Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Domino’s val vir films in teaters

Terwyl fliekteaters gesluit bly en min nuwe flieks vrygestel word, word nuwe reusetreffers nie gebore nie en maak ou treffers, soos Jurassic Park en Jaws, opnuut weer geld.
Is rolprentteaters gedoem om voortaan net ’n vertoonvenster vir ‘blockbusters’ te wees?, vra Dawie Boonzaaier.

Die somerfliekseisoen in die VSA is amptelik dood.

Met die aankondiging die afgelope week van produksiemaatskappye dat nuwe flieks soos Mulan en A Quiet Place Part II hetsy “onbepaald uitgestel” is, of eers volgende jaar sal begin wys, is die skrif aan die muur: die somer-reusetreffer (summer blockbuster) gaan nie vanjaar bestaan nie.

Enige noemenswaardige flieks sal tien teen een eers einde Augustus in die VSA begin wys, mits die land se koronavirusgevalle begin afneem.

Maar gegewe dat die rolprentreus Paramount nie eens meer gemaklik is om Top Gun: Maverick oor Kersfees uit te reik nie, moet ons nie verbaas wees as die fliekmark eers weer volgende jaar herstel nie.

Ondenkbaar: ’n Somer sonder ’n reusetreffer

Vanjaar sal dus die eerste keer wees sedert Steven Spielberg se Jaws op 20 Junie 1975 die heel eerste reusetreffer geword het deur oor die $400 miljoen te verdien met ’n begroting van onder $9 miljoen, dat ons nie ’n fliek in die Amerikaanse somerseisoen sien wat miljoene dollars inryg nie.

Verlede naweek se topverdiener by die loket was Dave Franco se debuutriller, The Rental, wat altesaam $651 201 verdien het by die bietjie teaters, meestal inryteaters, wat in die VSA oop is. Dit is 99,6% minder as die $155,6 miljoen wat The Lion King verlede jaar in dieselfde naweek verdien het.

Laas wat die topverkoperfliek vir ’n naweek aan die einde van Julie minder as The Rental verdien het, was in 1978 met National Lampoon’s Animal House – wat maar $276 538 verdien het.

‘Jaws’ het weer byt

Watter flieks het dan geld gemaak by die inryteaters in die VSA terwyl ons almal probeer vermy om mekaar siek te maak?

Sedert die VSA vanaf 20 Maart heeltyd op een of ander vlak ingeperk is, was flieks soos Jurassic Park (1993), Star Wars: The Empire Strikes Back (1980), Ghostbusters (1984) en E.T. the Extra-Terrestrial (1982) almal op een of ander tydstip wéér die topverkoperfliek gewees.

Terwyl fliekteaters gesluit bly en min nuwe flieks uitgereik word, word nuwe reusetreffersnie gebore nie en maak ou treffers, soos E.T. the Extra-Terrestrial, opnuut weer geld.

Die feit dat dié ou films topverkopers is, terwyl nuwe rolprente steeds uitgereik word, voorspel niks goed vir teaters nie.

Kyle Buchanan, rolprentresensent vir The New York Times, skryf onlangs dat die film­bedryf klaar op ’n afgrond was.

“Belangrike dele van die filmkalender – waaronder die somer-reusetrefferseisoen is in wanorde gegooi, en in hul afwesigheid kan die kloof tussen stromingsdienste en die teaterervaring net verder vergroot.”

Boonop moet ’n mens vra, gaan rolprentteaters eindelik net die teelaarde word vir reusetreffers?

Martin Scorsese, Spike Lee en David Fincher, drie van die grootste lewende regisseurs van alle tye, se jongste rolprente is of gaan almal op Netflix uitgereik word.

Nou kos dit jou net R100-intekengeld per maand vir jou én jou meisie om Fincher se eerste fliek sedert 2014, Mank, in Oktober op die rusbank te kyk.

Videokassette, televisie en DVD’s het nie die einde van fliekteaters teweeggebring nie. Niks kan die ervaring van ’n fliek op die grootskerm vervang nie.

Kyk, dis maklik om te verstaan hoekom ouens soos Scorsese en Fincher hul flieks nou deur Netflix laat maak. Scorsese erken openlik dat The Irishman nie sonder Netflix sou gebeur het nie, aangesien hy vir “jare misluk het om genoeg geld te kry om die film te maak”.

“(Netflix) het op die ou end die fliek ondersteun en dit gefinansier, hulle was kreatief belyn met ons, daar was geen inmenging nie,” het Scorsese gesê.

Vir Netflix maak dit finansieel sin. Meer as 27 miljoen mense het daarna gekyk in die eerste week wat die fliek uitgereik is. Dit is amper ’n vyfde van hul 150 miljoen wêreldwye intekenaars.

Vir my is dit egter tragies dat ’n mens nie hierdie briljante fliekmakers se werk op die grootskerm kan gaan kyk nie. Dis amper soos om vir iemand te probeer verduidelik hoe vinnig Usain Bolt is, maar al wat jy tot jou beskikking het is die kykweer-funksie in stadige aksie.

