Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Donker komedie pas reg in sy kraal
Die regisseur Quentin Krog

Dit is lekker om dít sy werk te noem – “die orkestrasie agter die vertelling van ’n vermaaklike storie met interessante karakters in ’n fiktiewe wêreld”.

Quentin Krog is die regisseur van die aksiekomedie Ander mens, met Bennie Fourie waarmee die agtste kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai Saterdagaand afgesluit word.

Al was sy hoofvak toneelspel destyds aan die Universiteit Stellenbosch se dramadepartement, was dit regie wat hom getrek het. Hy het met redigering-sagteware op sy rekenaar begin speel en vandag kan hy die regie van ’n heel paar uitskietprente agter sy naam skryf: Ballade vir ’n enkeling, Die boekklub seisoen 1, Vir die voëls en Thys en Trix.Ander mens is sy vierde vollengte prent en soos gebruiklik verskyn hy in ’n kamee – die kans om nog te speel laat hy nie verbygaan nie, skerts hy. Hy is ook te sien in ’n kamee in Dominee Tienie, wat ook op die fees wys.

’n Rolprentprojek begin altyd vir hom by die storie of dan draaiboek. Ander mens is ’n verwerking van die skrywer Zirk van den Berg se gelyknamige roman – van den Berg het die kykNET Rapport-prys daarvoor gewen.

“Ek spandeer die grootste deel van my voorbereiding om die draaiboek op ’n soliede basis te kry. As ek weet wat die storie gaan verg, kan ek my behoeftes duidelik aan almal kommunikeer. Met Ander mens wou ek ’n balans tussen donker komedie en spanningsvolle drama en aksie kry. By verre is my gunsteling-genre steeds donker komedie.”

Sy eerste indruk van die roman wat hy, Herman Binge en Sean Daniels verwerk het – was dat daar nie juis donker komedie in was nie.

“Dit was baie ernstig en dramaties. Na baie werskaf met my mede-draaiboekskrywers kon ons dit filmies maak – ons het dit ontwikkel in ’n storie wat die potensiaal het om iets te wees soos die Coen-broers ontmoet The Godfather – maar in Afrikaans.”

In die prent beleef die akteur Bennie Fourie (Vuil wasgoed) omtrent ’n gedaantewisseling.

Ja-nee, Bennie het die rol van ’n bierpens-bleeksiel baie ernstig aanvaar – en hy het geëet wat ’n mens liefs nie moet eet nie! Baie van die akteurs (Tim Theron, Roeline Daneel, Frank Opperman, James Borthwick) in die prent is hul eerste keuses vir die rolle. Ons het nie oudisies vir die prent gedoen nie en maande voor die tyd begin onderhandel vir die hoofrolle.”

Bennie Fourie in die donker komedie Ander mens waarmee vanjaar se kykNET silwerskermfees afsluit.

Hy meen die gehalte rolprente raak elke jaar net beter en beter. “Die standaard is hoër en die talent uitstekend.”

Vanjaar het al ses rolprente op die Silwerskermfees wat in kompetisie draai, mans as regisseurs.

Dink hy daar word genoeg gedoen om die wanbalans in verteenwoordiging reg te stel – tans het ons somer drie swaeltjies; Sara Blecher, Hanneke Schutte en Nosipho Dumisa?

“Ons kan steeds meer doen om ons verteenwoordiging beter te balanseer. René van Rooyen is ook ’n groot talent – ek sien uit na haar rolprentverwerking van Dalene Matthee se Toorbos.”

Sy mede-regisseur op die tweede reeks van Die Byl is Liezl Spies, nog ’n vroulike talent wat hy glo dopgehou moet word.

Dit was Ridley Scott se The Gladiator wat in sy laat tienerjare op hom ’n indruk gemaak het. “Tot vandag kan ek nie sê wat dit was nie – behalwe dat ek terselftertyd vermaak, geïnspireer en aangeraak was.”

Toe hy jonger was het hy graag na Spielberg se prente soos ET, The Goonies en Jurassic Park gekyk.

“As die enigste kind was rolprente en televisie my gunsteling-babawagter. Ek hou van die ontsnapping van rolprente.” Vandag volg hy graag die loopbane van regisseurs soos Chris Nolan, David Fincher en steeds Spielberg.

Dan werk hy aan die tweede televisiereeks van Die Byl, gegrond op baasspeurder Piet Byleveld. Hy vind dit geweldig uitdagend om ’n televisiereeks te maak.

“In vergelyking met rolprente is die tyd minder, die geld is minder, die toerusting en die span is minder – die werk is egter meer en jy moet heeltyd aanpassings maak. Jy moet iets skep wat lyk asof jy al die tyd in die wêreld gehad het, wat kan vergelyk word met ’n uitstekende prent. Dit is nie maklik nie.”

Al sy vrye tyd spandeer hy saam met sy gesin – sy vrou Dominique en twee kinders Hannah (4) en John (3).

Meer oor:  Bennie Fourie  |  Kampsbaai  |  Flieks  |  Silwerskermfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.