Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Flieks
Entrepreneur van die silwerdoek

Die beskrywing “entrepreneur” pas die aktrise en vervaardiger Anel Alexander soos ’n handskoen. Sy en haar man, die akteur James Alexander, skep dikwels hul eie werk met hul produksiemaatskappy, Scramble Productions.

Dit blyk hulle leef, dink en droom hul werk en die rolprente wat hulle aanpak – soos Discreet (2008) en Semi-soet (2012).

Alexander se jongste projek, Sink, is weer een waar sy verskillende balle in die lug hou.

Anel Alexander gesels oor die rolprent Sink. Foto: Alet Pretorius

’n Eerste vir Afrikaans

Sink is gekies vir die 40ste Atlanta-rolprentfees.

“Ek dink dis die eerste Afrikaanse rolprent wat daar gaan wys,” sê Alexander.

Dit sal ook in April op die Afrikaanse Kultuurfees Amsterdam vertoon word.

“Met die fliek het ons doelbewus spanning probeer bou. Ons wou iets doen wat nog nie in Afrikaans gedoen is nie. Die onderwerp en temas is anders. Ons het besluit ons soek ’n kunsfliek wat oorsee kan reis.”

Alexander wou haarself ook uitdaag as vervaardiger en ­aktrise.

“Ek is trots daarop dat ons van die begin af geweet het wat hierdie produk is. Ons het probeer om nie ons gehoor intellektueel te onderskat nie, en ook om ruimte te los sodat die gehoor kan besluit: Wat het gebeur? Kortliks gaan die storie oor ’n kind wat sterf. Die ander lae word met die kyk van die rolprent duideliker.

Corine du Toit, Sandra Vaughn en Alexander het saam die teksredigering gedoen. “Ons is al drie akteurs. Jy skryf ’n toneel en jy speel dit uit.”

Brett Michael Innes het die ­roman Rachel Weeping en die fliekteks wat daarop gegrond is, terselfdertyd geskryf.

Tekstuur in die teks

Met ’n boek het jy die luukse van meer inligting bywerk. Maar Alexander-hulle kan die boek se struktuur gebruik en karakters vir die fliek byskryf.

“Ons het besluit om die egpaar Afrikaans te maak, vir ’n klomp redes. Ek is Afrikaans en ons wil die fliek ook kan laat reis as ’n buitelandse rolprent. Afrikaanse rolprente het tegnies en wat talent betref die vermoë om oorsee te reis. Die tekste moet nog net ’n bietjie inhaal.”

Sink handel oor ’n Afrikaanse egpaar en hul Mosambiekse huiswerker, en ’n gebeurtenis wat almal se ­lewe verander.

“Wat as ek net vyf minute vroeër gery het? Wat as ek die foon net twee sekondes vroeër neergesit het. Daai ‘wat as?’, dít is wat ons graag wou wys.”

Aktrise, vervaardiger, uitdager

Alexander beskou haarself as ’n aktrise-vervaardiger. En sou sy by ’n projek betrokke raak, moet sy drie boksies kan afmerk.

Eerstens moet die rolprent vir haar uitdagend wees as aktrise.

“As ek nie my eie flieks maak nie, kry ek baie min die kans om ’n ander soort rol te speel. In ’n sin skep ek uit behoefte.”

Tweedens moet die projek doenbaar wees in ’n Suid-Afrikaanse konteks.

Derdens moet dit ’n boodskap oordra, “sonder om te esoteries te klink”.

Toe Scramble Productions in 2000 begin het, het hulle baie teaterproduksies gedoen. Maar die Alexanders het altyd ’n hart vir flieks gehad. Sy en James was albei voorheen in sepies – sy in 7de Laan, hy in Binnelanders.

“James moes leer Afrikaans praat. Vir my familie, dink ek. Sy ouers is Skots. Aan die begin het hy drie woorde gehad.”

’n Tyd vir afskakel

Die Alexanders stel vir hulself grense, tye wat hulle besluit hulle gaan nie werk praat nie.

“Ek dink ons het op ’n punt gekom waar ons besef ons verhouding is vir ons baie belangriker as enige fliek of sukses. Ons gee ons verhouding voorkeur. Ons sê makliker nee vir goed, wat makliker raak soos jy ouer raak.”

Meer oor:  Anel Alexander  |  Sink  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.