Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Ellen Pakkies trotseer (weer) die verlede
Daryne Joshua, regisseur van Ellen, die Ellen Pakkies storie. Foto: Lindsey Appolis

Die regisseur Daryne Joshua wil met die fliek Ellen, die Ellen Pakkies storie, die ware verhaal oor ’n ma se stryd met haar dwelmverslaafde seun, die sluier lig oor die omstandighede op die Kaapse Vlakte – dít waarvan die mense nie weet nie.

Dié rolprent met Jill Levenberg in die hoofrol word Vrydag uitgereik.

Pakkies het haar seun, Abie, wat aan dwelms verslaaf was, in 2007 vermoor en haar moordverhoor het in 2007 en 2008 plaasgevind.

Die rolprent, vervaardig deur Schalk-Willem Burger en Paulo Areal, vertel haar verhaal.

Die span was vir langer as ’n jaar met Pakkies in verbinding wat haar storie vertel het.

“Die afgelope sowat tien jaar is daar al soveel onderhoude met haar gevoer,” sê Joshua. “Sy het die storie al so baie vertel. Die dele wat vir haar werklik erg was, waar sy baie emosioneel was, was met haar vertellings van Abie voordat hy aan dwelms verslaaf geraak het. Ook van haar eie kinderjare.”

Die navorsing was ’n groot deel van die werk.

Sekere dialoog uit die hofsaak is net so in die fliek opgeneem.

“Uiteraard was die tyd, volume en teks so baie en omvangryk dat ons nie alles kon behou nie, maar ons het die essensie behou,” sê Joshua.

“Daar is wel sekere dele wat woord vir woord net so gebruik is, soos die regter se uitspraak wat onder meer die woorde ‘the system failed you’ insluit.”

Jill Levenberg as Ellen Pakkies.Foto: Lindsey Appolis

Pakkies het die rolprent op ’n private geleentheid gesien.

Dit het haar langer geneem om die fliek klaar te kyk as die ongeveer twee ure wat dit duur. Sekere tonele het haar ontstel.

“Ons wou weet of daar goed is wat ons liefs moet weglaat. Jy weet, daar is sensitiewe tonele. Sy het ’n hele paar keer gehuil, maar sy was baie tevrede met die aanbieding van die fliek in geheel en ons het nie nodig gehad om iets te sny nie.”

Sy was veral bly dat die rolprent ook die Abie wat sy geken het voordat hy by dwelms betrokke geraak het, insluit.

Joshua, wat vir ses jaar aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie rolprentkuns gedoseer het, se eerste rolprent, Noem my skollie, is in 2016 uitgereik.

Ook hiermee wou hy die lewe op die Kaapse Vlakte belig.

Dié rolprent was Suid-Afrika se inskrywing vir die 89ste Oscar-geleentheid in die VSA.

Jarrid Geduld as Abie Pakkies. Foto: Lindsey Appolis

Dit is gegrond op die verhaal van ’n storieverteller wat die tronklewe in die 1960’s beleef het, en sy verhale wat hy aan sy medegevangenes vertel het. Dit is die ware verhaal van die draaiboekskrywer John W. Fredericks en speel op die Kaapse Vlakte en in die Pollsmoor-tronk af.

“Albei hierdie stories het op vreemde maniere oor my pad gekom. Ek is nogal ’n spirituele mens, so ek het half gevoel ek is verplig om hierdie rolprente die lig te laat sien.”

Joshua is nog nie seker oor sy derde rolprent nie. Daar is al ’n paar aanbiedinge en hy skryf aan ’n ding of twee.

Hy het vir albei die bogenoemde rolprente goeie terugvoering ontvang. “Maar mense het ook nou al gesê, vader asseblief, maak met jou derde fliek ’n komedie . . .”

Meer oor:  Daryne Joshua  |  Ellen Pakkies  |  Jill Levenberg  |  Jarrid Geduld  |  Lavender Hill  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.