Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘ekstasis’ plaas klem ook op ander verhoudings
Marizaan (Mariana del Carmen) en Phella (Inez Robertson) in ’n toneel uit ‘ekstasis’.

“Net omdat die soort liefde nie op skerm uitgebeeld word nie, beteken dit nie dat dit nie bestaan nie. Ons wou die alledaagsheid van queer-verhoudings vier.”

Aan die woord is die skrywer en regisseur Kanya Viljoen en die regisseur Emilie Badenhorst oor hul debuut kortprent, ekstasis, wat binnekort Suid-Afrikaanse rolprentkuns se naam hoog gaan hou op internasionale rolprentfeeste.

Die prent van 35 minute handel oor twee jong vroue se soeke na identiteit en hul teer en intieme ontdekking van mekaar in ’n ontluikende verhouding.

“Dit was vir ons belangrik dat die idee van twee vriendinne wat verlief raak, ook op ’n komplekse en eerlike manier uitgebeeld word.” Soveel te meer wou hulle die prent in ’n Afrikaanse omgewing laat afspeel. Hier is dit die vissersgemeenskap van Velddrif aan die Weskus.

Die regisseurs van ‘ekstasis’ is Emilie Badenhorst en Kanya Viljoen Emilie Badenhorst en Kanya Viljoen (regs)

“Deur dit daar te laat afspeel, ondersoek ons juis die idee van ’n gewelddadige reaksie teenoor LGBTQI+ mense in Afrikanergemeenskappe en -families. Die film is ’n poging tot die normalisering van queer-verhoudings, of die droom dat LGBTQI+-verhoudings nie met geweld begroet word nie.”

Elke verhouding dra kompleksiteite daarmee saam, so ook in LGBTQI+ gemeenskap. “Dikwels val uitbeeldings en narratiewe van die verhoudings vas in die skuiwergat van ’n samelewing of families wat dit nie aanvaar nie. Ons wou graag die lens verwyder en die fokus hou op die skoonheid en kompleksiteit van die jong vroue se verhouding.”

Viljoen en Badenhorst het in Helderberg grootgeword en skoolgegaan. “In ons studentejare aan die Universiteit van Kaapstad het ons al hoe meer bewus geword van vriende wat ’n spesiale verhouding ontwikkel en hoe organies en sensitief die verhouding is. Dit was die inspirasie vir ekstasis. Dit, en ons eie ervarings van ons gesinne en verhoudings naby die see.”

“Ons het die Weskus gekies omdat dit dikwels ’n gebied is waaroor daar nie baie vertel word nie. Die omgewing het ook iets ongelooflik mooi en ryk daaraan, maar soms ook ’n gevoel van verlatenheid en iets wat verlore en vergete raak.”

Die aktrises Mariana del Carmen en Inez Robertson het saam met Viljoen en Badenhorst studeer. Hulle is albei opkomende akteurs en kunstenaars wat in verskeie kreatiewe velde werk. Del Carmen is in die rol van Marizaan te sien en Robertson is Phella.

Die musiek is geskep deur die komponis en klankkunstenaar Jannous Aukema, wat van die liedjies spesifiek vir die prent gekomponeer het. Die klankbaan is ’n kollektiewe poging, vertel Viljoen.

Breyten Breytenbach se gedigte verskyn in die film en het as inspirasie gedien vir baie van die musiek. Daar is musiek wat oorspronklik geskryf is deur Mariana del Carmen en Aukema.

“Dit was vir ons belangrik dat ons instrumente gebruik wat dikwels in Afrikaanse musiek en kultuur gehoor word, soos ’n klassieke kitaar en klavier. Verder wou ons graag die akkoorde amper ‘soos volksliedjies’ hou en daarop bou. Dan is daar ook klassieke musiek gebruik, soos ‘Susa Nina’ wat deur die Lindenkoor gesing word, omdat dit iets was wat bekend aan die kultuur is.”

Viljoen en Badenhorst het pas hul eie maatskappy genaamd Unusual Bones gestig en wil so ’n kreatiewe platform skep vir stories wat nie dikwels vertel word nie. Stories wat poog om die menslike gees in Suid-Afrika te ondersoek.

“Verhale oor mense en die klein, intieme dinge wat met bestaan gepaard gaan. Ons wil rolprente skep wat idees en stelsels om ons bevraagteken, maar ook prente wat onderwerpe ondersoek wat ons as mense saamtrek – soos byvoorbeeld identiteit, taal, liefde en die menslike noodlot om altyd meer te wil soek en meer te wil verstaan.” Badenhorst is reeds bekend om haar musiekvideo’s van onder meer Romeo Elvis, Lolo Zouai en Khalid, asook eksperimentele prente soos Unsex Me en die modeprent Bubblegum. Viljoen is bekend as dramaturg en teaterskepper.

Hulle beskryf Unusual Bones verder as ’n interdissiplinêre werkstelsel vir die vertel van stories in ’n verskeidenheid dissiplines en kreatiewe mediums.

ekstasis is tans vir ’n paar internationale rolprentfeeste ingeskryf. “Ons behoort binne die volgende paar maande te weet of dit daar te sien sal wees. As dit klaar daar vertoon is, is die plan om die prent vryelik beskikbaar te stel.”

Hulle is reeds besig met die navorsing vir hul volgende rolprentprojek en dit is ’n vollengte prent.

Ander spelers is Ilse van Niekerk, Grant Swanby en Andahr Cotton.

Besoek:

https://www.unusualbones.co.za/

https://www.facebook.com/EkstasisShortFilm

https://www.instagram.com/ekstasis_short_film

*Die prent word ondersteun deur die produksiemaatskappye Cream Paris en Couscous.

Meer oor:  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.