SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Flieks
Dwelmstryd ruk aan ouer

Beautiful Boy

Biografiese drama

****

Timothée Chalamet en Steve Carell in ’n toneel uit Beautiful Boy.

Dié treffende fliek vertel die storie van die vernietigende uitwerking wat een mens se dwelmverslawing op ’n gesin kan hê, maar meer nog, dit vertel tot watter uiterstes ’n pa vir sy seun sal gaan.

Beautiful Boy is die ware verhaal van die hel waardeur die skrywer David Sheff is nadat sy tienerseun Nicholas verslaaf geraak het aan crystal meth.

Dit is gegrond op sy boek Beautiful Boy: A Father’s Journey Through His Son’s Addic­tion en Nic Sheff se Tweak: Growing Up on Methamphetamines.

Nicholas (Timothée Chalamet) is Sheff (Steve Carell) se seun uit sy eerste huwelik.

Hy en sy tweede vrou het twee klein kindertjies.

Nicholas begin met dwelms eksperimenteer en toe hy een aand nie huis toe kom nie, besef Sheff daar’s groot fout. Só ontdek hy Nicholas se verslawing en begin die lang proses om hom te probeer help.

Tussendeur is daar terugflitse van toe Nicholas jonger was wat die liefde en sterk band tussen pa en seun bevestig.

Sheff moet al die drade van sy lewe bymekaar probeer hou terwyl hy al hoe meer desperaat word oor Nicholas se toekoms.

Dit is veral hartseer om te sien hoe die kleiner kinders smag na hul ouboet se liefde en aandag, en hoe sy verslawing telkens tussenbeide kom.

Die vraag is of Nicholas sy verslawing sal kan oorkom en of dit die belowende jong man se toekoms heeltemal in die wiele gaan ry.

Carell is, soos altyd, uitstekend en wys weer watter veelsydige akteur hy is. Chalamet se uitbeelding van die worstelende Nicholas beïndruk ook.

Hou maar die snesies byderhand, veral as jy self ’n ouer is, want dié fliek kom ruk jou aan die hart en laat jou wens dat jy jou kinders in watte kan toedraai om hulle te beskerm teen dít wat daar buite op hulle wag, én teen hul eie slegte besluite . . .

  • Met o.a. Steve Carell, Timothée Chalamet en Maura Tierney. Regie: Felix van Groeningen. Tydsduur: 120 minute. Ouderdomsperk: 16 vir dwelms, taal vooroordeel en seks.
Meer oor:  Timothée Chalamet  |  Steve Carell  |  Fliek  |  Fliekresensie  |  Vermaak  |  Beautiful Boy
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.