Ds. Tienie Benadé preek Saterdag oor hoop midde-in die Covid-19-pandemie.
Hy doen dit in die kortfliek Die openbaringe van ds. Tienie Benadé, ’n verwerking deur Dana Snyman van sy gewilde solostuk Die klaagliedere van ds. Tienie Benadé.

Frank Opperman in die kortfliek 'Die openbaringe van ds. Tienie Benadé'.
Geen gemeentelid kan weens die inperking die erediens bywoon nie, maar ds. Tienie verfilm homself op sy selfoon.
Frank Opperman dra weer die toga van dié predikant wat teatergangers in 2014 leer ken het. “Ek dink ons het dit op vlak 3 van die inperking geskiet,” sê Opperman.
Ds. Tiene stap die kerk binne met ’n masker waarop sy naam in hoofletters pryk.
Hy haal die masker af sodra hy begin om met die gemeente te praat.“Dit sal interessant wees om mense se reaksie te hoor,” sê Opperman.
“Dit is nou al ’n ruk gelede geskiet. In daardie tyd het dit oor die angstigheid gegaan wat mense tóé ervaar het. En die maatreëls was toe nog strenger as nou.”
“Ek sou glo die storie (in die kortfliek) is ’n hoopvolle een.”
Dit is die laaste fliek met Gerrit Schoonhoven as regisseur voordat hy onlangs aan kanker dood is.
“Ons drie (Opperman, Snyman en Schoonhoven) het besluit ons wil die onderwerp aanraak,” sê Opperman.
“Ons wou dit oorspronklik stream, soos wat met baie produksies in daardie stadium gemaak is, maar nou word dit op televisie uitgesaai.”
Ds. Tienie begin die erediens, terwyl sy hond, Moses, op die kansel se trappe te sien is. Hy is nou al ’n ruk alleen in sy huis, want sy vrou is in Namibië by haar pa, en albei sy kinders is reeds uit die huis. Gemeentelede kan boodskappe aan hom stuur en hy lees dit voor en hy ontvang ook ’n stemnota.
“Ek sou glo die storie (in die kortfliek) is ’n hoopvolle een.”
Benewens die kortfliek en die gewilde solostuk is ’n rolprentweergawe, Dominee Tienie, met Sallas de Jager as regisseur in 2019 landwyd uitgereik.
• Die openbaringe van ds. Tienie Benadé word Saterdag om 19:15 op fliekNET (DStv-kanaal 149) uitgesaai.