstoot oor ‘n “eksplisiete” toneel waarin dit duidelik is dat twee mans besig is om anale seks te hê.

Regter Joseph Raulinga, wat ook die fliek gekyk het, sê die betrokke toneel is nie grafies nie, omdat geen geslagsdele gesien kan word nie. Notshe sê kykers kan egter ‘n man se kaal boude sien terwyl die seksdaad nageboots word en die seksuele daad kan werklik of gesimuleer wees.

Raulinga sê hy besluit nog of dit werklik nodig is vir beide die RPR en hulle appelraad om die hofverrigtinge by te woon.

Raulinga sê dit is moeilik om ’n beslissing hieroor te maak omdat al die partye geakkommodeer moet word.

“Jy sit hier met twee staatsentiteite wat met mekaar koppe stamp,” sê Raulinga. “Ek sal moet besluit of julle hier toegelaat moet word of nie, sodat ons nie ons tyd mors nie.”

Raulinga sê hy het na die fliek gekyk om hom met die saak vertroud te maak. Hy het drie sekstonele daarin gesien.

Die RPR het die fliek ’n ouderdomsbeperking van 16 vir seks en naaktheid opgelê, maar die appèltribunaal het besluit om dit tot 18X te verhoog.

’n 18X-beperking beteken dat die fliek slegs deur ’n lisensiehouer van ’n sekswinkel vertoon of versprei kan word, en die fliek is gevolglik aan fliekteaters onttrek.

Inxeba se vervaardigers wil hê die hooggeregshof moet die ouderdomsbeperking na 16 verlaag.

Adv. Viwe Notshe, wat die appèltribunaal verteenwoordig, sê die RPR is daar om die aansoeker (die vervaardiger) te ondersteun en die saak het niks met hulle uit te waai nie.

“Hulle het geen belang in hierdie saak nie. Dit is nie hul besluit wat hersien moet word nie,” sê Notshe.

Die plakkaat van die rolprent Inxeba (The Wound).

Hy sê die RPR is die pad byster en Raulinga moet aan hulle rigting gee.

Adv. Dali Mpofu, wat namens die kongres vir tradisionele leiers van Suid-Afrika (Contralesa) en The Man and Boy Foundation optree, sê hulle verteenwoordig lede van die publiek wat gegrief is.

“Hulle het na die RPR gegaan en is na die appèltribunaal verwys. Ons sit hier met ’n faksiegeveg oor wie hier moet wees,” sê Mpofu.

Hy het die geskil tussen die RPR en sy appèltribunaal as “totale skisofrenie” en ’n verleentheid beskryf.

Adv. Steven Budlender, wat die vervaardigers en verspreiders van die fliek verteenwoordig, sê die enigste vraag wat van belang is, is of die appèltribunaal die korrekte prosedure ingevolge wetgewing gevolg het met die klassifikasie van die fliek.

Die toets is nie of sommige mense deur die fliek geskok is nie, en geen lid van die publiek kan teen die klassifikasie van ’n fliek kapsie maak nie, sê Budlender.

Raulinga het voorgestel dat die drie sekstonele uit die fliek gesny word, waarop Budlender geantwoord het dat die hele fliek wentel om ’n verhouding wat sekstonele bevat en dat dit die fliek se “buitengewone einde” sal ruïneer.

Hoewel daar sekstonele in die fliek is, is dit beslis nie pornografies of grafies van aard nie en is die tonele nie vir “erotiese sensasie” ingesluit nie, sê Budlender.

Adv. Gilbert Marcus, wat die Right2Know-veldtog verteenwoordig, sê vryheid van spraak is veral belangrik waar dit by opspraakwekkende kwessies kom.

Volgens hom doen Inxeba nie afbreek aan enige kultuurgroep nie, maar poog dit eerder om gesprek oor kulturele gebruike te stimuleer.

Lees ook hier.

Meer oor:  Hooggeregshof  |  Inxeba
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.