Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Eindelose plofslae ruk storie aan flarde

Terminator: Dark Fatemet Linda Hamilton en Arnold Schwarzenegger.

Regisseur: Tim Miller 

**

Daar rus ’n hele paar stokou rolprentboude op die ouetehuis se aambei-vriendelike kussings in hierdie potsierlike futuristiese drama. Destyds het ’n robot mos aarde toe gekom om te verhoed dat ’n verlosser-seuntjie gebore word. Dié slag is dit ’n meisie se beurt om deur ’n Terminator gejag te word, en sy moet te alle koste beskerm word.

Hoe onoorspronklik kan Hollywood wees? ’n Paar tam wangbene word gebotox, maar vou soos kreukelpapier op ’n kinderpartytjie inmekaar tussen al die ontploffings, helse vure en tuimelende vliegtuie wat die arme karakters moet oorleef. En ja, Linda Hamilton is terug. Ironies genoeg is sy selfs meer macho as Arnold Schwarzenegger, en dit sê baie.

Wanneer Sarah Connor enkele bitter waarskuwings kwytraak, klink dit asof iemand potte met haar stem kan skuur, terwyl Arnold Schwarzenegger nog meer uitdrukkingloos as tevore is. Hy kry darem kompetisie van klipgesig-robotte, maar wen loshande!

Hoe probeer die draaiboekskrywers om nog lewe in ou robotdrade te blaas? Deur die gedugte Sarah Connor en ’n halfrobot, half-mens, Grace (Mackenzie Davis), ’n jong meisietjie (Natalia Reyes) onder hul vlerk te laat neem en beskerm van ’n robot wat haar van die gras af wil maak.

Dié slag maak die muf storie ’n draai in Mexiko, en word ons na ’n vlugtelingkamp op die grens met Amerika geneem wat wag om deur Trump se muur omhein te word. Daar word kortstondig be-sin oor die getal onwettige immigrante wat op die grens aangehou word, of wat op volgepakte treine klim met die hoop om oor die grens te ontsnap na ’n beter lewe. Maar hoe gemaak as die vlugtelinge teen Trump se immigrasie-amptenare én robotte moet baklei? Die een is so wreed soos die ander!

Dit voel of ’n vlermuis in jou kop rondfladder.

Daar was nie minder nie as agt draaiboekskrywers wat gestalte aan hierdie warboel van idees probeer gee het. Op ’n kol roep Linda Hamilton: “Is jy nog wakker?” waarop iemand in die gehoor geantwoord het: “Beswaarlik!” voordat Arnold Schwarzenegger sy kwinkslag kon inkry en ’n robot-oog kon knip.

Die probleem met die sesde Terminator (alhoewel James Cameron net die eerste twee erken) is die eentonige ontploffings wat mekaar met droefgeestige reëlmaat opvolg. Hoe dikwels kan robotte flenters geskiet word, net om weer op te staan? Ek het by 43 opstandings te verveeld geraak om verder te tel.

Dit is die teater van wrede vernietiging, want ’n kakofonie van ontploffings, metaalagtige musiek en yster teen staal verdrink die verhaal. Magtag, maar dit was vervelig! Daar is nie ’n ordentlike storie van ’n minuut oud nie, nog minder karakters wat as mense registreer. Die robotte is interessanter as die protagoniste!

Dit voel of ’n vlermuis in jou kop rondfladder. Dis die ene geklap van vlerke soos die vampier-gedoente jou verbeelding aan flarde vreet met vragmotors wat dawerend oor snelweë rol en gewere, groter as Trump se ego, wat gate deur metaalagtige lywe ruk, net om argeloos weggegooi te word wanneer ’n groter wapen gerieflik opduik. Maar ook dié wapen blyk nutteloos teen die robotte te wees. So baie masjiene, so min storie!

Aan die positiewe kant het Davis as Grace met bomenslike kragte, genoeg gesag om te registreer tussen die tuimelende geboue, brandende vliegtuie en rollende vragmotors. Hier is ’n sterk vrou wat nie geïntimideer word deur spesiale effekte of groen skerms nie. Selfs Reyes as die heldin wat voor die robotte moet uitvlug, trek darem die aandag weg van die baldadige ontploffings.

Maar die rolprent behoort uiteindelik aan Linda Hamilton en Arnold Schwarzenegger wat, nes ’n paartjie in ’n romantiese komedie, dit haat om van mekaar te hou, en wat volhard met ’n liefde-haat-verhouding wat die tam tonele tussen die aksie vul.

Uiteindelik gee die gehoor moed op. Die lukrake storie vol onwaarskynlikhede, gevul deur ’n oormaat rekenaar-effekte, laat die rolprent uiteindelik sneuwel. Nimmereindigende konfrontasies waarin niemand sterf nie en robotte wat telkens uit vloeibare lood weer saamsmelt om opnuut ’n aanslag op jou oë en ore te maak, raak buite beheer. Slegs aanbeveel as jy verniel wil word deur te veel klank en opruiende, lawaaierige gevegte.

Mag die Terminators nou vir ewig tot ruste kom.

  • Ouderdomsperk: 16GT
Nuwe flieks

Fisherman’s Friends ****

’n Bekoorlike storie word stilweg uitgereik sonder ’n katspoegie reklame. Maar wees verseker, nes Para­site gaan dit jou omklits met sy sjarme en onweerstaanbare ware storie wat ’n mens weer aan die innerlike goedheid van die mens laat glo. Hoe minder reklame hoe beter die fliek! Vissermanne uit Cornwall sing soos hardebaard-engele terwyl hulle visvang. ’n Musiekbestuurder wil vir hulle ’n platekontrak aanbied. Maar daar is struikelblokke. Sang, wat mooier is as wat wesens met harpe tussen die wolke kan voortbring, ’n prentjiemooi dorpie met ’n poeierblou see, en lewensblye karakters, maak hiervan ’n luisterryke fees. Sien dit tot elke prys!

City of Lies ***

Polisiekorrupsie in flieks is so oud soos Edward G. Robinson wat reeds in die 1930’s in vele soortgelyke flieks opgetree het. Johnny Depp is maar ’n liggewig- pierewaaier wat sy spore probeer naloop, maar Depp word darem soms uit sy selfversekerde en verwaande akteurslenterslaap wakker. Wie het die kletsrymers Notorious B.I.G. en Tupac Shakur vermoor? Dié gewelddadige rolprent verskaf antwoorde. Aanbeveel vir misdaadaanhangers.

    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.