Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Ellen gee my vlerke – Levenberg
Jill Levenberg as Ellen Pakkies in die rolprent Ellen, Die storie van Ellen Pakkies.

Toe die aktrise Jill Levenberg, nou in die titelrol in die rolprent Ellen, die Ellen Pakkies storie, dié ma van Lavender Hill ontmoet het, het sy aan Levenberg gesê:

“Moenie worry nie, jy’s gebore om die rol te speel. Ek voel vir jou. Ons verstaan mekaar.”

Dít het haar vlerke gegee, sê Levenberg, want die storie lê haar baie na aan die hart.

Pakkies het haar seun, Abie, wat aan dwelms verslaaf was, in 2007 doodgemaak en haar moordverhoor was gedurende 2007 en 2008. Die rolprent, vervaardig deur Schalk Burger en Paulo Area, vertel haar verhaal.

Levenberg het Pakkies aanvanklik ’n paar keer probeer bel, maar sy kon nie antwoord kry nie.

“Instinktief besluit ek toe om vir haar ’n voice note te stuur. Toe reageer sy. Ek het haar in Lavender Hill, Kaapstad, ontmoet en toe vir middagete by die winkelsentrum in Retreater geneem en ons het lekker gelag, lekker geëet en lekker gehuil. Ons het baie persoonlike stories met mekaar gedeel.”

“Ek het die storie destyds intens gevolg. Baie families het ’n Abie. Ek het gevoel dat ek Ellen verstaan. Ek het soveel deernis met haar gehad. Ek sou nooit kon dink dat ek haar 10 jaar later in ’n fliek sou vertolk nie.”

Levenberg was bereid om enige karakter te vertolk, so graag wóú sy in die rolprent verskyn.

“Ek het vir die regisseur Daryne Joshua (hulle het op die fliek Noem my Skollie die eerste keer saamgewerk) ’n boodskap gestuur dat ek ’n oudisie vir enige rol in die fliek sou wou doen. Ek wou ’n bydrae tot hierdie storie maak. Min wetend dat hy toe eintlik al klaar besluit het dat hy my in die rol van Ellen wou hê.”

Jill Levenberg in die rolprent Ellen, Die storie van Ellen Pakkies.

Joshua het haar nie dadelik geantwoord nie, want hy moes onder meer die groen lig by kykNET en die sepie Suidooster (waarin Levenberg ’n permanente rol vertolk) kry.

Levenberg glo dat dit in God se hand was dat sy vir die rol van Pakkies gekies is.

“Sy inspireer my baie. Sy werk nog steeds in die gemeenskap. Ons het nog steeds kontak. Ek hoop sy word ook geseën deur hierdie proses. Jy weet nie waardeur iemand anders gaan nie, jy staan nie in hul skoene nie.”

Sy het baie tyd met Pakkies deurgebring en baie daaroor opgelees.

Sy en Jarrid Geduld, wat Abie vertolk, het in Lavender Hill baie tyd saam deurgebring.

Geduld het onder meer met vriende van Abie gepraat.

“Ek en Jarrid is ook na die kerk waar Abie se gedenkdiens gehou is. Ek wou die gebou en ruimte voel. In Lavender Hill wou ek die ritme van die plek voel.”

Hoewel Pakkies se storie haar altyd geboei het, het werkverpligtinge en ander omstandighede haar altyd verhoed dat sy Lizz Meiring se toneelstuk My Naam/ Name is Ellen Pakkies kon sien waarin Vinette Ebrahim die rol van Pakkies en Christo Davids dié van Abie vertolk het.

“Ek was baie hartseer dat ek dit nie kon sien nie, maar nou kon ek wel my eie interpretasie na vore bring. Die ervaring hou my nederig. As ek net een mens se denkwyse of vooropgestelde idees hiermee kan verander, is dit vir my goed.”

*Die rolprent word die naweek tydens die internasionale rolprentfees in Rotterdam, Amsterdam, vertoon.

* Dit word in September in Suid-Afrika uitgereik.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.