Teaters én VOD

The Irishman is eindelik ook in teaters uitgereik, maar het net $8 miljoen verdien omdat verskeie teaters geweier het om dit te wys. Hulle was nie te vinde daarvoor om direk met Netflix en mense se rusbanke mee te ding nie.

Die pandemie het dié geveg vererger.

Trolls World Tour, ’n fliek met ’n begroting van $90 miljoen, was veronderstel om op 10 April te begin wys. In plaas daarvan om dit uit te stel tot volgende jaar, besluit die verspreiders, Universal Pictures, om ’n kans te waag deur die fliek op VOD (video on demand) uit te reik. Dis soortgelyk aan BoxOffice op DStv, jy betaal eenmalig om die fliek vir ’n sekere tydperk te kyk.

En siedaar, daar verdien dit uiteindelik $95 miljoen op hierdie platform. Bygesê, dit was in die tyd dat almal en sy hond by die huis moes bly, maar ewe skielik lyk dit nie meer onmoontlik vir flieks om groot geld buite teaters te verdien nie.

Jeff Shell, uitvoerende hoof van Universal, waag dit selfs om te sê dat flieks in die toekoms gelyktydig in teaters en op VOD uitgereik kan word. Die gort is gaar.

AMC Theatres, een van die grootste rolprentteatermaatskappye in die VSA, skort summier hul verspreiding van Universal Pictures se films op. Die twee kon eindelik vroeër die week tot ’n vergelyk kom, maar nie tot een wat VOD gaan benadeel nie.

Universal Pictures se flieks sal nou 17 dae nadat dit in die teater gewys het, op VOD beskikbaar wees.

Nog ’n spyker ingekap.

Waar laat dit ons?

Suid-Afrika se fliekteaters is in Maart toegemaak, en alhoewel die regulasies onder vlak 3 van die inperking toelaat vir fliekteaters om oop te maak, is almal steeds toe.

Die bedryf vergader weer môre om die pad vorentoe te bepaal.

Volgens Walter Gelderblom, woordvoerder vir Nu Metro, is alles gereed op ’n operasionele grondslag en is hulle gereed om flieks te begin wys: “Maar, spesifieke detail oor hoe en wanneer ons beslis gaan heropen, moet nog bevestig word – insluitende finale inligting oor die voorkomende protokols in teaters om fliekgangers en ons personeel veilig te hou.

Belangrike dele van die filmkalender – waaronder die somer-reusetrefferseisoen is in wanorde gegooi, en in hul afwesigheid kan die kloof tussen stromingsdienste en die teaterervaring net verder vergroot.

“Ons is tans gewikkel in gesprekke via ’n bedryfskomitee (wat Nu Metro, Ster-Kinekor en ander rolspelers insluit) om ons heropeningsplanne as bedryf te koördineer – dit sluit voorleggings aan die regering in vir goedkeuring van ons protokol vir gesondheid en veiligheid, asook vrae oor die huidige perk van 50 persone (wat finansiële risiko’s inhou vir groot teaters met 200 of meer sitplekke) en die daaglikse aandklokreël wat ’n impak gaan hê op ons hoofvertonings om 20:00 en die getal vertonings per dag beperk.”

’n Groot faktor is ook die beperkte getal nuwe films wat op die oomblik beskikbaar is, waarsku Gelderblom.

“Nu Metro verkies om die jongste films te wys, maar sal ouer, klassieke treffers en ander gewilde, onlangse flieks, wat alreeds vertoon het, wel oorweeg.”

Gevra of daar nie ’n vrees is dat reusetreffers nou meeste kleiner flieks na die stromingsdienste kan laat vry nie, sê Gelderblom hulle sien nie hierdie tendens as ’n bedreiging nie.

“Videokassette, televisie en DVD’s het nie die einde van fliekteaters teweeggebring nie. Niks kan die ervaring van ’n fliek op die grootskerm vervang nie.”

En tog, sedert 2019 het Netflix al twee Suid-Afrikaanse films vervaardig en uitgereik. Shadow in 2019, en vanjaar die gruwelfliek 8. Ook Showmax wil nie die aksie misloop nie. Die Suid-Afrikaanse gruwelprente Parable en Rage is albei vanjaar op dié stromingsdiens uitgereik.

Flieks links en regs uitgestel

Dit lyk darem of Christopher Nolan, van Dunkirk- en Inception-faam, se Tenet steeds op pad fliekteaters toe is.

Daar is die afgelope week selfs afgekondig dat Tenet in ander lande sal begin draai voordat dit in die VSA uitgereik word. ’n Datum moet nog plaaslik bevestig word.

Ongelukkig is daar ook die week bevestig dat Aaron Sorkin se The Trial of the Chicago 7 slegs op Netflix uitgereik sal word.

Scorsese, Lee, Fincher én Sorkin.

Soos Buchanan skryf, die enigste ding wat nou seker is, is dat daar nog baie domino’s gaan val.

Meer oor:  Rolprentteaters  |  Inryteater  |  Flieks  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.