
Asanda Biyana is die projekbestuurder van die Episodic Lab.
As jy al jou hand aan ’n draaiboek vir ’n reeks wou waag, is daar nou ’n gulde geleentheid.
Die Realness-instituut, wat die werk van Afrika-skrywers en storievertellers bevorder om ’n lewenskragtige rolprentkuns op die vasteland te vestig, is op soek na draaiboeke van aspirant-draaiboekskrywers vir hul jongste projek bekend as Episodic Lab, wat saam met die internasionale stromingsdiens Netflix aangebied word.
Draaiboekskrywers van Suid-Afrika, Kenia en Nigerië met “oorspronklike stories” kan nader staan. Net skrywers van dié drie lande word genooi omdat Netflix op die lande fokus in hul African Originals-onderneming.
Die Episodic Lab sal aanlyn aangebied word van 1 Junie tot 31 Augustus 2021. Gekose skrywers sal werk om hul voorstelstories te ontwikkel en ook in die laboratorium leer hoe om hul idees voor te lê aan vervaardigers.
Ses skrywers sal gekies word om drie maande in ’n sogenaamde “skrywerskamer” deur te bring waar hulle nou sal saamwerk met ’n draaiboekkonsultant en ’n vervaardiger om hul idees te ontwikkel in ’n professionele voorlegging. Benewens die kreatiewe opleiding, gaan die skrywers ook terugvoer kry oor die ontwikkelingspan van Netflix Originals.
Asanda Biyana, projekbestuurder van die Episodic Lab, sê in ’n verklaring ’n reeks gee skrywers die geleentheid om groter wêrelde en stories met meer tekstuur te skep.
“Daar word geen beperking gestel op wat voorgelê word nie, ons glo dat ons groot skrywers gaan vind, danksy die ongelooflike talent op die vasteland en ons vermoë om stories te vertel.”
’n Toelaag van $2 000 per maand sal aan die deelnemers betaal word om hul basiese lewenskoste te dek sodat hulle al hul aandag aan hul skryfwerk kan gee.
Aan die einde van die Lab gaan elke skrywer die kans kry om hul voltooide produk aan Netflix voor te lê. As Netflix nie die projek aanvaar nie, behou die skrywer die regte. Die skrywers moet nie reeds saam met ’n regisseur of vervaardiger werk nie.
• Die skrywer moet rolprent- of televisie-ervaring hê.
• Die skrywer kan in enige genre skryf.
• Hulle moet in Engels kan werk en kommunikeer (die storie kan egter wel in ’n plaaslike taal wees, maar moet vir die Lab vertaal word).
• Die storie moet in Suid-Afrika, Kenia of Nigerië afspeel.
• Geen vervaardigers of regisseurs mag verbonde wees aan die draaiboek nie; en
• Mense wat inskryf moet ’n bedrag geld betaal vir voorlegging.
Aansoekvorms en ander besonderhede is beskikbaar by www.realness.institute/episodic-lab-application. Die sperdatum vir aansoeke is 31 Januarie.