Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Durban-fees sê nee vir Israeliese rolprente

Die bestuur van die internasionale rolprentfees in Durban (Diff) – die oudste en grootste rolprentfees in Afrika – het bekend gemaak dat hulle doelbewus vanjaar Israeliese rolprente op hul program uitgesluit het.

Die fees se bestuur het dié streep in die sand getrek nadat die dekade lange konflik tussen Israel en Palestina vroeër vandeesmaand opgevlam het.

Netwerk24 het berig dat die ergste konflik in jare tussen Israel en Palestynse militante op 10 Mei uitgebreek het weens onder meer die Israeliese regering se poging om vier Palestynse gesinne in Sjeg Djarra in Oos-Jerusalem uit hul huise te dwing. Dit het ’n ou geskil oor die regmatige eienaars van dié grond laat opvlam en eindelik tot ’n gewelddadige stryd gelei wat die lewe van meer as 200 Palestyne, onder wie 66 kinders, en sowat 13 Israeliese burgers geëis het.

Dié bloedbad het wêreldwyd kritiek uitgelok. Benewens die menseregteorganisasie Human Rights Watch (HRW) wat Israel van misdade teen die mensdom, meer spesifiek apartheid en vervolging, beskuldig het, het ook Diff se bestuur hul voet neergesit.

Luidens ’n mediaverklaring wat Maandag uitgereik is, beywer Diff se organiseerder, die sentrum vir skeppende kunste (CCA) van die Universiteit van KwaZulu-Natal, hom vir die bevordering van maatskaplike geregtigheid en demokrasie. Hulle is ook “onwrikbaar gekant” teen enige vorm van rassisme en diskriminasie; daarom wil hulle luidens die verklaring hul “solidariteit met die inheemse bevolking van Palestina betoon”.

“Internasionale solidariteit het ’n kritieke rol gespeel in die aftakeling van apartheid in Suid-Afrika én dit het die onderdrukte swart meerderheid se struggle gesteun.

“Duisende kunstenaars met gewetensbesware wêreldwyd, ook hier in Suid-Afrika, het reeds in die openbaar ’n boikot teen Israel se aandadige kultuur gesteun, wat ons herinner aan die betekenisvolle solidariteit wat tydens apartheid aan Suid-Afrikaners getoon is.

“Ons het daarom besluit om nie enige rolprente wat deur apartheid-Israel vervaardig of gefinansier is, of van instellings wat hulle ondersteun, (op die fees) te vertoon nie.”

As ’n rolprentfees wat rolprentvervaardigers én gehore bedien, sou dit agterlosig wees om die besluit nie goed te deurdink nie. Dit was nie ’n maklike besluit nie.

Dr. Ismail Mahomed, die CCA se hoof, en Chipo Zhou, Diff se kurator, het gesamentlik per e-pos aan Netwerk24 gesê die besluit is nie ligtelik geneem nie. Hulle het Israeliese rolprentvervaardigers wat vir die fees ingeskryf het, soos Yakie Ayalon, persoonlik van hul besluit ingelig voordat hulle hul verklaring uitgereik het.

“As ’n rolprentfees wat rolprentvervaardigers én gehore bedien, sou dit agterlosig wees om die besluit nie goed te deurdink nie. Dit was nie ’n maklike besluit nie. Ons het eers met vennote in die bedryf, die span wat ons program saamstel én ons bestuur gekonsulteer voordat ons dit geneem het.”

Mahomed en Zhou het bevestig dat die besluit nie net betrekking het op rolprente wat deur Israel, en instellings wat hulle ondersteun, gefinansier is nie, maar ook op rolprente wat met die land geassosieer word, soos rolprente wat sonder staatsfinansiering deur Israeliese burgers geskep is. Dit beteken egter nié hulle sluit hulle van Joodse rolprente af nie omdat die fees “nie ’n standpunt teen enige godsdiensgroep” inneem nie.

Hulle sê die 2021-feesprogram is gefinaliseer en hul besluit is bindend. Hulle sal hul beslissing jaarliks oorweeg en hulle beskou dit nie as ’n vorm van sensuur nie.

“Die fees se besluit is ’n gewetensbesluit en op die gemeenskaplike waardes van die CCA gegrond, wat menslike waardigheid prioritiseer en onderdrukking teenstaan. Die besluit is nie op grond van die sensorskap van inhoud geneem nie.”

Volgens Herman Wasserman, ’n professor in mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad, is die rolprentfees se besluit “heeltemal verstaanbaar en verdedigbaar”.

“Die staat van Israel steun sterk op kulturele, akademiese en sportprestasies om sy beeld internasionaal te versterk. Dit kan gesien word as ’n vorm van ‘sagte mag’, ’n tipe openbare diplomasie wat die staat se politieke beleid moet rugsteun. Dit is waarom verskeie kultuurorganisasies en universiteite wêreldwyd hulle reeds sterk uitgespreek het teen Israel en soortgelyke boikotte van stapel gestuur het.

“In die lig van Israel se enorme magsvergrype en die skending van menseregte wat internasionaal deur menseregteorganisasies, soos HRW, verdoem is, is Diff se besluit dus heeltemal verstaanbaar en verdedigbaar.”

Hy sê die rolprentfees se besluit moenie verwar word met die “kanselleerkultuur” nie.

“Anders as in laasgenoemde, word die rolprente nie op die program uitgesluit omdat dit iemand ongemaklik maak of affronteer nie, maar as deel van ’n doelbewuste en internasionale strategie om druk op Israel uit te oefen.”

  • Die 42ste Diff vind vanjaar van 22 Julie tot 1 Augustus plaas.
Meer oor:  Apartheid  |  Ismail Mahomed  |  Human Rights Watch  |  Palestina  |  Fliek  |  Flieks  |  Israel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.