Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
En hy is wéér terug: ‘Terminator’ is hoogs kykbaar
Arnold Schwarzenegger laat nie met hom sukkel nie in die nuwe aksiefliek ‘Terminator: Dark Fate’.

Loodrobotte en sagte harte – hope aksie en nog ’n bietjie meer. Dit is wat die kyker van Terminator: Dark Fate kan verwag, skryf Marnus Hattingh.

Net genoeg vragmotors wat op die snelweg deur gesinsmotors ploeg, ’n slegte ou wat net nie wil doodgaan as jy loodkoeëls deur hom jaag nie (ja, hy vloei weer in een stuk bymekaar soos ’n gebreekte eier wat stadig na sy dop terugvloei). En natuurlik, ’n handvol “I’ll be back”-opmerkings om enige los drade tussen 2019 en 1984 se eerste Terminator bymekaar te hou.

Arnold Schwarzenegger en sy pikswart Ray-Bans is weer terug in Terminator: Dark Fate vir ’n sesde ronde in dié immergroen franchise om bose Terminator-robotte op te blaas, en dit boonop saam met nog ’n bekende van vorige flieks, Sarah Connor (Linda Hamilton, die ma van die seun wat hy destyds moes red, maar toe doodgemaak het).

Hierdie keer word die harde houe egter uitgedeel deur Grace (Mackenzie Davis), ’n nuwe soldaat-redder wat vanuit die toekoms teruggestuur is aarde toe. Dis ’n oulike kinkel: Waar Schwarzenegger se rol in die verlede ’n klipharde robot-as-mens was wat Terminators gejag het, volg Grace ’n sagter, mensliker aanslag.

Sy is jonk, mooi en vroulik, en is ’n oudsoldaat wie se voosgerukte lyf ná ’n veldslag teen die robotte (in die toekoms, onthou) kunsmatig herbou is. En sommer ’n bietjie frisser gemaak is.

Die storielyn volg die bekende resep. Dani (Natalia Reyes) is ’n jong Mexikaanse meisie wat in die toekoms die hoof van die aarde se weerstandsbeweging is. Om dit te keer, stuur die robotte hul omgeklitsde Rev-9 (Gabriel Luna) terug aarde toe na die tyd waar Dani nog in haar vroeë 20’s is, om dinge te stop nog voordat sy aardlinge in die toekoms van slim robotte kan gaan red.

Maar Dani-in-die-toekoms was self nie so onnosel nie. As rebelleleier in ’n apokaliptiese aarde het sy selwers ’n gatskop Faf de Klerk (Grace) na 2019 teruggepos om haar jong, onskuldige self te beskerm.

Aanvanklik verstaan Dani niks wat aangaan nie. Sy is teësinnig (dié tema word te lank deur die prent uitgerek – iewers moet jy tussen die koeëls besef slegte ouens wil jou dood hê?) en draf net agter ’n beskermende Grace aan terwyl dié die kanniedood-Terminator van hulle probeer weghou.

Dis waar die gawe kinkel inpas. Grace die beskermer is mos half-mens. Sy raak dus ook moeg en moedeloos. Maar wag, gelukkig het die regisseur (Tim Miller) onthou van Arnie en Hamilton, wat ’n robot se blikbrein kan blaas dat jy net lood sien spat.

Die viertal kom bymekaar en besluit om die Terminator vir goed op sy herrie te gee. Hulle makeer net een spesiale geweer wat die nuwe Rev-9 bokveld toe kan stuur, maar dit is in ’n ander dorp. Gaan hulle betyds daar kan uitkom met ’n omgekrapte Terminator op hul spoor?

Die aksie is heerlik om te aanskou. Motors vlieg, die helde probeer in ’n ou bakkie wegjaag (die bakkie breek, dis country-wêreld), en Arnie is nooit sonder ’n pompaksie-wegblaser nie.

Die pas word ook getemper met ’n mymerende oomblik hier en daar: Sarah is steeds vies vir Arnie se rol destyds toe hy haar seun doodgemaak het, en dit lei tot diep gesprekke. Gelukkig, net as sake te ernstig raak, sal Arnie na sy donkerbril gryp of lakonies “I won’t be back” opmerk, om as knipoog te dien na vervloë prente.

Sonder Schwarzenegger en Hamilton se bydrae sou aflewering ses nie naastenby die kykbaarheid gebied het wat Dark Fate nou is nie. Maar nou is hulle daar, en dit werk. Gryp die springmielies, haal af die Ray-Bans, en geniet hoe ’n loodrobot aan flarde geskiet word. Net om weer op te staan. Hei, “I’ll be back” is mos die treflyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.