Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
‘Ellen’ ’n diens aan gemeenskap van Kaapse Vlakte
Daryne Joshua

“Nes ’n dokter wat ’n diens lewer aan sy pasiënte, so lewer ek my diens as rolprentmaker en kunstenaar aan die gemeenskappe op die Kaapse Vlakte.”

So sê Daryne Joshua, regisseur van Ellen: Die Ellen Pakkies-storie, oor dié rolprent wat Woensdagaand die agtste kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai open.

Joshua is die stigterslid van die vervaardigingsmaatskappy, Gambit Films, wat die kykNET-sepie Suidooster vervaardig.

Hy het in 2016 gedebuteer as regisseur met die rolprent Noem my Skollie, wat Suid-Afrika se amptelike inskrywing vir die 89ste Oscar-pryse was.

Ellen is Joshua se tweede vollengte-rolprent.

Daryne Joshua

“Ons is opgewonde om die Silwerskermfees te open. Ek wil hê baie mense moet die rolprent sien,” sê Joshua.

Ellen Pakkies se storie het groot opslae gemaak in 2007 nadat sy aangekla is van moord op haar dwelmverslaafde seun, Abie. Die hofsaak het wyd aandag getrek, nie net plaaslik nie maar ook in die res van die wêreld.

“Mense onthou net die opskrifte in die koerante toe die verhoor gebeur het, maar die rolprent sal die eerlike besonderhede weergee. Hulle sal sien hoe sulke stories elke dag gebeur met moeders en kinders.”

Joshua maak rolprente om mense te inspireer en verandering te bring. Hy glo met sulke stories kan ’n mens die nodige gesprekke begin.

Van links is Jill Levenberg as Ellen Pakkies, Jarrid Geduld as haar seun, Abie, en Daryne Joshua, die regisseur.

“Dis nie ’n ligte fliek nie. Die punt is juis om mense te laat praat oor die kwessies. Veral mense met invloed.

“Dit was dieselfde met my eerste rolprent, Noem my Skollie. Ek kén sulke stories en mense. Ek het grootgeword met hulle.”

Gebeure wat oor ’n tydperk van agt jaar plaasgevind het, moes in ’n rolprent van twee uur ingepas word.

Jill Levenberg, van Suidooster-faam, vertolk die titelrol en Jarrid Geduld speel Abie. Ellen Pakkies het die rolprent gesien en dit dra haar goedkeuring weg.

“Dit was vir haar moeilik om die rolprent die eerste keer te kyk omdat dit so baie herinneringe terugbring. Ons moes dit ’n paar keer stop, maar sy is tevrede met die manier waarop sy en Abie uitgebeeld word.”

Joshua wil mense bewus maak van euwels soos dwelms in gemeenskappe en is reeds in gesprekke met die Kaapse metro om dié rolprent te gebruik as deel van die opvoedingstelsel in skole.

Hoewel hy in ’n later stadium graag ’n komedie wil maak, meen hy dit is nou belangriker dat hy sulke stories na die grootskerm bring.

Ellen: Die Ellen Pakkies-storie word op 7 September in plaaslike teaters uitgereik.

Kyk die lokprent hier: https://www.youtube.com/watch?v=Uf7KoDxGbts

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.