Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
En wie gaan die dominee dan help?

Dominee Tienie met Frank Opperman en Henriëtta Gryffenberg. Regisseur: Sallas de Jager. 10 – 12 VV T ****

Hy staan elke Sondag op die preekstoel en probeer mense bemoedig. Dra sy boodskap getrou oor. Sit die regte gesig op vir die regte geleentheid. Maar wie is dominee Tienie Benade werklik? Ken mense hom net as dit sleg gaan met hulle? Ook wanneer hulle hom nodig het? Staan sy gesin agter in die gemeentetou as dit kom by sy aandag?

En hoe lank kan hy onder hierdie druk funksioneer voordat sy geloof begin knak?

Ook sy geloof in die mensdom?

Dit is enkele van die vrae wat destyds in die eenmanstuk Die klaagliedere van ds. Tienie Benade gevra is, en wat nou meer pertinent in die rolprent gevra word. Want dit gaan hier om eerlikheid. Hoe lank kan iemand in die bediening staan en sy medemens help voordat hy besef dat hý eintlik hulp nodig het?

Maar wie gaan hom help?

Die verhoogstuk is al honderde kere dwarsoor die land opgevoer, daarom sal baie mense die storie ken en weet wat kom.

Dit is nou as rolprent aangepas wat beteken die ander karakters, soos ds. Tienie se gesin en van die gemeentelede, kry vir die eerste keer ’n stem. Dit gaan nou meer om die verhouding tussen die dominee en sy kudde/gesin.

Die eintlike trefkrag lê in die dialoog en die preke wat ds. Tienie lewer. Die uitgaan op straat en sien wat buite die kerk gebeur. Dinge verval, mense is ook op emosionele vlak haweloos, die druk op die herder raak al hoe groter. Die rolprent verglans nie hierdie elemente nie, hoewel daar tog ’n mate van toeganklike prekery is, want ons vergelyk dominee Tienie, die ware mens, met sy preke.

In daardie opsig kon die rolprent filmies dalk bietjie dieper onder die dominee en sy gesin en gemeentelede se velle ingekruip het, hoewel dit steeds werk en gesien moet word, veral deur diegene wat nooit die verhoogstuk ervaar het nie.

Die sterk punt is Henriëtta Gryffenberg se pragtige onderspeelde vertolking as die emosioneel verkrummelde Ester Benade wat nou, vir die eerste keer, ’n stem kry en praat. Want práát moet iemand praat, soos in die geslaagde toneel waar haarkleur (simbolies van verandering) ter sprake kom.

Hier is die rolprent op sy sterkste. Ook wanneer Tienie met die oorweldigende Johan (gespeel deur Deon Lotz) praat wat met ander motiewe na die pastorie toe kom.

Tog, wat betref die slotpreek (waar die dominee sy hart oopmaak), sou ’n mens minder woorde en meer visuele motiewe of gebeure wou sien soos in die eerste helfte van die rolprent. Die klem moes minder op woorde geval het (soos op die verhoog) en meer op die kamera wat die subteks sterker kon belig.

Dit beteken nie dat die rolprent nie werk nie. Dit bewys net weer dat ons met van die beste akteurstalent in die wêreld sit, en Frank Opperman bereik hier ’n hoogtepunt in sy loopbaan.

Daar is geen gedrae cliché-prekerigheid of dramatiese uitrek van woorde in sy spel nie. Hy práát sy preke, hy lewer hulle nie op deklamerende of verdoemende wyse nie, daarom luister ’n mens na hom. En word dit duidelik dat die kerk begin aanpas en verander, dat gemeentes krimp, dat die boodskap op ander maniere oorgedra moet word. Dat daar meer verdraagsaamheid moet kom veral teenoor die predikant.

Opperman beklemtoon sy frustrasie in sy gesaghebbende en menslike spel, veral op sy gesig, waarop die spore van te veel preke, maar te min persoonlike geluk as gevolg van te veel opoffering duidelik lê – elemente wat in die teks op die spits gedryf word.

Het dié herder van die kudde net ’n skoothond vir sy gemeente geword en ’n slaansak vir hul frustrasies? Dit word kaalkop in Dana Snyman se teks aangepak. Al het jy dus die verhoogstuk gesien, bring die kamera jou nog nader aan die hart van ’n siels­moeë man wat in ’n doodloopstraat beland het.

Die vraag is: hoeveel ander dominee Tienies is daar wat nooit die geleentheid kry om oor hul probleme te praat nie. En selfs al sou hulle praat – wie sal luister?

  • VVT beteken kinders moet deur ’n volwassene vergesel word as gevolg van taal.
Meer oor:  Frank Opperman  |  Fliek  |  Dominee Tienie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.